Daar was egter nog ‘n ontbrekende skakel, nl. die graf van Carolus Johannes se vader, Frans Johannes van Aardt. Hy het op die plaas Roodewal wat suid van die Bosberg op die wesoewer van die Groot Visrivier geleë is, geboer. Sy eerste vrou, Susanna Wilhelmina Tregardt, suster van die trekkerleier Louis Tregardt, het die kookhuis vir die Britse soldate by Pos Roodewal bedryf. Vandaar die naam Kookhuisdrif, Kookhuis en later Cookhouse. Na haar betreklike vroeë dood, datum onbekend, is Frans Johannes weer getroud en wel met Maria Johanna Mentz, weduwee van Charles Allen. Volgens haar sterfkennis ‘she died accidentally on the road to Balfour, district Stockenstrom’ op 30.01.1869. Volgens Frans Johannes se sterfkennis, is hy op 06.06.1856 in die distrik Somerset-Oos oorlede.

Die plaas Roodewal is na meer as 200 jaar nog in familiebesit. Dit behoort tans aan Willem Petrus van Aardt, nasaat van Frans Johannes en Susanna Wilhelmina van Aardt en bekende Merinoboer van die Oos-Kaap. My soeke na die graf van Carolus Johannes het ook Willem van Aardt se belangstelling geprikkel. Sowat drie weke gelede het hy gewapen met ‘n afdruk van William van der Vyver se foto van Carolus Johannes se grafsteentjie die plaas Modderfontein gaan soek. Hy het dit sonder veel moeite gekry. Die plaas is egter deesdae onbewoon en is as ‘n jagplaas ontwikkel. Met die nodige toestemming het Willem die plaas in sy viertrek bakkie deursoek en uiteindelik die oorblyfsels van die plaaskerkhoffie gekry. Dit bestaan egter nie meer as sulks nie en daar het slegs drie grafstene rondgelê, nl. dié van Carolus Johannes en twee Van der Vyvers, waarskynlik Carolus Johannes se skoonouers.

Na oorlegpleging met my, het Willem die grafsteentjie van Carolus Johannes teruggeneem na sy woonplaas. Dit is ‘n wit marmersteentjie 40 x 40 cm en 30 mm dik. Die letters daarop is na 180 jaar nog duidelik maar die steen self is begroei van mos en ligene. Willem het die steen netjies skoongemaak en dit in ‘n raam van hoekyster geplaas om te voorkom dat dit bars en breek en toe in die Van Aardt familiekerkhof op Baviaanskrans staan gemaak.

En terwyl Willem besig was om die steentjie skoon te maak, het ‘n wonderlike ding gebeur. Een van sy bejaarde plaaswerkers het hom met die taak gehelp. En toe vra die plaaswerker vir Willem of hy weet van die grafte ‘n paar honderd meter daarvandaan, langs die Visrivier. Willem het ontkennend geantwoord waarop die werker aangebied het om dit te gaan uitwys. Daar gekom, was die terrein egter so dig begroei dat hulle nie die grafte kon bereik nie. Die volgende dag het Willem ander werkers Pieter van Aardtdaarheen geneem en dit het hulle twee dae geneem om ‘n pad deur die digte boskasie oop te kap. En daar lê dit toe, drie grafstene van sandsteen. Twee van die grafstene is tot so ‘n mate verweer en uitmekaar gebreek, dat hulle onherkenbaar is. Die inskripsies is ook heeltemal tot niet. Dat daar nog iets oorgebly het, was op sigself ‘n wonderwerk want die kerkhoffie het reg in die pad van die 1974 vloed gelê wat twee diep slote aan weerskante daarvan uitgespoel het.

Maar die derde steen het vir nog ‘n hoenderveloomblik gesorg. Alhoewel ook in stukke gebreek, kon ek nadat die stukke teenmekaar gepas is, die naam Frans Johannes van Aardt en die sterfdatum 6 Junie 1856 daarop onderskei word.

Wat my betref is die sirkel wat ek in 1984 begin trek het nou in 2010 voltooi met die restourasie van Carolus Johannes se grafsteentjie en die ontdekking van Frans Johannes se graf en waarskynlik die grafte van sy twee eggenotes.