Stamvader uit Småland

Dié fassinerende verhaal het sy Suid-Afrikaanse begin in die jaar 1852 toe 'n jong Sweedse burger – by name Oscar Wilhelm Alric Forssman – die land én Potchefstroom besoek het. 'n Droom om 'n Sweedse gemeenskap hier te vestig het gestalte gekry en in 1862 is hy terug na Swede om vrywilligers te werf. Een van die vrywilligers was:

Carl Ludvig Theodor Olén:      Nielette Cecile Nel (geb. Olën) Pretoria  13.01.2006

Genealogiese navorsing is inderdaad soos die bou van ‘n legkaart – maar dan sou dit  die oorspronklike soort legkaart moet wees. Die eerste

{module Smaland}

legkaarte is uit hout gesny en daar was nie gerieflikheidshalwe ‘n fraai, kleurvolle prentjie van die eindresultaat om as gids te gebruik nie. Dié het enduit ‘n misterie gebly -  hoewel mens natuurlik padlangs raaiskote kon waag. En dalk was jy reg, of dalk was die voltooide prentjie iets heel onverwags. Die samestellers van daardie ou legkaarte het mens soms doelbewus probeer mislei deur op-die-oog-af eenderse stukke te gebruik, wat jou lelik op ‘n dwaalspoor kon bring – en verkeerde afleidings kon laat maak.
Dalk is dit waarom die genealogie so uitdagend en opwindend is, waarom mens fanaties en obsessief na antwoorde soek en dit dan so bevredigend vind wanneer dit nie meer net om name en datums gaan nie, maar om dit wat vir jou ietsie kan sê oor wie oupa-grootjie nou eintlik was. Nie dat die prentjie ooit voltooi word nie. Daar kom gedurig nuwe inligting by, elke antwoord skep opnuut vrae en hoe meer jou voorsate vir jou werklikheid word, hoe groter die versugting en frustrasie dat jy hulle nie in lewende lywe kan beleef nie. Jy kry jou gunstelinge en die fokus van jou navorsing verskuif van iets wat jy vir jou nageslag wou doen na iets wat jy aan dié wat jou voorafgegaan het, verskuldig is – al beteken dit soms dat jy op dinge afkom wat hulle dalk versigtig “tussen die voue” gebêre het!
Vir my is my Sweedse oupa-grootjie so iemand. Hoe meer ek van hom te wete kom, hoe liewer word ek vir hom. Omdat hy betreklik onlangs (1863) na Suid-Afrika gekom het, het ek grootgeword met die raamwerk van sy verhaal hier ter plaatse.


