English (United Kingdom)

Sarie Marais

SARIE MARAIS

Die tradisionele Afrikaanse liedjie “(My) Sarie Marais” is nie Suid-Afrikaans van oorsprong nie. Die wysie is dié van die liedjie “(Sweet) Ellie Rhee” wat in 1865 deur die Amerikaanse liedjieskrywer, Septimus Winner, gekomponeer is. Volgens die FAK Sangbundel is die liedjie van Skotse oorsprong. Dit is inderdaad te vinde in die “Scottish Student’s Song Book”. Elders word beweer dat dit ‘n aanpassing is van die Ierse Volksliedjie “Foggy Dew”, alhoewel die verband tussen die twee melodieë moeilik af te lei is. In Amerika het dit as ‘n sogenaamde “Negro Plantation song” ontstaan (mens kan dit van die woorde aflei; kyk hieronder) maar dit het as ‘n Amerikaanse "folk song" bekend geraak.

ELLIE RHEE (CARRY ME BACK TO TENNESSEE) (1865)
(Septimus Winner (1827-1902))
Sarie Marais

(Bron: Wikipedia Encyclopaedia: http://en.wikipedia.org/wiki/Septimus_Winner)

Die woorde is soos volg:

Sweet Ellie Rhee, so dear to me
Is lost forever more;
Our home was down in Tennessee,
Before dis cruel war.

Chorus:
Then carry me back to Tennessee,
Back where I long to be,
Among de friends of yellow corn,
To my darling Ellie Rhee. (x 2)

Oh why did I from day to day
Keep wishing to be free;
And away from my massa run away
And leave my Ellie Rhee.
Chorus
They said that I would soon be free
And happy all de day.
But if dey take me back again,
I'll never run away.

Chorus

The war is over now at last.
De color'd race am free,
Dat good time comin' on so fast:
I'm waitin’ for to see.

Chorus

SARIE MARAIS IN AFRIKAANS

Daar is verskeie variasies van die oorspronklike Afrikaanse woorde. Een ou weergawe was die volgende :

My Sarie Marais is so ver weg van my
Maar ek hoop haar weer te sien
Sy het gewoon voor die oorlog het begin
in de Mooirivier Kontrei (of dit was: in de Mooi River County (c.1880)
(http://en.wikipedia.org/wiki/Sarie_Marais#Original_Afrikaans_version_.28ca_1880_.29)

Koor:
O bring my t'rug na die ou Transvaal,
daar waar my Sarie woon,
Daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais (x 2)

My Sarie Marais sal ek ooit weer kan sê:
O, my skat het ek weer gekry
In Sonnergedal langs die Mooirivier se wal
het sy vir oorlog daar gebly

Koor
O, ek was so bang dat die Kakies my sou vang (LW: Na bewering was dit aanvanklik:
En vêr oor die see wegstuur "Sy was so bang dat die Tommies my sou
Toe vlug ek na die kant van die Upington se sand vang”, later glo verander na: “Sy was so
Daar onder by die Grootrivier bang dat die Kakies my sou vang”

Koor

O, die oorlog is nou klaar en die huistoe-gaan is daar
Terug na die ou Transvaal
My hartlam wag vir my en ek sal so al te bly
haar soentjies met myne betaal.

Koor

(‘n Ou weergawe, gesing deur Chris Blignaut kan gehoor word by: http://www.youtube.com/watch?v=AYe2lqQcues)
Die Afrikaanse woorde van Sarie Marais het die eerste keer in 1927 in druk verkyn in Joan van Niekerk se “Groot Afrikaanse-Hollandse Liederbundel” waarin dit bloot as ‘n Afrikaanse volkswysie beskryf is. Toe die FAK in 1937 hulle eerste Volksangbundel publiseer, is die skrywers van die eerste drie verse as die “Susters Bezuidenhoud” aangegee. Hierna het Dirk van Alphen beweer hy was die skrywer. Daarna het Jacobus Petrus Toerien se dogters egter volgehou hulle pa het Sarie Marais geskryf en dat hulle ma, Sarie Maré, die nooi was na wie in die lied verwys word. Dié Maré was net soos Marais uitgespreek en die lied se titel is net verkeerd geskryf. Volgens die FAK het “B de Wet” vers vier geskryf (dit moet wees E de Wet) (Verwysing FAK-Volksangbundel, Sewende Uitgawe 1955; Verwerking uit Scottish Students Song Book, 1891; verwerk deur: J van Niekerk (latere uitgawes: deur Dirkie De Villiers).

Die algemeen bekende Afrikaanse woorde is soos volg:

My Sarie Marais is so ver van my hart,
Maar'k hoop om haar weer te sien.
Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon,
Nog voor die oorlog het begin.

Koor:
O bring my t'rug na die ou Transvaal,
daar waar my Sarie woon,
Daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais (x 2)

Ek was so bang dat die Kakies my sou vang
En ver oor die see wegstuur;
Toe vlug ek na die kant van die Upington se sand
Daar onder langs die Grootrivier.

