Oor Ons - Takke

Die takke vorm die kern van die GGSA aangesien die meeste van die genealogiese aktiwiteite daar plaasvind. Taklede kies hulle tak se Uitvoerende Komitee tydens die tak se Algemene Jaarvergadering. Takke is ten volle verantwoordelik vir hul eie bestuur, insluitend finansiële en lidmaatskap-administrasie, maar hulle is nie afsonderlike regsentiteite nie. Alhoewel takke outomaties onder die grondwet van die regspersoon van die GGSA val mag hulle oor addisionele reëls beskik wat slegs op daardie tak van toepassing is. Dit staan takke vry om die bestuur van die tak saam te stel op 'n wyse wat optimaal is vir die bereiking van hul doelwitte. Die grootte en samestelling van die komitee moet aan die behoeftes van die tak voldoen.
Takke bied tipies byeenkomste aan met praatjies, uitstappies en geleenthede vir lede om te sosialiseer. Daar is boekversamelings en biblioteekfasiliteite, die kwartaalblad Familia, en taknuusbriewe, ‘n webblad met die jongste inligting en Telegramgroepe waarin nuwe genealogiese ontdekkings en wetenswaardighede met mekaar gedeel word. Beginners kan vra vir ‘n “buddy” om hulle touwys te maak en meer gesoute genealoë het byvoorbeeld toegang tot ondersteuning met die publisering van hulle navorsingswerk, 
Takke het tradisioneel in groter sentra ontwikkel en was geografies gebonde - daar is tans twaalf sulke takke. Mettertyd het eGGSA ontwikkel, ‘n elektroniese tak wat ook buitelandse lede het. Gedurende die inperkings weens Covid-19 is tegnologie ingespan en baie van die takke het voortgegaan met hulle werksaamhede via Zoom en daarmee saam is die GGSA nou in ‘n oorgangsfase. Bymekaar kom en sosiale interaksie is steeds belangrik, maar word deur virtuele byeenkomste gekomplementeer.
Lede kan aansluit by enige tak van hul keuse en die virtuele dimensie maak dit ook moontlik vir lede buite die hoofsentra en op die platteland om sinvol lid van ‘n tak van hulle keuse te word.