Nou sit ek in 'n doodloopstraat – ek het datums maar daar eindig dit. Hoe vind ek uit of hy broers en susters gehad het, wie sy ouers was. Ek los  dit maar weer, maar ek het darem gevorder!
En ek woon die Konsentrasiekamp konferensie by en kom weereens onder die indruk van gebeure.  Ek besluit om (met my nuwe 3g aansluiting) op die internet te gaan krap en kyk of ek spore vind van my familie in die konsentrasiekampe.  Ek weet daar was Engelbrecht’s  in die Balmoralkamp en dat sommige daar gesterf het. 
Na ek deur die Engelbrecht’s geblaai het begin ek die ander vanne soek – onder andere Coetzee.  Daar is een Petrus Stephanus en ek kyk gou op my databasis om seker te maak.
My PS Coetzee moes omtrent 9 gewees het in 1901 en hierdie enetjie was maar 5.  Steeds niks. Skoon moedeloos dat dit nie hy is nie.
Sondag gaan eet ek by my ma en besluit om my skootrekenaar saam te neem en vir haar te wys waarmee ek besig is.  Hulle wonder altyd en as ek vertel hoeveel ure ek daaraan spandeer is hulle baie ongelowig. Ek wil haar bietjie wys sodat sy verstaan.
En daar sit ons en ek wys vir haar heeltyd so tussen skerms op die internet en op my databasis hoe dinge inmekaar steek.  Ek wys vir haar oupa PS Coetzee (haar oupa) se profiel en hoekom ek sê dis nie die een in Middelburgkamp nie want hy was te oud.  Sy druk haar vinger op die skerm en vra – is dit hoe oud hy was toe hy dood is?  Ja, 72.  Nog nooit sê sy, sy weet hy was nog nie 70 nie.
WAT?  Gaan kyk weer.  Gelukkig het ek foto’s geneem van die LDS se inligting ek hoef nie te wonder of ek verkeerd afgeskryf het nie.  Kry die foto, nee, daar staan dit duidelik.  Hy was 68.  En die datums?  Ek het dit ook reg afgeskryf maar met die inligting op skrif wat sê hy was 68 en sy wat onthou dat hy nie 70 kon wees, kyk ek weer na die geboortedatum.
Ek twyfel nie oor die sterfdatum nie want dis mos kronologies  in die rekords opgeneem. En glo, hy was 5 toe hy in Middelburg konsentrasiekamp was!!  Ek sit en spring op my stoel en lag en wil sommer iemand vasdruk!  Ek kyk na my ma en sy het trane in die oë -  dis vir haar te wonderlik om die detail van haar oupa te sien.  Daar het ons sy pa se name en sy broers en susters.  Ongelukkig is sy ma opgeteken as “Mrs Johannes Petrus Coetzee”, maar ek is vol vertroue dat ek haar gaan opspoor.  Ek het immers nou heelwat leidrade!