Koor
Verlossing het gekom en die huis toe gaan was daar,
terug na die ou Transvaal;
my liewelingspersoon sal seker ook daar wees
om my met 'n kus te beloon.
Koor
Die Kakies is mos net soos 'n krokodillepes.
Hul sleep jou altyd water toe.
Hulle gooi jou op 'n skip vir 'n lange, lange "trip",
Die josie weet waarnatoe.
Koor
(Die wysie kan gehoor word by: http://esl.ee.sun.ac.za/~lochner/blerkas/musiek/143.mid)
SARIE MARAIS IN ANDER LANDE

Sarie Marais is ook in ander tale vertaal, onder andere in Engels, Frans, Duits, Italiaans, Russies en Spaans.

In Die Burger van 22 Januarie 2001 was daar ‘n berig: “Sarie Marais uit ou Transvaal word toe ook mooi Franse mademoiselle.” Ene Francois du Plessis van Bellville het vir 'n meestersgraad Franse kommersiële reg in Frankryk gaan studeer. Daar het hy die tradisionele Afrikaanse liedjie “Sarie Marais” à la Francais raakgeloop.

Hy het op 'n aand, kort voor sy eindeksamen, saam met 'n Franse Vriend, Michael, in Aix-en-Provence 'n botteltjie Côte de Rhône sit en geniet. In die loop van die gesprek vra die vriend uit die bloute of hy weet waar “Transvaal” is. Toe Francois hom uitvra oor hoe hy van dié streek weet, het die vriend geantwoord dat daar 'n liedjie is wat hy gedurende sy Franse diensplig as voetsoldaat gereeld gesing het. Wat hy nog goed daarvan onthou is die verwysing na Transvaal.

“Ek vra hom toe om die liedjie te sing en daar kom ‘My Sarie Marais’ in haar Franse gedaante te voorskyn”, vertel Francois. Hy moes sy deel doen en het ons eie weergawe van die liedjie in Afrikaans gesing. Michael het op Francois se versoek die woorde van die Franse weergawe volledig probeer neerskryf. Die Franse weergawe van My Sarie Marais is tot vandag toe 'n groot treffer onder Franse dril pelotonne. Michael kan goed onthou dat die liedjie in sy voetslaan dae die nommer-een-treffer was. Hy het probeer vasstel waar Transvaal was maar die naaste antwoord was “êrens in Afrika”.

Francois kon darem heelwat oor Transvaal met Michael deel maar hulle kon nie vasstel hoe Sarie Marais 'n trefferliedjie in Frankryk geword het nie. Miskien lê die oorsprong in die Franse se lojaliteit teenoor Transvaal en die Vrystaat se Boerekrygers gedurende die Anglo-Boere-oorlog.

Die Franse woorde lui soos volg:

O Sari Mares, belle amie d'autrefois
En moi tu demeures vive
L'amour est plus fort que la pluie
Et que le vent
Qui peut arrêter son élan

Refrain :
Oui je veux revoir
Dans mon vieux Transvaal
Ma ferme au toit de chaume
Où le parfum du miel
Et des conifères embaume
L'air pur est clair comme un cristal

O Sari Mares est bien loin de mon cœur
Mais je crois en son amour
Car c'est entre ses bras
Que j'ai connu le bonheur
J'irai la revoir un jour.
Refrain

Quand j'étais petit je croyais qu'un démon
Venait de ravir ma maison
Mais lorsque je fus grand
Ce fut une horrible guerre
Qui m'emmena loin de mes terres.

Refrain

Francois het met behulp van 'n Franse vriendin, Sabrina (wat Engels magtig is), die Sarie Marais wat in Frankryk gesing word, regstreeks in Engels vertaal. Hoewel dit heelwat van die Afrikaanse weergawe verskil, is daar tog ooreenkomste.

In Engels vertaal is die woorde:

Oh Sarie Marais, beautiful girlfriend of days gone by
Deep in my heart you are still alive
Love is stronger than rain and wind
What can withstand its power?

Chorus:
Yes, I want to see again my thatch-roofed farm in my old Transvaal
Fragrant with the scent of honey and conifers
In a crystal clear sky

Oh Sarie Marais is so far from my heart
But I believe in her love
Because it is in her arms that I found happiness
I will go see her again one fine day.

Chorus

When I was a child I believed that a demon
Came to deprive me of my home
But once I grew up it was a horrible war
That took me far away from my land.

Chorus

WIE WAS SARIE MARAIS?
Net soos daar verskillende opinies is oor wie die skrywer van die woorde en versies van Sarie Marais was, is daar meningsverskille oor wie die Sarie Marais was wat in die liedjie besing word. Twee vroue word voorgehou as dié Sarie Marais: Sarie Maré (1840-1877) en Sarie Maré (1866-1939):
Susara Johanna Adriana Maré, gebore in Uitenhage, Kaap Provinsie op 10 Mei 1840. Sy trou met Louis Jacobus Nel (bekend as “Vaal Lewies”) in 1857 in Pietermaritzburg en sterf op 27 Desember 1877 in Greytown, Natal op 37-jarige ouderdom na die geboorte van haar 11de kind. Sy is begrawe naby die ou opstal op hulle plaas “Welgegund” naby Kranskop en Greytown, KwaZulu-Natal net af van die Mispah pad tussen die R33 en die R74 roetes (Die ko-ordinate is 29° 6' 34.29"S 30°42' 36.70"O)

