Noordwestak - Tuisblad

Potch StadstaalDie Noordwestak is 'n dinamiese tak waar beide beginners, asook meer ervare genealoƫ tuis voel om hul passie vir familiegeskiedenis uit te leef en met mekaar te deel.
Die Tak is gesetel in Potchefstroom en bedien hoofsaaklik die Noordwes Provinsie.     Sedert die Tak se stigting op 6 Junie 2004 het die ledetal vanaf 12 tot meer as 60 gegroei.  Lede en belangstellendes kom maandeliks om 19:00, met die uitsondering van Januarie, Julie en Desember, by die Potchefstroomse Museum (hoek van Wolmaransstraat en Sol Plaatjielaan) byeen.
Die doel van die Tak is om sy lede in staat te stel om familienavorsing te doen.  Om hierdie rede word kundiges vanoor die land betrek om oor 'n wye verskeidenheid van onderwerpe van genealogiese belang te kom gesels.  Om nuwelinge touwys te maak in die gebruik van genealogiese bronne, word uitstappies na argiewe en die LDS-sentrum onderneem en beginnerkursusse aangebied. Taklede ontvang nie net nie, maar lewer ook 'n bydrae tot genealogie deur begraafplase te fotografeer en die data beskikbaar te stel.
Die Tak se biblioteek kon nie 'n meer geskikte tuiste vind as die Potchefstroomse Museum nie.  Hier word die Tak se versameling van meer as 150 familieregisters en ongeveer  5000 begrafnisbriewe gerugsteun deur die Museum se versameling van historiese dokumente, plaaslike koerante van so vroeg as 1905, ou foto's, kaarte en gepubliseerde bronne oor o.a. die Groot Trek en Anglo-Boereoorlog. Genealogiese Bronne: Potchefstroom Museum
Die Takbiblioteek in die Potchefstroomse Museum is weeksdae vanaf 9:00 tot 13:00 en vanaf 14:00 tot 16:30 oop.  Toegang is gratis. Die Takbiblioteek ontvang daagliks genealogiese navrae wat deur kundige museumpersoneellede en of taklede beantwoord word. Vir navrae en kommentaar, kontak ons op die "Kontak Ons" op ons gids aan die regterkand.
Die Tak se lekkerlees nuusbrief, die Famnea verskyn kwartaalliks (Februarie, Mei, Augustus en November).  In die nuusbrief kry lede die geleentheid om artikels oor hul familiegeskiedenisnavorsing en of interessante gebeure te skryf.  Artikels met 'n Noordwes-strekking kry voorkeur. Die jongste uitgawe van Famnea kan by hier afgelaai word: