Behalwe vir die naam van die oorledene, is die inligting op die twee sterfkennisse dieselfde.
Die feit dat sy moeder in albei sterfkennisse beskryf word as Salomina Catherina Matthews (formerly Van Aardt), het onmiddellik die indruk geskep dat sy eers met Van Aardt getroud was en daarna met Matthews. Omdat dit haar seun se sterfkennis is, word daar nêrens van haar nooiensvan melding gemaak nie. Die volgende boedel wat ek opgespoor het, was dié van Salomina Catherina self, boedel nr. 3919/38. Die geskrewe sterfkennis het die volgende inligting bevat:
Salomina Catherina van Aardt (born Mattheus) – die ‘u’ in Mattheus is onderstreep – also known as Salomina Catherina Matthews
Ouderdom: 53 jaar 10 maande. Woonplek: 3de Laan 16, Orange Grove, Johannesburg. Eggenoot: Willem Adriaan van Aardt married out of community of property but divorced. Datum van dood: 27 Oktober 1938 (LW. Slegs 5 maande na haar seun se dood).
Kinders: 
Kitty Spradbury (born Van Aardt)
Chrissie Else (born Van Aardt)
Wilemina van Aardt (known as Wilma Matthews)
Rita Dorothea van Aardt (also known as Rita Dorothea Matthews) Born 20/5/1919.
Geteken te Johannesburg op 31 Oktober 1938 deur W. Matthews ‘daughter not present at death.’

Die indruk wat deur hierdie sterfkennis geskep is, soos in haar seun se sterfkennisse, is dat Salomina Catherina se nooiens van Mattheus was, eers getroud met Van Aardt en daarna moontlik met Matthews. Na die kinders word reeds verwys as Matthews. Op hierdie tydstip was hierdie twee sterfkennisse die enigste van dié gesin wat in die Argief beskikbaar was. Ek was nog nie vertroud met die Meesterskantoor nie, en sou eers op ‘n later stadium die sterfkennis van Willem Adriaan van Aardt opspoor. Dit was in boedel nr. 1670/53 wat die volgende inligting bevat het:
Willem Adriaan van Aardt Ouderdom 74 jaar 6 maande; Woonplek: 8ste Straat 40, Bezuidenhoutsvallei, Johannesburg; Datum van dood: 19 Februarie 1953' Eggenote: Aletta Susanna van Aardt (born Schutte)
First wife: Mrs. Salomina Catharina van Aardt (born Mattheus) divorced – since deceased in 1939
Kinders: Five children of first marriage
Salomina Catharina Spradbury (born Van Aardt)
Johanna Christina Hubery (born Van Aardt)
Wilhelmina Newton (born Van Aardt)
# Rita Dorothea Riley (born Van Aardt) # Hendrik Petrus van Aardt (died in 1939)
No children of second marriage
Geteken te Johannesburg op 7 Maart 1953 deur A. van Aardt Surviving spouse present at death   #  Also went under the name of Mattheus (doodgetrek) Matthews before they were married.

Nou was ek lekker deurmekaar. Was Salomina Catherina se nooiensvan Mattheus of Matthews, of was sy na haar egskeiding van Willem Adriaan weer getroud en wel met Matthews? Wat wel baie duidelik uit hierdie sterfkennisse geblyk het, was dat Salomina Catherina en haar kinders Van Aardt as van, amptelik of nie-amptelik, weggegooi het en onder die van Matthews bekend gestaan het.Die prentjie is uiteindelik verhelder met die verskyning van volume L-M van die SAG, ek dink dit was in 1999. Ek het heel eerste Matthews opgesoek, maar tevergeefs. Daarna het ek my tot Mattheus gewend en siedaar! Daar het Salomina Catherina en haar ouers se name gepryk.

Die deurbraak was gemaak. Nou was die prentjie glashelder. Salomina Catherina se nooiensvan was bo alle twyfel Mattheus. Na haar egskeiding van Willem Adriaan van Aardt in 1931, het sy besluit om weer haar nooiensvan aan te neem, ook vir haar kinders. Maar nou het daar ‘n kinkel in die kabel gekom. Vanwaar Matthews? Of dit so beplan is, en of dit ‘n skryffout deur ‘n amptenaar was, is nie duidelik nie. Dit is ook moontlik dat sy onder Engelse invloed (haar dogters is almal met Engelssprekendes getroud) ‘Mattheus’as ‘Matthews’ uitgespreek het en dit toe later as sulks in dokumente opgeneem is. Feit is egter dat sy en haar kinders na die egskeiding bekend gestaan het as Matthews, d.w.s die letter ‘u’ in Mattheus is deur die letter ‘w’ vervang. Ek was ook nou tevrede dat sy nie vir ‘n tweede keer getroud was nie.

In 2008 het ek die wonderwêreld van die internet betree. Ek het allerhande dinge probeer om inligting rakende die Van Aardt familie te bekom. Op ‘n dag het ek ‘Van Aardt’ op Google ingesleutel en was oorweldig deur die reaksie wat ek gekry het. Met die deurkyk van die inligting, het een berig my aandag getrek en vasgevang. Dit was ‘n navraag deur ene Rachel Shelley in Nieu-Seeland. Sy het inligting gesoek oor die genealogie van Willem Adriaan van Aardt en sy vrou Salomina Catherina. 
Ek het sonder versuim met Rachel in verbinding getree. Sy het die volgende inligting verskaf:
Rita Dorothea van Aardt/Matthews/Riley se dogter, Moira-Anne Riley, is getroud met Frank Shelley en hulle het in 1984 na Nieu-Seeland verhuis. Hulle seun, Bruce, is in Nieu-Seeland met Rachel McCarty getroud. Die bejaarde Rita Dorothea Riley het saam met haar dogter en skoonseun na Nieu-Seeland verhuis en is in 1994 in Dunedin oorlede. Verder het Rachel gemeld dat haar skoonmoeder, Moira-Anne, aan ‘n seldsame spierdistrofie ly en dat sy (Rachel) probeer vasstel of dit oorerflik is, en indien wel, uit watter familie dit kom. Rachel het haar navrae tot in Brittanje gevoer maar of sy ooit die wortel van die siekte ontdek het, weet ek nie. Ek kon haar darem gerusstel dat na die beste van my wete, dit nie ‘n siekte is wat in die Van Aardt familie voorkom nie.

Ek het ‘n vroeë waardevolle les uit hierdie episode geleer, nl. dat ‘feite’ wat in sterfkennisse vermeld word, nie altyd op sigwaarde aanvaar moet word nie, maar dat verifiëring, waar moontlik, altyd aan te beveel is.