Susara Johanna Adriana Maré
(Bron: Reader’s Digest South Africa’s
Yesterdays, 1981)

Sarie Maré in haar trourok met haar man Louis Jacobus Nel in Pietermaritzburg ‘n paar dae na hul troue. (The Havemann Family History Centre (http://www.havemann.com/za-havemanns.html)

Sarie Maré se graf op Welgegund
Die grafsteen het op ‘n stadium
omgeval en die graf is verwaarloos (http://en.wikipedia.org/wiki/Sarie_Marais)

Een van Sara se seuns, Ds. Paul Nel, was ‘n veldprediker (kapelaan) vir die Boeremagte tydens die Anglo-Boere (of Tweede Vryheids-)oorlog (1899-1902). Hy het glo om die kampvuur dikwels stories vertel van sy pragtige moeder. In 1901 was Generaal Louis Botha besig om sy magte saam te trek naby Louwsburg (90 km oos van Utrecht) vir ‘n hernude inval in Natal.
Toe Ella (Elsje Cornelia) de Wet, die vrou van Nicolaas J de Wet, Generaal Botha se militêre sekretaris (later hoofregter van die Unie) haar man kom besoek op die plaas waar die Boere gekonsentreer was, het sy hulle vermaak op die plaashuis se klavier. Die enigste Sangboek tot haar beskikking was die Amerikaanse publikasie: "The Cavendish Song Book" en die mees gewilde liedjie daarin was "Ellie Rhee".
Die Burgers het hulle eie woorde vir die liedjie gemaak en “Ellie Rhee” vervang met “Sarie Maré” ter ere van die moeder van hulle geliefde veldprediker, Ds. Paul Nel. Die “Maré” is later foutiewelik “Marais” geskryf. Na die oorlog het Mev Ella de Wet die musiek opgestel en dit laat publiseer as: "Sarie-Marais - 'n Afrikaanse volkslied". Dit is 1920 deur 'n Kaapse drukker uitgegee. Daar word soms beweer dit sy van die versies geskryf het maar daar is geen bewys dat sy dit ooit gesê het nie; sy het dit net verwerk en gehelp om dit te publiseer. Dié storie van Sarie Marais is in die Greytown Museum te sien met haar foto en foto’s van haar graf.
Die liedjie se woorde ondersteun egter nie die storie heeltemaal nie; Sarie en haar man het in Greytown in Natal gewoon terwyl die liedjie sê: "Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon" en verder “O bring my t’rug na die ou Transvaal, daar waar my Sarie woon. Die distrik Potchefstroom in Transvaal was destyds algemeen bekend as die "Wyk Mooirivier". Daar is ‘n rivier, die Mooirivier (sytak van die Vaalrivier) by Potchefstroom.
Daar is wel ook ‘n Mooirivier (sytak van die Tugelarivier) naby Estcourt en Greytown op die Natalse Middellande sowel as ‘n dorp bekend as Mooirivier. Op die N3-snelweg vanaf Johannesburg na Durban gaan mens verby die Mooirivier tolhek tussen Ladysmith en Pietermaritzburg. Die ou weergawe van die liedjie sê blykbaar ook: “Sy het gewoon voor die oorlog het begin in de Mooi Rivier County. In die Britse Koloniale Natal was daar “Counties” onder andere Weenen County, Klip River Country en Mooi River County maar Greytown was in die Umvoti County.
In ‘n brief gedateer 25 September 1945 van Mej. E. J. Neethling van Utrecht, Natal gerig aan 'n mnr. Andries de Klerk, wat vroeër betrokke was by navorsing oor die Sarie Marais-raaisel sê sy dat sy saam met mev. De Wet na die Boerekommando's gegaan het om haar man te besoek. Sy skryf: "Mev. De Wet was nooit in die oorlog naby Utrecht nie. Dit is nie waar dat sy saans voor die klavier gesit het en vir die burgers liedjies gespeel het nie. Utrecht was toe in die hande van die Engelse en elke Boer wat sy gesig daar durf waag het, sou dadelik gevange geneem gewees het."
Die dorp Greytown, waar die plaas “Welgegund” en Sara Maré se graf geleë is, bied die storie aan dat Susara Johanna Adriana Maré die Sarie Marais van die liedjie is (kyk by: http://www.greytown.co.za/). Dit word egter nie deur almal aanvaar dat sy werklik dié “Sarie Marais” was wat in die liedjie verewig is nie.
Susara Margaretha Maré, gebore in Suikerbosrand, Transvaal op 15 April 1866. Suikerbosrand was destyds in die Wyk Mooirivier. Dit word meer algemeen aanvaar dat die Sarie Marais wat in die Afrikaanse liedjie besing word, hierdie Susara Margaretha Maré was, getroud Toerien. Haar ouers word genoem op bl. 298 van Dr Jan Visagie se “Voortrekkerstamouers” (Tweede Uitgawe 2011), naamlik Jacob Phillipus Maré (bekend as “Jors Voeter” omdat hy so hard kon druk om sy mening deur te kry) en sy tweede eggenoot, Cornelia Susanna Jacoba Erasmus. Die plaas Eendraght is direk noord-wes van Heidelberg en tans in die distrik Heidelberg maar destyds was dit in die distrik Potchefstroom wat algemeen bekend was as "Wyk Mooirivier".
Jacob Maré was ‘n toonaangewende politikus, kerklike leier, boer, offisier en lid van die ZAR se Uitvoerende Raad. Hy het ook soms as President waargeneem as Paul Kruger weg was. Dit is na hom wat Jacob Marestraat in Pretoria vernoem is (nou hernoem Jeff Masemolastraat). Volgens “Suid-Afrikaanse Geslagregisters” (SAG), Volume 5, bl. 473, was hy vier maal getroud; op 18 September 1854 met Helena Johanna Strydom, in 1859 met Cornelia Susanna Jacoba Erasmus, in ongeveer 1875 met Johanna Catharina Louisa Schabort en laastens, in 1897 met Maria Cecelia Albertha Zinn, weduwee Klopper. Volgens SAG was Sarie ‘n dogter van die derde vrou, Johanna Catharina Louisa Schabort, maar dit is verkeerd want sy en Jacob is eers in 1875 getroud toe Sarie al sowat ses jaar oud was. Sarie was beslis die tweede vrou, Cornelia Erasmus, se dogter.

