Presentations at North West

Stam ek van die Waldensers af?

Kobus du Pisani is 'n Professor in Geskiedenis by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit waar hy sedert 1995 werk met net 'n onderbreking van een jaar toe hy 'n besoekende professor by die Hangkuk University for Foreign Studies in Seoul, Suid-Korea, was. Hy het geskiedkundige navorsing gedoen oor onder meer John Vorster, die evolusie van volhoubare ontwikkeling, Afrikanermanlikhede en erfenisbestuur. Hy stel, soos die meeste mense, belang in sy eie afkoms en familiegeskiedenis, maar het geen opleiding in genealogie nie.
Tydens GGSA Noordwes se byeenkoms van 5 Nov 2012 het hy die taklede toegespreek oor die onderwerp “Stam ek van die Waldensers af?”
Die Waldensers is 'n baie interessante kerkgroep wat al eeue voor Luther van die Katolieke Kerk weggebreek het en weens vervolging tydens die Inkwisisie 'n stryd om oorlewing in die Alpe gevoer het.
In 'n boek oor die Joubert-familiegeskiedenis in Suid-Afrika word beweer dat Pierre Jaubert, die stamvader, bande met die Waldensers gehad het, so ook ander Hugenoot families soos die Jordaans en andere, maar is dit waar?
Stam ek dalk van die Waldensers af? - Kobus du Pisani
Dit is moontlik, maar ek is nie 100% seker nie.
My Suid-Afrikaanse stamvader van my ma, 'n nooi Joubert, se kant af is Pierre Joubert, wat in 1665 gebore is en as 'n jong man saam met die Hugenote in 1688 in die Kaap aangekom het.
Pierre se oupagrootjie was volgens P.G. Joubert se Die Jouberts in Suid-Afrika 1688-2008 Sebastien Joubert. Hy het glo uit 'n Waldenserfamilie gestam, wat uit die Alpevalleie in Piëmont in Noordwes-Italië na Lourmarin in Provence in Suidoos-Frankryk verhuis het.Ek het onlangs met Juna Malherbe by die Hugenotemuseum in Franschhoek gesels.

