Wat is genealogie? Historiese oorsprong

By primitiewe volke word die name van voorouers reeds vir duisende jare van buite geleer en van geslag na geslag oorgedra. In Suid-Afrika strek die mondelinge tradisie van kennis van die voorouers van regeerders in sommige gevalle terug tot ongeveer 1500 vC.
In die Ou Testament is daar talle voorbeelde van geslagregisters.
Onder die Europese adel was afkoms van groot belang vir die toekenning van erflike titels en die gebruik van wapenskilde. By huwelike is ook groot klem geplaas op afkoms/herkoms voornemende huweliksmaats en op hulle verwantskap.

'n Perspektief op genealogie

Graag deel ek my seun Arnold se brief. Hoekom? Genealogie die ou manier én dis net baie interessant. 'n Facebook Genealogie-groepplasing deur Charline Wentzel [2019]:
storytelling 1
Hi Ma, dis nou rustig so ek het tyd om te skryf oor genealogie.
Ek het laasweek 'n boek gelees "The Memory Code" deur Lynne Kelly.  Dit handel oor hoe nie-geletterde kulture kennis geprosesseer, bewaar en oorgedra het sonder skrif.  Die metode was natuurlik geheue - maar dis hoe hulle dit gedoen het wat fassinerend is.  Anders as skrif - wat bloot lineêr is en uitsluitlik staatmaak op die visuele sintuie, was die geheue-metodes van nie-geletterde kulture baie meer gevorderd.  Geheue is ingebed in die landskap, in stories, dans, liggame, geluide en prente - soortgelyk aan die geheuemetodes wat pa my geleer het - maar dit gaan heelwat verder.  Die voordeel van hierdie metodes is dat dit geïntegreer is sodat 'n landmerk die sneller is vir 'n storie en die storie die sneller is vir 'n dans wat 'n sneller is vir... ens.
Gevolglik was hulle kennis nie-lineêr oorgedra nie - maar oorgedra soos ware kennis is - as kompleks-gekoppelde stelsel van idees. Verder was dit ook nie oorgedra slegs deur die visuele sintuig en woorde nie - maar multi-sensories deur klank, beweging, emosie ens. En 95% van die kennis is praktiese kennis - plantsoorte, diergewoontes, roetes, wette, genealogie (om ondertrou te verhoed), tye om te plant, plekke om te jag, ens.  Een 'elder' se kennis is eendag opgeskryf - en die kennis wat hy gehad het het meer as 500 geskrewe bladsye opgeneem - en dit was slegs die kennis wat skriftelik oorgedra kon word!  Wat vir ons lyk soos bygelowe en mitologie was dikwels metodes van kreatiewe assosiasie wat gebruik is om kennis te onthou.
So wat het dit nou alles met genealogie te doen.  Eerstens het hierdie kulture baie meer waarde aan genealogie geheg want dit het praktiese waarde gehad beide as 'n metode om ondertrou te verhoed en as 'n baie kragtige geheuemetode.  In sommige van hierdie kulture kan mense vir jou hulle genealogie van tot 30 geslagte terug gee - en nie alleen dit nie - maar ook die komplekse ondertrou lyne. Vergelyk dit met baie mense wat skaars die name van hulle grootouers ken of soos ek, nie eers weet wie my kleinniggies/neefs is nie. En hulle kan dit doen 30 geslagte diep en 3-4 lyne verwyderd per geslag!
Maar wat my meer getref het was hoe genealogie in baie van hierdie kulture die kern is waar rondom hulle al hulle praktiese kennis organiseer.  Soos die geheuemetodes wat pa my geleer het en wat ek verder ontwikkel het - werk geheue die beste wanneer dit geassosieer kan word op ‘n kreatiewe manier aan dinge wat ons reeds ken. En dis wat genealogie doen in baie van hierdie kulture. Elke node en  verbinding in die genealogie word geassosieer met ‘n storie/prent/dans (wat self dieper kennis enkodeer) en wat die sneller is vir ‘n ritueel (‘n ritueel is ‘n herhaalde aksie wat meestal ‘n manier was om die kennis te herhaal sodat dit nie vergeet word nie).  Met ander woorde – vir hierdie kulture is genealogie krities vir oorlewing. Kyk op die oppervlakte en jy sien slegs name van voorvaders, kyk dieper en hierdie name en hulle konneksies bevat dramas (in die vorm van stories, prente, danse, liedjies) kyk nog dieper en jy vind elkeen van hierdie ‘drama-eenhede’ word vertaal op verskeie vlakke in praktiese kennis oor plante, diere, seisoene, wette, roetes, ens, ens.  Dis nogal ongelooflik.  En dan reken mense hierdie kulture is agterlik want hulle kan nie skryf nie!  Vergeleke met hierdie metodes is skrif verskriklik armoedig en primitief.