(Bron: Schabort Family History 1500 – 2000, Piet Schabort (2001) bl’e 133 & 136)

Jacob Maré was ‘n Voortrekker. Hy en sy vrou het hulle het in die omgewing van die Suikerbosrand gevestig. Die grootste konsentrasie Voortrekkers het hulle in die wyk Mooirivier bevind waar die dorp Potchefstroom aangelê is. Sarie Maré is dus die “Sarie Marais” wat in “die wyk van die Mooirivier” gewoon het. In hierdie tyd was daar vyf wyke in Transvaal: Mooirivier (Potchefstroom), Magaliesburg (Rustenburg), Marico (Zeerust), Ohrigstad en Zoutpansberg (Pietersburg). Suikerbosrand was in die wyk van Mooirivier geleë, wat gestrek het vanaf Potchefstroom tot by die huidige Wolmaransstad en Makwassie.

Toe Sarie 16 jaar oud was, het sy Jacobus Petrus Toerien, 'n verslaggewer van “Di Patriot” van die Paarl, ontmoet. Hy was in Pretoria om 'n onderhoud met haar pa te kom voer. Hy het onder die skuilnaam “Jepete” (afgelei van sy voorletters) in "Ons Kleintje" geskryf in sy hoedanigheid as subredakteur van "Di Patriot". Hy was ook ‘n digter van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging maar daar het ook Nederlandse en Engelse gedigte uit sy pen gevloei. Hy en Sarie is op 19 Desember 1884 in Pretoria getroud en het 16 kinders gehad van wie 8 jonk oorlede is. Hy stig later, in 1890 in Middelburg, die koerant De Republikein wat sterk pro-Afrikaans en pro-republiek was.

Hierdie Jacobus Toerien, Sarie se man (toe moontlik nog haar minnaar) het “Sarie Marais” (eintlik “Sarie Maré”) se woorde na die Eerste Anglo-Boere (of Vryheids-) oorlog (1880-1881) of tydens of na die Tweede Anglo-Boere (of Vryheids-) oorlog (1899-1902) geskryf. Die liedjie het nie aanvanklik al die versies gehad wat ons vandag ken nie en die woorde was ook nie dieselfde as dié van vandag nie. Die woorde is verander en daar is later versies bygeskryf maar hy het na bewering die eerste twee versies geskryf.

Die reël: “Ek was so bang dat die Kakies my sal vang en vêr oor die see wegstuur” wys duidelik op die Tweede Vryheidoorlog. Tydens die Eerste Vryheidsoorlog was die Engelse soldate bekend as “Rooibaadjies” en “Tommies”.

Hy het die melodie van Sweet Ellie Rhee waarskynlik by die gouddelwers op die Randse Goudvelde gehoor. Met die liedjie het hy sy vrou, Sarie Maré, se naam verewig. Die naam “Sarie Maré” het later weens 'n drukfout “Sarie Marais” geword.

(Bron: Schabort Family History 1500 – 2000, Piet Schabort (2001) bl’e 136 & 137)

(LW Haar geboortejaar hierbo en in vele ander bronne (1868, self soms 1869) is waarskynlik verkeerd; sy is blykbaar gebore in 1866).

Met die uitbreek van die tweede Vryheidsoorlog in 1899 sluit Jacobus hom aan by Middelburg se Kommando. Hy word uitgeplaas na die Steenkampsberge in die Lydenburg distrik en bevind hom later aan die Natalse front. Uit verlange na sy Sarie sing hy die liedjie wat hy geskryf het maar dit was toe, volgens oorlewering, reeds gewild in Pretoria.

