Gauteng-Noordtak - Maandelikse Aanbiedings 2023

Een van die voordele van GGSA-lidmaatskap is die geleentheid om 'n maandelikse praatjie deur 'n kundige spreker te kan bywoon. Die Gauteng-Noordtak is bekend vir die gehalte, professionaliteit en relevansie van aanbiedings oor 'n magdom genealogie-verwante onderwerpe. Navigeer na die video, teks en skyfiesstel van die aanbieding. Die onderwerp reflekteer die taalkeuse van die aanbieding. Vir die opsomming van elke praatjie, lees hieronder. 

  Kliek ✔ vir aflaai
  DATUM       
 SPREKER  ONDERWERP VIDEO
TEKS SKYFIES  CV 
 2023-07-08  Dr Pieter Kruger  Kergeskiedenis: Van Jerusalem tot Pretoria
 2023-06-10  Louis Bester  Bloedrivier: Wonderwerk of Mite?
 2023-05-13  André Buys  Resistance, Tragedies,Refugees and Love
 2023-04- 15  Adrian de Villiers  Generational conservation: using our buildings and objects through time 
 2023-03-11  Sam Basch Vier vlieëniers van Suid-Afrika – hul besondere aandeel in die Tweede Wêreldoorlog 

 2023-02-11  Alta du Buson Roux  Help! Ek is Anders!
AANBIEDINGS VAN VORIGE JARE
 2023  Gauteng-Noordtak - Aanbiedings
 2022  Noord-Transvaaltak - Aanbiedings
 2021  Noord-Transvaaltak - Aanbiedings
 2020  Noord-Transvaaltak - Aanbiedings

Die kerk van Jesus Christus: van Jerusalem tot Pretoria

Dr Pieter KRUGERDr. Pieter Kruger, 08 Julie 2023

Die afstand van Jerusalem tot Pretoria padlangs met ‘n motor is ongeveer 8000 km is en dit sal ongeveer 150 uur neem om dit per motor af te lê.  Dit het die Evangelie amper 1900 jaar geneem om tot in Pretoria te kom.

In die antieke tyd was die kerk ‘n vervolgde gemeenskap en is as ‘n subkultuur beskou.  Aanvanklik is die Evangelie in die destydse Romeinse Ryk asook in Armenië (buite die Romeinse Ryk) verkondig.

Na amper 400 jaar het die kerk in Rome stadigaan geformaliseer geraak en na die bekering van Keiser Konstantyn die Grote is die vervolging beëindig en na sy dood is die Christelike Kerk as enigste kerk verklaar. Op ‘n stadium kom daar skeiding tussen Rome en die Oosterse Ortodokse Kerke met Konstantinopel as setel. 

Na die Renaissance treedie hervormers na vore met Maarten Luther en Calvyn as die grootste invloed.  Kerke versplinter in bv Lutherse, Calvinistiese, Presbiteriaanse en Anglikaanse kerke asook sektariese groepe.

Met kolonialisering versprei o.a. sendelinge die Evangelie aan die inheemse bevolking in die kolonies en word kerke gestig. Die geskiedenis in Suid-Afrika is kortliks bespreek en die praatjie is met die ekunemiese ideaal wat na die Eerste Wêreldoorlog veld gewen het, afgesluit

Beeldmateriaal het die praatjie toegelig.


Bloedrivier: Wonderwerk of mite?

Louis BESTERLouis Bester, 10 Junie 2023

Voor die slag van Bloedrivier is die sterk Voortrekkerleiers dood in onder andere die gebeure by Bloukrans, die moord op Retief en die slag van Italeni. ‘n Sterk leier is in die Kaap gaan soek en Andries Pretorius het hom by die Voortrekkers aangesluit en die manskappe georganiseer deur die aanstelling van kommandante en veldkornette.

Die gewere, die maak van koeëls, hoe buskruit gemaak is, die kanonne en reikafstande van die verskillende wapens is bespreek.

