Die Van Aardt Familie

ONTMOET DIE FAMILIE: VANWAAR VAN AARDT?

(Potchefstroom Herald 28.03.2014)

Wie is die Van Aardts en waar kom hulle vandaan?
Alhoewel die Van Aardtfamilie nie talryk is nie, is dit ‘n ou Suid-Afrikaanse familie waarvan die stamvader in Augustus 1700 in Tafelbaai voet aan wal gesit het. Nie net is dit ‘n ou, gevestigde familie nie, lede van hierdie familie het op vele terreine diep spore op die gebied van die Suid-Afrikaanse kultuur en geskiedenis getrap.
Vir die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners is dit ‘n feit dat hulle stamvaders met voorbedagte rade aan hierdie suidpunt van Afrika aangeland en vasgeskop het. Nie so met Gerrit Jansz van Aart, stamvader van die Van Aardt familie nie. Daar is baie dinge wat nie in dokumente in die Argiewe bewaar gebly het nie en waar mens verplig is om self die punte bymekaar te bring ten einde die knoop vas te maak. Die geval van Gerrit Jansz is een van dié.
Gerrit Jansz het uit ‘n ou Delftse familie gekom. Onthou dat in die sestiende en sewentiende eeue Nederland uitgebreide besittings en kolonies in die Verre Ooste gehad het. Dit het die Vaderland se ekonomiese wa aan die rol gehou deur die stimulasie van die skeepvaart wat gesorg het dat grondstowwe ingevoer kon word wat weer die nywerhede gevoed het. Dit het tot gevolg gehad dat skeepvaart ‘n baie belangrike rol in die ou Nederland vervul het.
Die eerste stamvader wat ek kon opspoor was in die porseleinbedryf. Hy was naamlik die blouverwer Gerrit Gerritsz van Aertwat die pragtige verfwerk op die Delftse porseleinware geverf het voordat dit in vuuroonde afgerond is. Hy het geleef van 1585 tot 1643 en was getroud met Maritgen Gerrits van Daalen. Die jongste kind uit hierdie huwelik was Johannes (Jan) Gerritsz van Aart getroud met Baertien Gerrits van Noortwijck. Hy is in 1642 in Delft gebore slegs een jaar voor sy pa se dood. Al wat van hom bekend is, is dat hy die roepstem van die see gehoor en daaraan voldoen het. Hy was in Batavië gestasioneer en is waarskynlik daar oorlede.
Dit bring ons by die stamvader van die Suid-Afrikaanse Van Aardts. Hy was Gerrit Jansz van Aart, die oudste kind uit laasgenoemde huwelik. Hy is gedoop op 11.06.1671 te Delft en was getroud met Levijntje Theunis van Gent, weduwee De Vries. Uit hierdie huwelik is twee kinders gebore,nl. Baertien Gerrits (1698) en Theunis Gerritsz (1699)
Soos sy vader, was Gerrit Jansz ‘n matroos in diens van die VOC. Oor sy vroeë loopbaan is niks bekend nie. Ons maak die eerste keer kennis met hom wanneer hy as ‘bosschieter' (kanonnier) op die skip ‘Reijgersdaal' na Batavië vaar. Die ‘Reijgersdaal', ‘n pinas van 818 ton, het op 02.05.1700 vanaf Goeree geseil onder bevel van kaptein Martin de Jeugd. Aan boord, as passasiers, was Josue en Elizabeth Cilliers wat bestem was om die stamouers van die Cilliersfamilie in Suid-Afrika te word. Op die namiddag van 22.08.1700 ‘onder een slap zuyd west luchtje' het die Reijgersdaal in Tafelbaai vasgemeer.
Daar was agt siekes aan boord. Op 12.09.1700 het die ‘Reijgersdaal' sy reis na Batavië voortgesit, sonder Gerrit Jansz. Was hy een van die siekes wat noodgedwonge in die Kaap moes agterbly? Op 31.03.1701 word hy ‘n vryburger en in Mei 1707 kom sy vrou en twee kinders, na agt maande ter see, ook in die Kaap aan.
En so het die Van Aardtfamilie toevallig in Suid-Afrika gevestig geraak. Gerrit Jansz en sy gesin het hulle op die plaas De Lammershoek tussen die huidige Malmesbury en Wellington gevestig. Sy datum van dood is onbekend, maar dit is volgens afleiding 1735.
[Besoek die Die Genealogiese Genootskap se webwerf  by www.genza.org.za ]

  • Hits: 6078