Daar word dikwels beweer dat Jacobus die liedjie geskryf het tydens die Tweede Vryheidsoorlog op die skip, toe hy as krygsgevangene na Ceylon geneem is. Dit word egter betwyfel want in 1902 het Jacobus die wapen neergelê en teruggekeer na sy gesin in Middelburg. Daar is ook geen rekord van hom op die Oorlogsmuseum in Bloemfontein se lys van krygsgevangenes nie (http://www.anglo-boer.co.za/).
Hy is baie kwalik geneem deur baie mense oor sy wapen-neerlegging en dit het nie goed gegaan met sy drukpers wat hy in Middelburg gevestig het nie. Die drukpers het ook later afgebrand en meeste van Jepete se skryfwerk, wat ook gedigte in Afrikaans, Nederlands en Engels ingesluit het, het saam afgebrand.
Hy sterf op 3 Mei 1920 op Middelburg aan malaria en word in die Ou Begraafplaas begrawe.
(http://www.myheritage.com/person-7015354_41127922_41127922/jacobus-petrus-jepete-toerien)

Die volgende is ‘n aanhaling uit “Die Bondgenoot” - November 1975 onder die opskrif: "Ons
Afrikaanse Volksliedereskat” deur Jan Strydom:

“..........Net soos die popgroepe van vandag, was daar sedert die begin van die vorige eeu "minstrel"-groepe wat oral baie gewild was en vol sale getrek het. Een so 'n groep was die Christy Minstrels, wat Suid-Afrika in 1862 besoek het. Een van die liedjies op hulle program was Ellie Rhee, geskryf deur Septimus Winner op die melodie van "The Foggy Dew." Hierdie Ellie Rhee het baie gou bekend geword, nie net in die Kaapprovinsie nie maar ook in Natal en die Boere-republieke.”

Sekere Amerikaanse Burger-oorlog liedjies was blykbaar graag aangepas vir die Anglo Boere-oorlog, bv. “Just Before the Battle, Mother” wat “Wanneer kom ons troudag Gertjie” geword het en “Marching Through Georgia” wat die wyse van “Ons Burgers is Getrou” is.
(http://archiver.rootsweb.ancestry.com/th/read/SOUTH-AFRICA/1999-10/0941100717)

Volgens die SA biblioteek se katalogus-inskrywing AP.1998-227 was Sarie bekend as “Tant Mossie” maar dit is dalk ‘n verwarring met J C (Joan) Abrahams, die vrou wat haar later jare beywer het om Sarie se graf te soek. Sy was “Tant Mossie” genoem. (kyk “SARIE MARAIS SE GRAF ONTDEK” hieronder).

Daar is, ‘n gedenksteen vir Jepete by sy graf in Middelburg, Mpumalanga se Ou Westelike begraafplaas opgerig in 1995:

(Bron: e-GGSA Bibloteek: http://www.eggsa.org/library/main.php?g2_itemId=1480798
en http://www.eggsa.org/library/main.php?g2_itemId=1892863

In die Anglo-Boereoorlog het Sarie Marais nie net gewild by die Boeremagte geword nie maar ook by ander soldate. Dit het later wêreldwyd bekend geraak omdat duisende Suid-Afrikaanse soldate dit in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gesing het. Die gewildheid het het só gegroei dat die Britse Royal Marines dit as regiment mars aangeneem het. Hulle vertolking kan gehoor word by: http://chessaleeinlondon.wordpress.com/tag/culture/. Hul opleidingskip heet ook Sarie Marais.

Presies wanneer Sarie Marais die Marines se regiment mars geword het is nie seker nie. In 'n artikel in die Daily Telegraph word hulde gebring aan luitenant-kolonel sir Vivian Dunn wat toe kort gelede oorlede was. Die berig sê: “His arrangement of the Boer song Sarie Marais is the regimental march of the Royal Marines Commandos.” Maar Dunn is eers in 1931 aangestel as “director of music” van die Portsmouth afdeling van die orkes. Miskien was sy weergawe van Sarie Marais net 'n nuwe verwerking van die liedjie. Dunn se orkes was aan boord van die slagskip, H. M. S. Vanguard, wat Koning George VI en sy gesin in 1947 vir ‘n besoek na Suid-Afrika gebring het. Tydens dié besoek het Dunn glo verskeie melodieë wat die koninklikes hier gehoor het op hulle versoek vir die orkes verwerk.

Dit is ook die regiment mars van die EMIA (Ecole Militaire Inter-Armes), die Franse Militêre skool en die Franse Vreemdelinge-legioen gebruik dit ook, so ook Paraguay se seiner korps. Die Suid-Afrikaanse weermag is ook steeds lief om die mars op parades te speel.

Dit is ook die amptelike lied van die Girl Guides in Sri Lanka (Ceylon) wat dit aan die begin van die vorige eeu by die Boerekrygsgevangenes daar gehoor het en glo ook die skoollied van die Kobe kollege in Japan (alhoewel dié college in 1873 deur twee Amerikaanse sendelinge gestig is en dié wyse waarskynlik eerder dié van Ellie Rhee is).

Die rolprent “Sarie Marais” saam met die rolprent “Moedertjie” was die eerste twee Suid-Afrikaanse films met klank. Die “premier” daarvan was by ‘n gala vertoning in die Capitol Teater in Pretoria in 1931. Die rolprent het gehandel oor Boere-gevangenis in ‘n Britse krygsgevangene-kamp. Een van die gevangenis, gespeel deur Billy Mathews, verhef sy stem en sing "My Sarie Marais". Afrikaner nasionalisme het sterk na vore getree in daardie jare en die film het Britse kulturele en ekonomies imperialisme negatief voorgestel.