Daar was vee – beeste en skape – en perde in die laer asook al die Voortrekkers en anderskleuriges wat saam op die trek was.  Die vee het nie onrustig geword met die groot lawaai van die geweer- en kanonskote nie.

Die Zoeloes was georden en krygsvernuftig; die Voortrekkers was nie militêr opgelei nie   Die Zoeloes het ‘n baie groot krygsmag gehad en die oorwig was 20:1.

Die Gelofte en die rol van Charl Cilliers is bespreek.

Dit is toegelig met foto’s, illustrasies en ‘n kort videogreep.



Weerstand, tragedies, vlugtelinge en liefde

Andre BUYSAndré Buys, 13 Mei 2023

Vivian Oosthuizen se familieverhaal soos vertel deur Vivian en lede van haar familie. Animasies met MyHeritage Deepstory kunsmatige intelligensie-tegnologie. Vertellings uit dagboeke, briewe, memoires en publikasies

André Buys het Vivian gehelp om die aanbieding d.m.v. kunsmatige intelligensie-tegnologie aan te bied.

Foto’s is d.m.v. animasie gemanipuleer asof hulle hul eie stories vertel.  Dit is aangevul deur foto’s van geskiedkundige gebeure soos die Eerste Wêreldoorlog en die Tweede Wêreldoorlog.

Dit is die verhaal van die Lewinsky-familie en oor die lewe en grootword in Goldap, Oos-Pruise wat later deel van Pole geword het.

Die verhaal word  deur o.a. Vivian se pa en ander familielede, Eric en Eva vertel.

Dit is die verhaal van ‘n begaafde Joodse familie wat van vervolging en swaarkry moes vlug en van hulle is na Suid-Afrika, ander na die VSA en ander weer terug na Duitsland. Van hulle het nie betyds gevlug nie en het in ‘n konsentrasiekamp gesterf.  Eric Lewinsky het na die oorlog ‘n groot bydrae tot die regswese in Duitsland gelewer. Eva, die suster, was aktief in die ISK, ‘n anti-Nazi ondergrondse beweging. Sy is uiteindelik VSA toe waar sy o.a. Einstein en Eleanor Roosevelt om hulp vir die vervolgde Jode genader het.

Dit is ‘n verhaal van mense vol moed en deursettingsvermoë wat mens opnuut in verwondering laat oor die mens se onoorwinlike gees.


Algemene bewaring: ons geboue en voorwerpe deur tyd

Adrian DE VILLIERSAdrian de Villiers, 15 April 2023
Adrian het ‘n oorsig oor bewaring van geboue die afgelope 2000 jaar gegee. Hy het begin deur bewaring aan die hand van die Pantheon in Rome wat ongeveer 20 vC deur Agrippa as ‘n tempel vir die gode gebou is, te verduidelik. Daarna is dit verander en later weer verander. Na ‘n brand is dit feitlik deur keiser Hadrianus herbou. Baie later is dit in ‘n kerk verander en nog later, vroeg sewentiende tot die negentiende eeu is twee kloktorings aangebring. Dit is later verwyder.
Deur die eeue is verskillende denkrigtings ten opsigte van bewaring gevolg. Vandag word daar gepoog om so na as moontlik aan die oorspronklike elemente te bly. By die Akropolis, byvoorbeeld, is die struktuur in die vroeë 1900’s gestabiliseer deur van o.a. sement en staal gebruik te maak. Tans word daar weer aan die struktuur gewerk en die sement en staal moet verwyder word.
Van die denkrigtings oor bewaring is rekonstruksie. Adrian het dit met foto’s van die restourasie van Tulbagh na die aardbewing van 1969 waar daar duidelike voorbeelde van oor-restourasie is, illustreer.
Hy het die teorie van bewaring en restourasie en die rigtings deur verskeie teoretici soos George Gilbert Scott, Camillo Borito en Alois Riegl voorgestaan, bespreek. Gedurende 1964 verskyn die Handves van Venesië en in 1979 die Burra Handves in Australië wat oor retourasie en bewaring handel.
Hy wys ook die argitekplanne van die Uniegebou en foto’s van die pragtige sandsteen. Die Uniegebou is genomineer om as ‘n UNESCO wêrelderfenisgebied verklaar te word.
Hy sluit af deur te sê mens moet nooit ophou om om te gee, aan te raak, skoon te maak en te bewaar nie.