Ek het geweet dat hy as sestien-jarige alleen op ‘n skip geklim het, die jongste lid van ‘n groep Sweedse emigrante wat deur ene Chevalier Oscar Alric Forssman gewerf is om vir drie jaar vir hom op sy plaas Scandinavia aan die Vaalrivier, naby Potchefstroom (by die huidige Skandinawiëdrif) te kom werk . Forssman was ‘n suksesvolle sakeman met uitgebreide belange en was in ‘n stadium die grootste grondbesitter in die ZAR. Hy het sy broer Magnus oorreed om met sy gesin by hom aan te sluit. Magnus was ‘n landmeter en het trouens later die eerste landmeter-generaal in die ZAR geword. Forssman was ‘n ingenieur en sy plan was om ‘n besproeiingskema aan die Vaalrivier en daarmee saam ‘n hele Sweedse nedersetting tot stand te bring. Daarom het hy gesorg vir opgeleide ambagsmanne, boere, onderwysers, sowel as ‘n klompie gewone arbeiders. Terselfdertyd wou hy die handel tussen Swede en Suider-Afrika uitbrei en het ook ‘n vrag goedere saamgebring wat in Durban suksesvol van die hand gesit is.
Die drie-maandelange seereis op die volskip Octavia sowel as die ossewatrek van tien weke waartydens die groepie aan talle ontberings blootgestel is, is goed gedokumenteer. So ook die aanpak en uiteindelike mislukking van die Scandinavia-projek. Daar is ‘n paar ermstige oordeelsfoute begaan, maar die nekslag was ‘n versengende droogte en die besef dat die Vaalrivier nie ‘n standhoudende rivier is nie. Die nedersetters was ietwat ontnugter en het opstandig begin word. Forssman het sy planne laat vaar en Potchefstroom toe getrek, waar hy hom aan sy talle ander sakebelange gewy het.
Die jong Carl Ludvig Theodor Olén is ook Potchefstroom toe. Daar het hy aanvanklik vir ene Charles Read begin werk. Mettertyd kon hy vir hom ‘n wa en span osse aanskaf en het begin transportry. Later het hy twintig waens en spanne osse besit en het een van die grootste transportryondernemings in die ZAR bedryf. Onder andere het hy ‘n nuwe roete Natal toe ontdek, een wat die reis met sowat twee dae verkort het. Die ander transportryers het later ook hierdie roete begin volg. Daarna het hy ‘n winkel besit en bedryf en uiteindelik ‘n meule. Hy het trouens die eerste stoommeule en later die eerste elektriese meule in Transvaal besit.
Toe hy op 24 Januarie 1911 op vyf-en-sestigjarige ouderdom aan komplikasies na ‘n keelinfeksie oorlede is, was hy ‘n welgestelde en gerespekteerde man en sy begrafnis een van die grootste wat nog op Potchefstroom gehou is. Dit is deur lede van alle sektore van die gemeenskap en distrik bygewoon.
Met hierdie inligting was ek van kindsbeen af bekend. Ook dat Carl Ludvig Olén met Martha Johanna Kotzé, ‘n dogter van die  Voortrekker Dirk Jacobus Kotzé en Maatje Maria Visser getroud was. Martha het self ‘n veelbewoë geskiedenis gehad – toe sy vyf jaar oud was, is haar pa en haar oudste broer voor haar vermoor tydens ‘n Koranna-aanval op hulle plaas Zevenfontein by Bloemhof. Haar swanger ma moes met die jonger kinders vlug en Martha het  ‘n assegaaiwond opgedoen wat haar lewenslank gepla het. Verder was ons bewus van sewe oorlewende kinders, waaronder my oupa  - Carl Ludwig Theodor Olën gedoop, maar alombekend as Oom Charlie.
Selfs as kind was dit nie vir my genoeg nie. Ek wou meer weet –

Maar Oupagrootjie, Oupagrootjie wie was jy eintlik? Wie was jou mense en wat was jou verhouding met hulle? Hoekom het jy stoksielalleen op ‘n skip geklim en die onbekende ingevaar? Omdat jy drome gehad het en geen hoop om dit in jou vaderland te verwesenlik nie? ’n Drang in jou Viking-gene om die wêreld te verower? ‘n Ratelende skelet in die familiekas? Or just simply for the heck of it? En hoekom is daar nie ‘n weelde van familiestaaltjies oor jou en jou veelbewoë lewe nie?
Ek het eendag vir my pa gevra of sy oupa ooit vir sy kleinkinders van sy familie en sy jeugjare in Swede vertel het. Hy het net sy wenkbroue gelig en gesê “My deah, we were never in-tro-dooced!” Wat sou dit nou wees? ‘n Soort Viktoriaanse kinders-word-gesien-en-nie-gehoor-nie ding? In my romantiese jeug het ek die wonderbaarlikste stories versin. Oor buite-egtelike koningskinders en bose grondbaronne. Oor ‘n wrede stiefpa of ‘n verydelde liefde vir die bose grondbaron se beeldskone dogter ….
Maar ek moes wag tot diep in my sestigerjare voor ek antwoorde begin kry het op party van my vrae en opnuut besef het dat werklikheid dikwels veel, veel vreemder is as versinsel!
My nuwe inligting het uit verskeie bronne gekom en soos met ‘n legkaart, nie altyd kronologies of in ‘n netjiese patroon nie. Eerstens was daar twee Sweedse joernaliste, Christer Blomstrand en Marika Griehsel, wat saam aan ‘n projek oor die Forssman-ekspedisie gewerk het en van wie ek die eerste inligting ooit oor Carl Ludvig se herkoms en jeugjare gekry het. Daarna het ek twee jaar lank deur argiefstukke, kerkrekords, briewe, asook ou koerante en fotos in die Potchefstroom Museum getreil. ‘n Hoogtepunt was toe my jongste seun en ek vir twee weke Swede toe is op soek na die wëreld van Carl Ludvig Theodor Olën, na ‘n “sense of place” . Daar het ek ‘n Sweedse genealoog, Jan Jutefors ontmoet, wat my van verdere inligting voorsien het en met wie ek nou nog ‘n soort samewerkingsooreenkoms het – hy help my en ek help hom soek na die nasate van die ander Forssman-Swede. En onderliggend knaag die gedurige selfverwyt – waarom het ek nie die verstand gehad om toe die mense wat hom geken het nog geleef het, die “regte” vrae te vra nie!
Die Swede waar Alric Forssman sy groepie sober, hardwerkende landgenote gaan uitsoek het, het baie anders uitgesien as die Swede van vandag. Teen die middel van die 19de eeu was die ekonomiese toestande in die provinsie SmÃ¥land in die suidooste van die land niks minder as haglik nie. Daar was hongersnood, godsdienstige vervolging, maatskaplike ongelykheid waaruit daar nie ontsnap kon word nie.Tussen 1845 en 1930 het 1.2 miljoen mense Swede verlaat, ‘n vyfde van die totale bevolking. Meer as 300,000 het uit SmÃ¥land gekom en verreweg die meeste het na die VSA ge-emigreer.
Op die landgoed Helgerum in die parogie van Vestrum (Wästrum) suid van Västervik in die noorde van SmÃ¥land het ‘n arm, nederige diensmeisie Johanna Gustafva Lundqvist op 8 Oktober 1846 aan ‘n buite-egtelike seun geboorte gegee. Sy het hom in die kerkrekords as Carl Ludvig Theodor Olén laat opteken. ( Behalwe vir die normale notering van geboortes, sterftes, huwelike ens het die leraar minstens een keer per jaar elke gesin in die parogie besoek. Hy het dan met sorg in die Husförhörsboken (tuisondervragingsboek) die adres aangeteken, wie almal in die huis bly, wat hulle verwantskap is, geboortes en sterftes gedurende die afgelope jaar, asook almal se kennis van die Skrif en hulle vermoë om te lees en skryf. Dié Husförhörsböker  is uiteraard ‘n waardevolle bron van inligting!)