Op die eerste internasionale radio-uitsending tussen Suid-Afrika, Brittanje en Amerika op die verjaardag van mev. Isie Smuts, vrou van die destydse premier, Generaal Jan Smuts, het die sangeres Gracie Fields, Sarie Marais gesing. In die Tweede Wêreldoorlog het 'n buitestasie van soldate in Noord-Afrika die naam "Sarie Marais Calling" gehad.

Die eerste Suid-Afrikaanse seiljag se naam was ook Sarie Marais en duisende besoekers het al in die Durban-hawe op die Sarie Marais-plesierboot gevaar.

Duitsers het 'n pienk roos met die naam Sarie Marais gekweek, waarvan voor die Pantserskool in Tempe, Bloemfontein, geplant is (SA biblioteek se katalogus-inskrywing AP.1998-227) .
Dan is daar natuurlik die gewilde vroue-tydskrif “Sarie”. Die naam kom ook van die volksliedjie Sarie Marais. Die naam was aanvanklik (1949) “Sarie Marais” maar almal het gou net van “Sarie” gepraat en die naam is so verander alhoewel die mashoof Sarie Marais gebly het tot einde Januarie 1976.
Die liedjie was dikwels oorsee foutiewelik as die Suid-Afrikaanse volkslied beskou. In 1932 is dit verkeerdelik op die Olimpiese Spele in Los Angeles as Suid-Afrika se amptelike volkslied gespeel.

Die Soeke na die vrou en die lirieke
In Die Byvoegsel tot Die Burger van 13 Januarie 1962 skryf Tobie Brümmer 'n artikel "Was sy Sarie Marais?". Daarin sê hy drie susters van Bellville, Jeanette, Garty en Dana Toerien sê daar is geen twyfel dat hul vader, J P Toerien, die liedjie se woorde geskryf het nie. Brümmer het in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum (NALN) ' n dossier, saamgestel deur ‘n Mnr. J P Toerien van Bergvliet, ‘n neef van die Toerien-susters, opgespoor wat ‘n groot versameling briewe en dokumente oor die onderwerp bevat het.
Daarvolgens het ‘n Verslaggewer van Die Volksblad (Die Burger se susterkoerant in Bloemfontein) in 1937 Mev. Sarie Toerien (gebore Maré) besoek. Sy het erken dat sy die Sarie is van wie gesing word en dat haar man, J P Toerien, beter bekend as Jepete in die dae van die Eerste Taalbeweging, die skrywer van die woorde is. Hul twee susters en ‘n broer het dit ook bevestig.
Mev. Toerien was baie godsdienstig en sy het die verslaggewer versoek om nie 'n bohaai daaroor op te skop nie want “selfverheerliking” was in stryd met haar nederige geaardheid. Sy het hom gevra om die berig eers aan haar voor te lê voor hy dit publiseer. Toe hy egter twee dae later daarmee opdaag wou sy nie hê dat dit gepubliseer word nie.
Oor die jare het Die Volksblad verskeie kere oor dié liedjie en oor Sarie geskryf maar sy wou nie tot 'n persoonlike onderhoud instem nie.

Op 5 Maart 1942 het 'n brief in Die Volksblad verskyn waarin die stelling gemaak is dat die skrywer van die woorde van Sarie Marais van “papbroekland” kom (oor die deel in die lirieke: “Ek was so bang dat die Kakies my sou vang......” en “Toe vlug ek na die kant van die Upington se sand ....”).

'n Kleinneef en naamgenoot van Mnr. J P Toerien, wat in Bloemfontein gewerk en met sy dogters kontak gehad het, het op die brief gereageer nadat die ontstelde niggies hom gevra het om dit te doen. Hulle het bevestig dat dit hulle pa is wat die liedjie se woorde geskryf het. Hulle het gevoel die briefskrywer het hom beswadder. Op 11 Maart 1942 het dié Mnr. Toerien se brief toe in Die Volksblad verskyn. Daarin het hy gesê wyle Mnr. J P Toerien, wat van die Paarl gekom het, die skrywer van Sarie Marais is en hy was geen papbroek van wie gesê kan word dat hy van “papbroekland” gekom het nie. Hy het ook daarop gewys dat die woorde aanvanklik was: “Sy was so bang dat die Kakies my sou vang”.
Daar word geglo dat Jepete eintlik veel groter aansien as Suid-Afrikaanse skrywer en digter behoort te geniet maar, afgesien van die verlies van baie van sy werk toe sy drukpers afgebrand het, het Sarie Maré glo kort voor haar dood in 1939 die kinders versoek om 'n trommel met ou dokumente van Jepete daarin te vernietig.
Mev Ella Unsworth, Jepete se jongste dogter, wat later in Windhoek gewoon het, is
waarskynlik die enigste van die kinders wat met sekerheid kan sê of haar
vader die skrywer van die liedjie is want sy is die een wat die opdrag gekry het om die trommel te verbrand. Sy het gesê dat sy in die trommel gekyk het en onder andere 'n gedig gesien wat haar vader oor haar moeder geskryf het toe hy haar nog die hof gemaak het. Sy het ook ander gedigte daarin gesien. Volgens die Toerien-susters kon hierdie trommel die oorspronklike woorde van Sarie Marais bevat het en was die een wat Ella gesien het waarskynlik die oorspronklike kopie.
In die NALN dossier is daar vier ander gediggies wat betrekking het op lede van die skrywer Jepete se skoonfamilie, Martha Maré, Nettie Maré, Lilly Maré en Sannie Maré. Vir 'n man soos Jepete is dit onwaarskynlik dat hy nie ook 'n gediggie oor sy vrou sou geskryf het nie. So 'n gedig kon egter nog nooit opgespoor word nie, behalwe dat die Toerien-susters sê daar was een en dat Ella dit gesien het.
Volgens navorsing van ’n broerskind van Jepete, ook J P Toerien, het Sarie gebelg gevoel omdat die liedjie "deur elke Jan Rap en sy maat" op danspartye gesing is en sy wou geen publisiteit hê nie.