{module Dupiesani}

Volgens haar boekie oor Pierre Jaubert en sy gesin word hy soms met sy neef met dieselfde naam verwar, wat 'n jaar ouer as hy was. Volgens haar was hy nie van Waldensiese afkoms nie en het geen Waldensers saam met die Hugenote na Suid-Afrika gekom nie.
Voordat ek verder gaan, noem ek net ‘n paar interessante feite in Juna Malherbe se boekie oor die Jouberts:
•     Die van is oorspronklik met ‘n “a” gespel: J-A-U-B-E-R-T. Hollandse amptenare aan die Kaap het met die Franse spelling gesukkel en 25 verskillende spellings van die van kan in dokumente gevind word.
•    Pierre was vasberade om sy Bybel te behou toe hy moes vlug. Hy het dit in ‘n doek toegedraai en binne ‘n gebakte brood versteek. Daardie Nuwe Testament van 1672 word tans by die Hugenotemuseum in Franschhoek uitgestal.
•    Pierre Jaubert se eerste vrou en Isabeau Richard se eerste man is albei skynbaar aan boord die skip Berg China op pad na die Kaap dood en hulle twee is daarna deur die skeepskaptein in die huwelik bevestig.
•    Hulle het van Provence gekom en ‘n Provencaalse dialek van Frans gepraat. Dit is waarskynlik waarom hulle kinders en kleinkinders aan die Kaap so vinnig verhollands het.
•    Pierre en Isabeau het 11 kinders en 55 kleinkinders gehad.
•    Van al die Hugenote het Pierre Jaubert die meeste plase aan die Kaap besit, insluitende Olifantshoek (nou Franschhoek) wat hy La Provence genoem het, Bellingham, La Motte, Bartholomeusklip, De Winterhoek, De Plaisante, Montpellier, La Roque, L’Ormarins, Kruijshof, Nabijgelegen en Standvastigheid. Sommige van hierdie plase tel vandag onder die voorste wynlandgoedere.
•    Pierre en Isabeau kon nie lees en skryf nie, maar hulle het hul kinders deur huismeesters laat onderrig.
•    Pierre is nooit as kerkraadslid of heemraadslid benoem nie.
•    Al kon hy nie lees nie, het Pierre 267 dokumente opgegaar, wat vandag in die Kaapse Argief bewaar word.
Terug by die draad van my storie. Weens die meningsverskille hieroor tussen die skrywers van Joubert-familiegeskiedenisse is ek nie seker of ek van Waldensiese afkoms is nie, want ek het nie self daaroor navorsing gedoen nie.
Maar dit keer my nie om u vanaand meer oor die Waldensers te vertel nie. Dit is ‘n kerk met ‘n aangrypende geskiedenis, wat al langer as 800 jaar bestaan. Die meeste van die inligting het ek uit Giorgio Tourn se boek You are my witnesses, die volledigste geskiedenis van die Waldensers gekry. Hier en daar het ek ook brokkies inligting in internetbronne gekry.Op skool het ons natuurlik van die Hervorming geleer en die name van veral Martin Luther en Jean Cauvin (verafrikaans tot Johannes Calvyn) is aan ons almal welbekend as baanbrekers van die Hervorming.
Hoeveel van u weet dat 350 jaar voordat Luther sy 95 stellings in 1517 daar op die kerkdeur van Wittenberg vasgekap het, daar al 'n ander kerkhervormingsbeweging was? 'n Beweging van getroue gelowiges wat Rome vir eeue lank uitgedaag het en volgens hulle leuse Lux Lucet in Tenebris, 'n lig wat in die donker skyn, geleef het.
Die Waldensers noem hulleself die moeder van die moeder van die Hervorming. Hulle storie begin in 1170, wat hulle die oudste steeds bestaande Protestantse denominasie maak. 'n Man, wat verskillende name in verskillende tale gekry het – hy word alternatiewelik Valdesius, Valdes, Peter Walda of Pietro Waldo genoem - het rondom 1170 'n dramatiese ommekeer in sy lewe ondergaan. Hy was voorheen 'n welgestelde handelaar in die stad Lyon, maar hy het tot die oortuiging gekom dat indien hy 'n ware dissipel van Jesus wou wees, hy Jesus se raad aan die ryk jong man moes volg, van sy rykdom ontslae moes raak en 'n eenvoudige bestaan moes voer. Hy het sy besittings aan die armes uitgedeel. Waldo was 'n tydgenoot van Franciskus van Assissi wat hom ook tot 'n lewe van eenvoud en armoede verbind het.
Waldo en sy klein groep volgelinge het self as Die Armes bekend begin staan, omdat hulle hulself gesien het as die "armes van gees" waarna Jesus in die Saligsprekings verwys het. Hulle het hulle nie in 'n klooster afgesonder nie, maar tussen die gewone mense gewoon en gewerk. Aan diegene wat hom bespot het, het Waldo gesê dat hy sy hoop op God eerder as op sy goed wou stel. Een van die Waldensers se vervolgers het hulle later beskryf as naakte dissipels van 'n naakte Christus, wat niks behalwe hul geloof besit het nie. Valdesius het geen geskrifte nagelaat nie en is ook nie deur sy volgelinge as 'n heilige vereer nie, omdat hy maar net sy geloof in die praktyk wou uitleef.