Johanna Gustafva het nie die naam van die vader van haar kind bekendgemaak nie – al was dit destyds ‘n vereiste. Ons weet nou nog nie met sekerheid waarom sy die van “Olén” gekies het nie. In 1847 het sy hom by haar ouers, die kleremaker Sven Lundqvist en sy vrou Anna Catharina Gräsberg (van Visby op die eiland Gotland) in die dorpie MönsterÃ¥s gelaat terwyl sy elders gaan werk het. Sy het gereeld na MönsterÃ¥s teruggekeer. Op 22 Junie 1851 het Johanna Gustafva aan ‘n tweede buite-egtelike seun, Johan Olof Lundqvist, geboorte gegee. Hy is een jaar en vier maande later oorlede. Op 26 Oktober 1855 is sy en die nege-jarige Carl na Förlösa waar hulle gewoon het totdat hulle in 1856 na Kalmar verhuis het. Op 18 November 1863 is Johanna Gustafva met ‘n kleremakers-assistent Carl August Svensson getroud. Sy was drie-en-veertig en hy drie-en-twintig jaar oud – net ses jaar ouer as haar seun Carl! Carl August het ‘n volwaardige kleremaker geword en hy en Johanna was nege-en-twintig  jaar lank getroud - tot met haar dood op 11 Januarie 1892.
In Augustus 1863 het Carl Ludvig, met die skriftelike toestemming van sy moeder, as sestienjarige dräng (kneg) aangesluit by die groep Swede wat deur Chevalier Alric Forssman gewerf is om saam met hom na Suid-Afrika te gaan. Carl Ludvig was die jongste van die sowat veertig emigrante aan boord die gehuurde volskip, die Octavia, wat op 13 Augustus 1863 die hawe van Kalmar verlaat het. Hy was uiters gewild by die passasiers sowel as die bemanning van die skip en was bereid om enige taak, hoe onaangenaam ook al, uit te voer. Veral die kinders was baie erg oor hom en het hom “Kalle” (Sweeds vir “Charlie”) genoem.

