Die Pelsers

ONTMOET DIE FAMILIE  PELSER:
                                                                                                                                                         Potchefstroom Herald: 28 November 2014

Pelster, Pelszer, Peltser, Peltzer en Pelzer – almal variasies vir dieselfde van wat deesdae hoofsaaklik as Pelser bekend is. 
Die Suid-Afrikaanse familie het sy beslag gekry op 3.6.1708 toe die VOC skip Popkensburg vanaf Texel, Nederland vertrek het om op 2.11.1708 in Tafelbaai anker te gooi. Aan boord was ene Abraham Peltzer wat volgens die Land- en Seemonsterrolle en skeepssoldyboeke ‘n soldaat, afkomstig van Hamburg was. Hy sluit  by die Kaapse kerk aan op 19.12.1708 en was tot 1712 'n soldaat wat ook op skepe diens gedoen het, o.a op die skip Rijnenburg.
Johannes Phijffer (Pfeiffe) 'n welgestelde boer, neem hom op 15.7.1712 as boerkneg in diens  teen 'n vergoeding van “12 Gulden, onderhoud van spys, drank en goeie huisvesting”. Vanaf 1714 was hy weer soldaat en in 1716-1717 korporaal. Hy doen in 1717 aansoek om en word vryburger. Op 26.6.1718 trou hy met Maria Elizabeth van den Berg ged. 12.10.1704. Vir hulle is drie kinders gebore voordat Abraham op 30.5.1724 in “Cabo” (die Kaap) oorlede is waarna sy eggenoot eers in 'n verhouding met Claas Hoogh drie kinders gehad het, en na Claas se oorlye trou sy in 1736 met ene Liebrecht Ellard. (Liebrecht se naam kom vandag nog by die nasate van sy Pelser stiefseun voor). Elizabeth se vierde huwelik was met Carl Titus Just.
Abraham en Elizabeth se kinders was:
b1. Jacomina ged. 20.8.1719 trou te Stellenbosch op 9.10.1735 met die matroos Jan Grijling, later vryburger op Stellenbosch en nog later messelaar. Uit die huwelik is 5 dogters en 4 seuns gebore.
b2. Abraham ged Cabo (Die Kaap) 20.7.1721 was as enigste seun van die immigrant Abraham en ook die enigste wat die Pelser naam  na die volgende geslag kon voortdra. Hy trou te Stellenbosch op 16.7.1741  Engela Catharina Zaaiman ged. 11.5.1721. Engela het 'n baie interessante herkoms. Sy was 'n dogter van Pieter Zaaijman van Mauritius en Anna Maria Coopman (Koopman). Pieter op sy beurt was 'n seun van die VOC se groenteboer Daniel Zaaijman en Pieternella Meerhof, beter bekend as Pieternella van die Kaap, die hoofkarakter in die gelyknamige roman deur Dalene Matthee. Pieternella se ouers was die soldaat en chirurgyn Pieter van Meerhof en Eva Krotoa. Pieter is later tydens 'n ontdekkingsreis te Madagaskar vermoor. Eva is ongeveer 1642 gebore en het in Jan van Riebeeck se woning grootgeword maar  was ‘n lid van die inheemse Goringhaicona's (Strandlopers).  Lees ook Dan Sleigh se boek “Eilande”om meer oor haar te wete te kom. 
Kinders van Abraham en Engela Zaaiman:
b2c1 Abraham Liebrecht ged. Stellenbosch 10.9.1741 (gedeeltelik sy stiefgrootvader se naam ontvang)
b2c2 Elizabeth Catharina ged. 9.6.1743 x Paarl 12.10.1760 Dirk Coetzee, xx Paarl 22.10.1769 Willem Stresau.
b2c3 Anna Maria Jacoba ged.  Stellenbosch 13.6.1745 x Tulbach 11.5.1760 Johannes David Grootschel van Kopenhagen. Johannes was 'n passasier op skip ” Elephant” wat in 1851 by Mosselbaai gestrand het. Grootschel het mettertyd Griesel geword. Anna word dus deur haar huwelik met Johannes die stammoeder van die Griesel familie in  Suid Afrika.
b2c4 Carel Johannes ged. Tulbach 22.12.1754 x Tulbach 15.2.1778 Maria Wagenaar ged.16.11.1755 xx Kaapstad Anna Cornelia Botha  xxx Kaapstad 22.3.1801 Johanna Bezuidenhout (wed. Breedenberg) - een seun by sy eerste eggenoot.
b2c5 Petrus Cornelis ged. Tulbach 3.7.1757 oorl voor 11.4.1814 x Kaapstad 8.9.1782  Martha Maria Boshoff *1.11.1766 xx 11.12.1802 Elsje van der Merwe ged. 29.6.1781.
b2c6 Willem Jacobus ged. 2.12.1795 geb Stellenbosch oorl Colesberg 10.7.1829 x Tulbach 2.4.1784 Jannetjie ( ook Janetta/Johanna) Steenkamp geb. 31.7.1764
b2c7 Barbara Jacomina ged. Swartland 25.7.1762 x Paarl 30.5.1779 Johannes Hercules Viljoen.
b3 Maria ged. “Cabo” 17.1.1723 was stamouers se jongste kind sy trou met Jacobus Eykhoff.

[Bron: Pienaar R de V: Die geslagsregister van die Familie Pelser in Suid-Afrika sedert 1708]

  • Hits: 8562