Vier vlieëniers van Suid-Afrika

Sam BaschSam Basch, 11 Maart 2023
Sam vertel die storie van vier Suid-Afrikaners se deelname aan die ontsnapping vanuit Stalag Luft III gedurende die Tweede Wêreldoorlog, 24/25 Maart 1944. Westerse geallieerde lugmagpersoneel is in Stalag Luft III krygsgevange gehou.
Die ontsnapping is in ‘n lokettreffer met die naam The Great Escape weergegee waarin die feite verdraai is om in Amerika byval te vind.
Ses-en-sewentig prisoniers het ontsnap waarvan net drie weggekom het. Die ander is gevang en 50 is deur die SS vermoor.
Die kamp is op sanderige grond gebou om die grawe van tonnels onmoontlik te maak. Majoor Roger Bushnell, ‘n Suid-Afrikaner van geboorte, het die plan uitgedink. Aanvanklik is drie tonnels, Tom, Dick en Harry gegrawe. Die rolle van die Suid-Afrikaners is bespreek asook waar en hoe hulle gevang is.
Die praatjie is ryklik met foto’s en tekeninge geïllustreer.

 


Help! Ek is Anders! (As jy ‘n eeu gelede nie in ‘n boksie gepas het nie)

Alta du Buson Roux Alta du Buson Roux, 11 Februarie 2023

Alta se beginpunt was haar oumagrootjie, Lettie Roux, wat 14 kinders gehad het waarvan 11 vroeg oorlede is.  Hoe hanteer mens die dood van soveel kinders?
Die oumagrootjie se bynaam was later ‘’Mal Let’’. Sonder enige emosionele hulp, empatie en bystand, moes sy elke dag opstaan, dikwels met ‘n swanger lyf, en net aangaan.
Dit is die draad wat deur die praatjie loop – mense wat psigiese en fisiese sorg nodig gehad het, en dit nie gekry het nie.  Die samelewing het dit nie verstaan nie en het nie die kundigheid gehad om sulke mense te help nie. ‘n Ander lid van die familie het 10 kinders binne 10 jaar gehad en almal verloor aan sifilis.  Daar was geen hulp, geen berading nie en die dominee het net gesê; ‘’Dit is God se wil’’.  Ook hy was nie opgewasse en reg opgelei om mense met daardie noodlot te help nie.
Weeskinders is dikwels aan hulle eie lot oorgelaat, mense met demensie is meesal  kranksinnig verklaar. Daar was min inrigtings, dit is swak bestuur en die higiëne het veel te wense oorgelaat.  Mense is opgeneem om hulle uit die samelewing te verwyder en nie om hulle te behandel en hulle toestand te verbeter nie.
Eeue gelede is geglo dat siekte ‘n straf vir die sonde is en daarom is behandeling oorbodig. Priesters moes demone uitdryf – depressie is gesien as swart gal in die liggaam en allerhande metodes is ingespan om van die gal ontslae te raak. Later word skoktegnieke, labotomie en nog ander skrikwekkende metodes gebruik.
Alta het ‘n aantal toestande, waarvoor daar onmenslike metodes gebruik was as behandeling, genoem.
Eers die afgelope 50 jaar is daar noemenswaardige navorsing, verbeterde diagnose en ‘n beter verstaan van toestande was verband hou met depressie.  Instansies wat na mense omsien het baie verbeter en mense word met meer menswaardig behandel.