Dit was nie die Waldensers se doelbewuste opset om van Rome 'n vyand te maak nie. Hulle het egter die foute van die kerk raakgesien, insluitende buitensporige rykdom, korrupsie en leerstellige foute. Hulle was gekant teen die gesag van die pous, redding deur geloof en werke, gebede tot afgestorwenes, aanbidding van beelde, transubstansiasie (die werklike verandering van die brood en die wyn in die liggaam en bloed van Jesus) en die vaevuur.
Die eerste Waldensers het die Bybel in die volkstaal laat vertaal baie lank voordat Luther dit gedoen het. Dit was die eerste vertaling van die Bybel in 'n ander Europese taal as Latyn. Die Waldensers het, in konflik met die Katolieke Kerk se opdrag dat leke nie die Skrif in die openbaar mag lees en vertolk nie, dit gewaag om die evangelie op straat te verkondig om dissipels van Jesus onder die gewone burgers te probeer maak. Selfs vroue het gepreek, iets ongehoord in daardie tyd. Dit het hulle uit die staanspoor in konflik met die kerk gebring wat die Woordverkondiging tot opgeleide geestelikes wou beperk. Die Aartsbiskop van Lyon het hulle verbied om die evangelie te verkondig, maar soos die apostels in Handelinge het hulle gesê dat hulle God eerder as mense moet gehoorsaam. Hulle het eredienste in hul huise gehou. Hul geestelike leiers is barbe (ooms) genoem, wat twee-twee saam gereis het om die evangelie te verkondig. Die Armes van Lyons-beweging het na ander dele van Frankryk, Italië, Duitsland en verder versprei.
Die Waldensers se verset teen aspekte van die Katolieke Kerk se leer het uiteindelik daartoe gelei dat hulle uit die kerk en die land verban is.  Waldo is in 1177 uit Lyons verban. Hy en sy volgelinge het hulleself steeds as Katolieke beskou en na Piëmont uitgewyk. Twee jaar later het hy sy siening voor Pous Aleksander die Derde in Rome gaan verdedig. Volgens Waldo se geloofsbelydenis van 1180 het die Waldensers in die Drieëenheid van God en die twee nature van Christus geglo. Die Derde Lateraanse Raad het die Waldenserbeweging verwerp en Pous Lusius die Derde het Waldo by die Sinode van Verona in 1184 geëkskommunikeer. Die Vierde Lateraanse Raad het die Waldenserbeweging in 1215 tot 'n kettery verklaar.
Ketters moes sterf. Gevolglik het 'n veelbewoë geskiedenis van vervolging, martelaarskap en teregstelling vir die Waldensers voorgelê. Waldo se oortuigings oor 'n lewe van eenvoud en toewyding het merkwaardig met dié van Fransiskus van Assissi ooreengestem. Ironies het die Franciskane tydens die Inkwisisie die hoofvervolgers van die Waldensers geword. Hulle is in die 12de, 13de en 14de eeu genadeloos vervolg en na verskillende Europese lande verstrooi.
Meeste van hulle het in die Alpe skuiling gevind. Tydens die kruistog van Pous Innocentius die Derde is die Waldenserbeweging feitlik uitgewis. Klein groepies het oorleef in die Alpevalleie in wat vandag Noordwes-Italië is. Tot vandag is dit die basis van die Waldenserkerk, wat 'n Provensaalse dialek gebruik. Die Waldensers het in die geheim in woude, grotte en huise byeengekom.
In die 16de eeu het die Waldensers besluit om by die Protestantse Hervorming aan te sluit. By die Sinode van Chanforan in 1532 het hulle die Protestantse geloofsbelydenis en gereformeerde kerkstruktuur aanvaar. Hulle het weer begin om openlik saam in dorpe te aanbid.  Teen die begin van die 17de eeu het hul getalle tot 20,000 aangegroei.
Die Teenhervorming het groter vervolging as ooit gebring. Die wrede uitdelging van een groep Christene deur 'n ander groep Christene was een van die donkerste blaaie in die kerkgeskiedenis. Waldensers in Provence en Suid-Italië is uitgeroei. In die Waldensiese Alpevalleie kon Emanuele Filiberto hulle weens hul hardnekkige verset nie verslaan nie. Hy was verplig om die Verdrag van Cavour in 1561 met hulle te sluit. Dit het aan hulle geloofsvryheid in die valleie toegeken, maar hulle verbied om buite die valleie uit te brei.
Dit was nog nie die einde van die vervolging nie. Die Hertog van Savoje het die Waldensers in 1655 die keuse gegee om die Katolieke mis by te woon of hul grond en huise te verlaat en hoër op in die berge te vlug. Hulle het verkies om weer te verhuis. Italiaanse en Franse Katolieke magte het met dagbreek op Paassondag 1655 die Waldensers aangeval en afgemaai. Meer as 1,700 Waldensers het in die Piëmont-paasslagting omgekom. James A. Wylie beskryf in sy History of the Waldenses die verskriklike gruweldade teen die Waldensers op daardie dag. John Milton het in sy sonnet "On the late massacre in Piedmont" hieroor getreur:
