Algemene bewaring: ons geboue en voorwerpe deur tyd

Adrian DE VILLIERSAdrian de Villiers, 15 April 2023
Adrian het ‘n oorsig oor bewaring van geboue die afgelope 2000 jaar gegee. Hy het begin deur bewaring aan die hand van die Pantheon in Rome wat ongeveer 20 vC deur Agrippa as ‘n tempel vir die gode gebou is, te verduidelik. Daarna is dit verander en later weer verander. Na ‘n brand is dit feitlik deur keiser Hadrianus herbou. Baie later is dit in ‘n kerk verander en nog later, vroeg sewentiende tot die negentiende eeu is twee kloktorings aangebring. Dit is later verwyder.
Deur die eeue is verskillende denkrigtings ten opsigte van bewaring gevolg. Vandag word daar gepoog om so na as moontlik aan die oorspronklike elemente te bly. By die Akropolis, byvoorbeeld, is die struktuur in die vroeë 1900’s gestabiliseer deur van o.a. sement en staal gebruik te maak. Tans word daar weer aan die struktuur gewerk en die sement en staal moet verwyder word.
Van die denkrigtings oor bewaring is rekonstruksie. Adrian het dit met foto’s van die restourasie van Tulbagh na die aardbewing van 1969 waar daar duidelike voorbeelde van oor-restourasie is, illustreer.
Hy het die teorie van bewaring en restourasie en die rigtings deur verskeie teoretici soos George Gilbert Scott, Camillo Borito en Alois Riegl voorgestaan, bespreek. Gedurende 1964 verskyn die Handves van Venesië en in 1979 die Burra Handves in Australië wat oor retourasie en bewaring handel.
Hy wys ook die argitekplanne van die Uniegebou en foto’s van die pragtige sandsteen. Die Uniegebou is genomineer om as ‘n UNESCO wêrelderfenisgebied verklaar te word.
Hy sluit af deur te sê mens moet nooit ophou om om te gee, aan te raak, skoon te maak en te bewaar nie.