Geskryf deur Ria Slabbert. 11 Julie 2013

Dis nie net te min inligting wat ʼn uitdaging is vir ʼn nuuskierige genealoog nie;   voorouers se geite en  giere, maar ook hul sterk  oortuigings kan mens baie lank op ʼn dwaalspoor hou.     Al het ons GGSA-tak al die beginners baie mooi geleer hoe om te werk te gaan, het my oumagrootjie my goed  deurmekaar gehad.
My oupa en ouma STOKES het redelik gehou by die tradisionele naamgewingspatroon en dus, so het ek gedink, behoort ouma Anna Maria Elizabeth OLIVIER se oudste dogter haar ma se naam te dra. Maklik,  ek soek net na ʼn Susanna Georgdien wat met ʼn Jan Tielman OLIVIER getroud was.   Verder het ek darem my ouma se geboortedatum,  1889 gehad om vanaf terug te werk.
Die gewone bronne het egter niks opgelewer oor á½¹f my ouma- á½¹f oupagrootjie nie.  Uiteindelik het  ‘n Oliviernavorser, Yvonne Robinson, goedgunstiglik inligting beskikbaar gestel oor  Jan Tielman se herkoms en het sy aangedui dat  hy met ‘n Susanna LOTZ getroud was.  Maar …. Haar tweede naam was Isabella en sy is al in 1845 gebore!
Uiteindelik het dit geblyk dat Susanna voorheen met C.J. Langenhoven se oom getroud was en dat Jan dus met haar, as ‘n weduwee met vier kinders, getroud is.  Jan was ook voorheen getroud.  Op  hierdie stadium dink ek dat sy eerste vrou Susara Christina LOU(W)RENS was en dat hul ten minste twee seuns gehad het.  Intussen is daar gelukkig ook kontak gemaak met meer van oupa- en ouma-grootjie se ander  nasate.
Opvallend  egter was dat tannie Tienie, een van die niggies, wat na ouma Susanna Isabella vernoem is, se tweede naam eweneens nie Isabella is nie, maar wel Martina.  Dit het verder geblyk dat al die niggies wat na hul ouma (bekend as ouma Sannie) vernoem is, se tweede name verskil het en dat nie een Isabella as tweede naam gehad het nie?  Op my verbaasde navraag, gee tannie Tienie toe die volgende interessante verklaring:   Ouma Sannie was mos vreeslik gelowig.   Sy het al haar kinders verbied om haar tweede naam te gebruik, want, het sy hulle herinner, dit was mos die naam van die afvallige Koning Agab se Baälaanbiddende vrou!  En … dié vrou (wat eintlik Isebel was) het die Baäl-priesters gestuur om die profeet van God, Elia, dood te maak!