(http://praag.co.za/?p=6661) en “Een Historissh-etymologische en Verklarende Wandeling doorheen de Studentencodex”)
Na haar man se dood in 1920 vestig Sarie haar by haar dogters in Bloemfontein. Sy is op 22 Desember 1939 daar in armoede oorlede en in 'n nederige ongemerkte graf in die Memoriam begraafplaas naby die Vrouemonument begrawe. 'n Vergete graf sonder 'n steen in 'n ou begraafplaas van Bloemfontein was dus die laaste rusplek van die vrou wat in haar jong dae die Afrikaanse woorde van die bekende liedjie, Sarie Marais, geïnspireer het.
SARIE MARAIS SE GRAF ONTDEK (Die Burger, 14 Augustus 1995)

Die opsporing van Sarie Maré se graf is die resultaat van 'n soektog deur mej. Joan Abrahams van Bloemfontein, beter bekend as Tant Mossie. In Spean Bridge, Skotland, het sy 'n hoteleienaar by die kommando-monument daar naby ontmoet waar hy 'n huismuseum bedryf het. Sy het daar ontdek dat Sarie Marais die amptelike regiment mars van die Royal Marines Commandos is. Dié verbintenis met die bekende liedjie spruit uit die Tweede Vryheidsoorlog. Die Britse Brigadier-Generaal Simon Fraser (14de Lord Lovat) was tydens die Anglo-Boere Oorlog in Suid-Afrika betrokke asook in die Eerste Wêreldoorlog. Beide hy en sy seun, Lord “Shimi” Lovat, wat weer in die Tweede Wêreldoorlog betrokke was, het die guerrilla gevegstyl van die Boerekommando’s oorgeneem en die Britse Commandos op die been gebring.

Ná haar terugkeer na Suid-Afrika het mej. Abrahams na Sarie se graf begin soek. Nadat sy naslaanwerk in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum (NALM) se Navorsingsentrum en elders gedoen het, het sy tot haar ontnugtering 'n ongemerkte graf met 'n paar molshope daarop in Bloemfontein opgespoor. Haar bevinding berus grootliks op die navorsing van mnr. J. K. Strijdom van Potchefstroom wat bevind het dat dié Sarie na wie die liedjie genoem is, heel waarskynlik bogenoemde mev. Susara Margaretha (Sarie) Toerien, gebore Maré (nie Marais nie) is.

Deur Abrahams se toedoen is 'n grafsteen op 10 Oktober 1995 in die Memoriam begraafplaas naby die Vroue-monument in Bloemfontein opgerig vir die vrou wie se naam nog deur die wêreld gehoor word.

'n Doringboom is glo ook by die graf geplant om mense te herinner dat Sarie by so 'n boom aan die Mooirivier gewoon het. Wat se doringboom geplant is, is nie bekend nie. Die boom wat in die liedjie na verwys word kan natuurlik ‘n “Groendoringboom” (Balanites Maugamii; Engels Torchwood) wees. ‘n Groendoringboom is nie enige “groen doringboom” nie. Die Groendoringboom kom veral in die heel noordelike dele van Kwazulu-Natal en die vêr-oostelike dele van Limpopo en Mpumalanga voor wat moontlik die Sarie Maré (1840-1877)-teorie ondersteun maar verskeie soorte doringbome (Acacia spesies) kom natuurlik oral in die Bosveld en Doringveld-wêreld van “Wyk Mooirivier” (in die huidige Noord-Wes Provinsie) voor en dit mag so ‘n doringbooom wees waarna in die liedjie verwys was.

(Bron: e-GGSA bibloteek: http://www.eggsa.org/library/main.php?g2_itemId=1378703)

Die verwysing na: “Daar onder in die mielies” gee ook nie werklik ‘n leidraad nie. Beide die Noord-Westelike Provinsie (en ook Heidelberg-omgewing in Gauteng) en die Natalse Middellande is bekend as goeie mieliewêreld.

BRIEF VAN BELGIË

In November 2011 is die volgende brief op die Genealogie-gesprekslys, SAGenealogie (Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.) ontvang:

“Mag ik mij voorstellen: Jan Ghyselen, lid kernredactie van De Roets, dé historische weekkalender in Vlaanderen (België) en laureaat van de prestigieuze Visser Neerlandia Cultuurprijs.