Die aanvangsjare in Suid-Afrika het baie ontberings en terugslae opgelewer. Met die aankoms op Scandinavia was daar byvoorbeeld geen huisvesting vir die arbeiders nie. Die strooi hut waarin ‘n klompie van hulle later gebly het, het afgebrand en Carl Ludvig kon niks van sy reeds karige besittings red nie. Kort daarna is die groep uiteen en is hy een van dié wat hulle op Potchefstroom gaan vestig het. Daar het die jong Sweed weer eens sy bereidwilligheid om hard te werk openbaar deur bedags stene te maak en snags hout te karwei  - en min te slaap!
Selfs toe die jare van voorspoed uiteindelik aangebreek het, was daar donker tye. Die onverassureerde meule het byvoorbeeld afgebrand. Mnr Koos Scheffer het per geleentheid aan my broer vertel dat sy vader betrokke was by die herbou van die Olën-meule na die verwoestende brand. Sy pa het hom vertel dat hy by was toe Carl Ludvig stadig deur die puin gestap het en hy opgemerk het hoe die trane oor die ou man se wange loop tot in sy wit baard.  ‘n Klompie beleggings wat misluk het, het swaar verliese en baie skuld tot gevolg gehad. Carl Ludvig het verkies om afstand te doen van al sy besittings sodat hy sy krediteure kon vergoed. Daarna het hy net weer oor begin – beslis ‘n man met integriteit en deursettingsvermoë. Daar was ook die hartseer toe hy en sy vrou Martha twee van hulle nege kinders aan die dood moes afstaan – hulle tweede oudste dogter Johanna Gustava Elizabeth in haar agtiende jaar en ‘n baba Lily Bianca op sewe maande. Verder het hulle tweede oudste seun Dirk Johannes (Dick)  voor hy twintig jaar oud was, spoorloos verdwyn. Daar is aan ons as kinders vertel dat hy na die huidige Namibië is om ‘n Herero-opstand te gaan help onderdruk en dat niemand verder iets van hom gehoor het nie. By die krygsowerhede in Namibië is daar ook geen rekord van hom nie.
Uit die begrafnisberigte wat na sy dood feitlik volle bladsye in die Potchefstroom Herald en die WesternGazette  beslaan het, kom daar ‘n duidelike prentjie na vore – al neem mens in ag dat sulke berigte gewoonlik neig na oordaad!
Seldom indeed has so large a funeral been witnessed in Potchefstroom. All classes united in paying their respects to the deceased and the interior of the United Dutch Reformed Church, of which he was senior elder, presented the appearance of a nachtmaal. It was crowded to the doors and many waited outside.
…. there could not have been less than 800 people there – people of all classes, races and denominations
….respected by all who knew him. He was throughout his life known as a man of strict integrity, and who made his way by sheer hard work and honesty of purpose.
….known to all as an honest, upright man, and it seldom happened that that the public mourned a loss so much
…. enemies he had none
….although taking no part in public affairs, was kindly disposed toward all, and whose cheery presence will be much missed.
He never sought municipal honours but served the public on the School Board and on the Orphanage Committee. But his heart was really in the Church to which he devoted so much loving reverence… His private life was exemplary and marked by a deep and unassuming piety …. His charitable works were mostly unknown, for they were never proclaimed from the housetops. But as one man remarked with the simplicity of sincerity: “If Carl Olen dies, my hands are cut off”.
He sought peace and ensued it…. On Sunday, Mr Olen, who was then very weak, had his family gathered round his bedside, and told them that he was glad he was going to die in Potchefstroom, which was really “home” to him, although he was a native of Sweden. 
…. told the Rev. M.L. Fick, his pastor, that he was leaving this world very easily and lightly.
Carl Ludvig se Hollandse Bybel is tans in besit van sy dogter Martha se kleinseun mnr Johan (Pikkewyn) Malan van Potchefstroom. Tussen die bladsye het ‘n paar kosbaarhede bewaar gebly – ‘n kaartjie van sy dogter Maatje Maria (Mary)  “op mijn 60 jaar”, ‘n klompie Bybelversies uit Spreuke met die byskrif :“Deze is voor mij oude lieve vader . Pa lees dit toch dit is zulke mooi aanmoedigen versjes. Neem het ter harte van mij uw dochter J.O” ( vermoedelik sy dogter Johanna Gustava Elizabeth wat jonk oorlede is.)
Maar die een wat my die naaste aan die hart lê, is ‘n vergeelde flentertjie papier met die prentjie van ‘n kruis en die Sweedse onderskrif:

Lycklig den som slutat striden

Segerkronan fålt och friden

Dit beteken “gelukkig hy wat aan die einde van die stryd ‘n segekroon ontvang en vrede” …………en ek het alle rede om te glo dat dié woorde aan die einde van sy lewe vir Carl Ludvig Theodor Olén werklikheid was.----------------------------------------------------------------------

[Hierdie artikel is op versoek vir FAMNEA (Nuusbrief van die Genealogiese Vereniging van Suid-Afrika – Noordwes geskryf en het in die Februarie 2006-uitgawe verskyn]

 

  • Hits: 6092