Ontmoet die Familie Groesbeek

                                                                                                                     Potchefstroom Herald 10 Maart 2016
Die GROESBEEK-familie is 'n relatiewe jong familie in die RSA en die skrywer se soeke na familie en voorsate in Nederland het in 1988 begin. 'n E-boodskap na die webwerf van die Omroep Groesbeek in die Gemeente Groesbeek, Gelderland het gelei tot 'n direkte telefoniese internetradio-onderhoud, maar geen lewende vangenote het kontak gemaak nie.
In 2000 het skrywer 'n Europese toer onderneem waartydens o.a. die saamtrek van Friese nasate in Leeuwarden, Friesland tydens die ‘Simmerfees' meegemaak is. Skrywer se eggenoot is ‘n gebore Groesbeek, en hulle het het tyd ingeruim om Groesbeek (naby Nijmegen, Gelderland) te besoek, maar geen spoor van familie is daar gevind nie. Die Bureau voor Genealogie en die Nationale Argief te Den Haag is besoek en kosbare data m.b.t. drie geslagte terug is binne die bestek van 'n oggend hier gevind te danke aan die goeie diens van die argiefpersoneel. Tydens dieselfde besoek het skrywer bevriend geraak met ‘n navorser en in ruil vir VERMOOTEN-navorsing in die RSA het sy hulp verleen met GROESBEEK-navorsing in Zuid Holland. n Verdere drie geslagte is nagespoor – dus altesaam ses geslagte in die stamland.
Herman Janz GRUYSBEEK (let op spelling van familienaam) en Philippe HEYLAND tree te Rotterdam op 22.03.1711 in die huwelik. Hul seun Philippus GROESBEEK is in 1717 in Rotterdam gebore. Die familie het van ±1738 tot±1790 in Scheveningen, Den Haag gewoon. Die familie verhuis in die vroeë 1790's na Nieuwenhoorn, Zuid Holland, waar die RSA stamvader, Ary/Arie GROESBEEK op 26.11.1834 as die vierde kind van Philippus GROESBEEK (1794-1848), 'n militêre sjirurgyn, & Geertje HOOGHART gebore is.
Die RSA GROESBEEK-stamvader en sy eggenote, Margje RYKAART (1831-1883) is in 1855 te Gouderak, Zuid Holland getroud en ses jaar later het hul met twee seuns, onderskeidelik 6 en 5 jaar oud, saam met ander landverhuisers aan boord van die skip 'Johannes Christiaan' na die Kaap vertrek. Die skip het op 19.12.1861 vanuit Amsterdam, Nederland vertrek en toe op 19.02.1862 in Tafelbaai aangekom. Die gesin het aanvanklik in Pietermaritzburg, Natal gevestig met die vader as godsdiensonderwyser en boer. ‘n Seun, Geert (1862) en 'n dogter, Johanna Christina (1866) is in dist. Pietermaritzburg gebore. Die gesin het na die dist. Middelburg, Transvaal verhuis, want nog 'n seun, Simon, is in 1871 in die NG Kerk Nazareth te Middelburg gedoop. Na die eggenote en 52-jarige moeder se afsterwe te ‘Kromdraai', dist. Middelburg op 26.08.1883 verhuis die familie na dist. Heidelberg, Transvaal waar die seuns saam met hul vader ‘n handelsonderneming en boerdery bedryf. Arie het op 16.06.1884 te Pretoria met 'n weduwee Meintjes, Johanna Cornelia geb WALDECK in die huwelik getree.
'n Brief van die stamvader aan sy Nederlandse familie in ongeveer 1894 het 25 jaar na skrywer se speurtog begin het in haar besit gekom. Die feit dat skrywer 'n kopie van haar manuskrip oor die GROESBEEK-familie in 2000 aan o.a. die Bureau voor Genealogie in Den Haag geskenk het, het Corrie ANEMA geb GROESBEEK, ‘n dogter van 'n voormalige hoofargivaris van Noord-Holland, Willem GROESBEEK, in Junie 2013 op haar spoor gekom. Corrie het skrywer versoek om die brief uit hul familieversameling te dateer en skrywer van dié brief te help identifiseer! Skrywer het op daardie stadium reeds 'n privaatbesoek aan Nederland beplan om o.a. verdere Groesbeek-navorsing te onderneem. Die vliegkaartjie en hotel in Amsterdam was reeds bespreek en betaal toe die navraag ontvang is. Dit blyk toe 'n brief van die stamvader Ary GROESBEEK te wees waarin hy getuig van die goeie sorg van hul hemelse Vader en die seën op hul boerdery en handelsonderneming, ‘alhoewel die koeie nie soveel melk lewer as in Nederland nie'.
[Vir meer inligting kontak die outeur Isabel Groesbeek (geb Bekker) e-pos: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.]

  • Hits: 6469