Het zou verwonderlijk mocht De Roets enige bekendheid bezitten in Zuid-Afrika. Indien u meer wil weten, neem dan zeker een kijkje op onze webstek: www.roetsinfo.eu. De Roets wil de mensen in Vlaanderen opnieuw hun 'roots' leren kennen. In de kalender wordt wekelijks een markante Vlaming of een persoon met een link naar Vlaanderen in het spotlicht gezet en dagelijks is er een pittig, interessant weetje.

Voor de uitgave van 2013 staat Susara Margaretha Maré (1869(sic) - 1939) [de vrouw van het liedje Sarie Marais, in Vlaanderen Sarie Marijs genaamd] op onze toplijst. Dit lied is bij ons in Vlaanderen goed gekend. Vlaanderen en Zuid-Afrika delen een taal met dezelfde stam en heel wat Vlamingen hebben zich vroeger (en nu nog) gesetteld in uw land.

Dus is er wel sprake van een band. Dat is ook een reden om mevrouw Maré in onze kalender op te nemen. Dus ben ik naar informatie beginnen zoeken op internet. Daarbij vond ik de webstek "Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika". Zo kom ik dan ook aan uw epost-adres.

We zijn dus op zoek naar levensverhaal van Sarie Marais. Naar de vrouw achter dat liedje. Ook weten we graag hoe dat lied hier bij ons in Vlaanderen zo populair kon worden. Wat de inhoudelijke betekenis van dit volkslied is ...

Kan u ons daarbij helpen?

Kan u ons een tekst/teksten bezorgen over het leven van die vrouw? Géén klassieke biografie maar een tekst met enkele ‘pittige' anekdotes die de vrouw of haar leven typeren. Of misschien kan u mij doorverwijzen naar bepaalde bronnen?

Op de webstek van uw genootschap vond ik enkele foto's van haar en van haar graf. Maar deze zijn niet geschikt voor hoogwaardig drukwerk. We zoeken foto's die voldoen aan een hoge resolutie 300 DPI in JPEG op postkaartformaat (10 op 15 cm).

Ik hoop van harte dat we bij u bij de juiste persoon/vereniging zijn om ons te helpen.

Hartelijk dank voor de eventuele hulp.

Vriendelijke groeten,

Jan Ghyselen
Noordburgweg 10
8630 Veurne
Vlaanderen (België)
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. ”

Die lysbestuurder van SAGenealogie, Dennis Pretorius, het vir Mnr. Ghyselen die inligting gestuur wat deur lyslede (kyk 14. hieronder) bygedra is.

Opgestel deur:

CHARLIE ELS
SEPTEMBER 2013.

Bronne:

1. Anglo-Boer War Museum: http://www.anglo-boer.co.za/
2. Chasselee: http://chessaleeinlondon.wordpress.com/tag/culture/
3. Die Burger, 14 Augustus 1995; http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2001/01/22/6/5.html
4. Een Historissh-etymologische en Verklarende Wandeling doorheen de Studentencodex; Akim Willems
5. eGGSA Bibloteek: http://www.eggsa.org/library/main.php
6. FAK-Sangbundel, Vierde Uitgawe 1979 Tafelberg – 1979
7. Greytown DotCoZa: http://www.greytown.co.za/
8. MyHeritage.com: http://www.myheritage.com/
9. National Youth Development Trust webwerf: http://www.nydt.org/home.asp?pid=1290
10. Ons Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek: http://esl.ee.sun.ac.za/~lochner/blerkas/musiek/143.mid
11. Praag.co.za: http://praag.co.za/?p=6661
12. Pretoria Brief; Rosa Swanepoel; Oktober 2011
13. SA Geslagregisters Volume 5. bl. 473; Genealogiese Insituut van Suid-Afrika, Stellenbosch, 1999
14. SAGenealogie: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees., November 2011; bydraes deur: Dennis Pretorius, Simon du Plooy, J J Swanepoel, Alta Griffiths, Maureen Joubert, Stefaans Cilliers e.a.
15. Sarie Marais.com: http://www.sariemarais.com/ en spesifiek:
http://www.sariemarais.com/geskiedenis%20persoon.html
16. Schabort Family History 1500 – 2000, Piet Schabort (2001)
17. SOUTH-AFRICA-L Archives: Contributions by Frans van Aartsen, Barend Venter, Wayne Nefdt, Sep 1997, Mansell Upham and Jon Seagers, Oct 1999:
http://archiver.rootsweb.ancestry.com/th/read/SOUTH-AFRICA/1999-10/0941100717
18. The Havemanns Family History Centre:
http://www.havemann.com/za-havemanns.html
19. Tshwane Beeld, 18 April 2012; Wie was Sarie Marais eintlik? Lappe Laubser.
20. Wikipedia Encyclopaedia: http://fr.wikipedia.org/wiki/Sarie_Marais)
en: http://en.wikipedia.org/wiki/Septimus_Winner

  • Created on .
  • Last updated on .
  • Hits: 9300

Kontak die Webbladbestuurder

Terugvoer, voorstelle en regstellings word verwelkom.
Kontak asb die Webbladbestuurder

Visitors to this web site

Today661
Yesterday752
This week2037
This month10567

Visitor Info

  • IP: 3.85.214.0
  • Browser: Unknown
  • Browser Version:
  • Operating System: Unknown

Who Is Online

6
Online

Woensdag, 16 Oktober 2019 23:35