Avenge O Lord thy slaughtered Saints, whose bones
Lie scatter’d on the Alpine mountains cold,
Ev’n them who kept thy truth so pure of old
When all our Fathers worship’t Stocks and Stones.
Forget not: in thy book record their groans
Who were thy sheep and in their ancient fold
Slayn by the bloody Piedmontese that roll’d
Mother with infant down the rocks. Their moans
The vales redoubl’d to the hills, and they
To heav’n. Their martyred blood and ashes sow
O’re all th’ Italian fields where still doth sway
The triple tyrant: that from these may grow
A hundred-fold, who having learnt thy way
Early may fly the Babylonian woe.
Oorlewendes is later toegelaat om na hul huise terug te keer en vir 'n tyd lank in vryheid te aanbid.
In 1686 het die Franse soldate van Lodewyk XIV en Vittorio Amadeo se Piëmontese magte die Waldensiese valleie binnegedring, 'n groot deel van die bevolking uitgemoor en die oorlewendes opgesluit. Die Waldensers is gedwing om Katolieke te word of na Switserland en Duitsland te migreer. Sommige het later permanent na die valleie teruggekeer, is nie weer vervolg nie en het in die 19de eeu politieke en burgerregte gekry.
Ander is saam met die Hugenote na ander wêrelddele verstrooi. Dit is hier waar die moontlikheid inkom dat Pierre Jaubert, die Joubert-stamvader in Suid-Afrika, dalk 'n Waldenser kon wees, wat van Switserland om Frankryk na Nederland beweeg het en by die Hugenote aangesluit het. Soos vroeër gemeld bied die twee Joubert-familiegeskiedenisse twee teenstellende menings hieroor. Juna Malherbe is waarskynlik reg dat geen Waldensers saam met die Hugenote na Suid-Afrika gekom het nie. Die Waldenserkerk het nie in Suid-Afrika posgevat nie.
Ondanks al die vervolging en slagtings deur kerk en staat het die Waldenserkerk meer as 800 jaar tot vandag bly voortbestaan.
Dus is ek steeds nie 100% seker of ek van Waldensiese afkoms is nie. Die les wat ek by herhaling as historikus geleer het uit my eie onsekerheid oor my moontlike Waldenser-afkoms, is dat ‘n mens nie dit wat as feite in familiegeskiedenisse aangebied word, sommer op sigwaarde moet aanvaar nie. In die geskiedeniswetenskap is die navorsingspraktyk dat alle feite in ‘n bepaalde bron getoets moet word teen feite uit minstens twee ander geloofwaardige bronne, voordat met ‘n redelike mate van sekerheid as die waarheid aanvaar kan word. Skrywers van familiegeskiedenisse behoort ‘n punt daarvan te maak, indien hulle onseker is oor ‘n bepaalde feit of stelling, om vir die lesers aan te dui dat dit ‘n ongetoetsde stelling is, waarvan die waarheid nog bevestig moet word. Dit kan verhoed dat die gebruikers van daardie familiegeskiedenis op dwaalspore beland. Wat die Joubert-familie se presiese wortels betref, sal iemand verdere navorsing in die Europese argiewe van die 17de eeu en vroeër moet doen om Pierre Jaubert se herkoms bo alle twyfel vas te stel.
Ten slotte wil ek net noem dat Simon vir my in die afgelope week e-posse aangestuur het, wat die volgende aan die lig gebring het:
Marthinus Jordaan het in 2005 in 'n artikel in Die Burger vanne soos Cordier, Durand, Faure, Hugo, Jordaan, Lombard, Malan, Meyer, Olivier en Roux as van Waldensiese afkoms aangedui, maar niks van Joubert gesê nie. Hy het ook in sy boek Van Cabrieres D'Aigues tot Cap de Bonne Esperance hieroor geskryf.
Daniel Jacobs het enkele dae gelede laat weet dat Hercules Malan soos volg reageer op die vraag of Pierre Jaubert 'n Waldenser was (ek haal aan):
"Dit is sekerlik so dat die Waldensers na die aansluiting met die Gereformeerde Kerk tydens die sinodesitting van Chanforan in 1532 nie meer as kerk bestaan het nie maar deel van die Hugenote was. Die Waldensiese afstammelinge uit Provence het dus as Hugenote en nie as Waldensers nie, na die Kaap gekom. Daar is egter geen twyfel dat die families wat na 1500 van Piedmont na Provence getrek het wel Waldensers was nie. Dit sluit verseker die vanne Malan. Minnaar (Mesnard) en Jordaan (Jourdan) in. Van die ander families wat as Hugenote van Provence af gekom het was vermoedelik ook van Waldensiese afkoms. Interessant toon ‘n boek wat in 2011 verskyn het “Migranti Valdezi – Delfinato, Piemonte, Provenza (1460-1560)” deur die gerekende kenner oor die Waldensiese geskiedenis Gabriel Audisio dat die Jouberts (Jaubert) definitief van Waldensiese afkoms is."
Hierdie boodskap laat my moed skep dat ek waarskynlik wel 'n Waldensiese afkoms het.

 

  • Hits: 98430

Contact the Web Manager

Feedback, suggestions and corrections are welcomed.

Please contact the Web Manager