Kon dit dalk ‘n kleinkind wees?  Al soekend onder Alexander se manlike nageslag lewer die argiewe niks verder op nie. Dan gee dr David de Klerk uit Worcester my onlangs ‘n webskakel na die data van ABO-Museum in Bloemfontein, waar Alexander Oscar en Robert Gert se sterfdatum voorkom, as synde 3 Maart 1902.  Watter datum is korrek?
En hierdie week (9 Mei 2013) vertel my vriend en navorser uit Waterval-Boven, Piet Schoeman, dat die “joiners” - of “National Scouts” soos die Britte hulle genoem het - dikwels Boerekrygers doodgeskiet het.  Sou dit die geval met Alexander en Robert gewees het?  Volgens ‘n bron wat Piet geraadpleeg het (Military History Journal Vol. 1, 1998), was Alexander ‘n assistent-veldkornet wat ‘n heliograafstasie op Elandskloof  beheer het.
Dr De Klerk het ook ‘n ander skakel gegee, na die Universiteit van Kaapstad se data oor die konsentrasiekampe.
En Aha:  dáár vind ek die aanduiding onder Aletta Petronella BASCH, geb. Stoltz - destyds in die Barberton-kamp - dat “Robert Daniel, aged 15” saam met sy pa Alexander Oscar op kommando was.
Weliswaar verskil die tweede naam, asook die ouderdom, maar ek glo die waarskynlikheid is groot dat ons met dieselfde individu te make het:  Robert BASCH wat as penkop in die ABO geveg het en om die lewe gebring is.
Ten minste is sy naam by Bergendal verewig.