Die Blink Brons Harnas

Posted in North West Stories

(FAMNEA JG 2: UITG 1. Apr 2005 – Artikel deur Esther Stieger)

Fred Brownell se besoek aan die GGSA van die Noordwestak (Potchefstroom), op 7 Februarie 2005, het groot byval gevind en almal het sy praatjie oor

{module NW Esther Stieger}

heraldiek besonder insiggewend gevind. As afgetrede staatsheraldikus het sy inligting ons almal met kommer laat begin wonder oor die geldigheid van ons eie familiewapens, wat so maklik in die kommersiële wêreld verkrygbaar is.
Die ontstaan van die heraldiek is histories geweldig interessant. Ek gaan nie oor familiewapens uitbrei nie, daarvoor het ons gelukkig mense soos mnr. Brownell. Hand-aan-hand hiermee gaan egter brons gedenktekens wat wapenrustings met wapenskilde, vanuit so vroeg as die 12de eeu, uitbeeld. Ek het enkele jare gelede ʼn belangstelling hiervoor ontwikkel, toe my ouers met ʼn versameling replikas van brons gedenkstene (“Brass Memorials”), uit die buiteland teruggekeer het. My moeder het destyds ywerig vryfprentwerk (“Brass Rubbings”) gedoen. Ná haar terugkeer na Suid-Afrika het sy ons só begeester, dat talle mense graag by haar wou lesse neem. Die brons afvryfwerk word met byewaskryte op spesiale papier gedoen en die eindresultaat is dikwels mooi genoeg om in ʼn mens se huis op te hang. Die idee van “Brass Rubbings” het by nonne begin wat vrye toegang tot die kerke gehad het, waar die reliëfbeelde op vloere, mure en op klip- of marmertafels voorkom. Hulle het baie tyd gehad om ure daar op hul knieë deur te bring.
Brons gedenkstene se grootste waarde lê egter nie in die dekoratiewe nie, maar in die histories korrekte weergawe van die kleredrag en veral wapenrustings van daardie era, toe kameras nog nie beskikbaar was nie. Hierdie “brasses” was gedenkstene wat opgerig is om mense (belangrikes, kerklui, ryk handelaars en veral die ridderklas) se grafte aan te dui in die kerke waar hulle begrawe is. Dit was gewoonlik in die vorm van ʼn reliëfbronsinsetsel in ʼn klip- of marmerblad,wat die oorledene uitgebeeld het. Die wapenrustings was individueel ontwerpen het nes familiewapens van mekaar verskil.
Om na Fred Brownell se praatjie terug te keer, wil ek graag iets noem waarna hy verwys het. Hy het onder andere die feit aangehaal dat die Engelse reeds op hul weg na die Ooste by die Kaap aangedoen het vir vars water, asook slagvee, wat hulle met blink goed soos krale en stukkies yster, by die inboorlinge verruil het. Voorwaar ʼn voordelige ruilhandel vir die seevaarders.
Maar, helaas, het slim tog sy baas gevang. Dit bring my dan nou eintlik by die storie van Kora, die eerste en seker ook die enigste Hottentot, wat sy eie wapenrusting met ʼn vreemde ompad verkry het. Die verhaal word interessant deur Alf Wannenburgh in sy boek, “Forgotten Frontiersmen”, beskryf. Wannenburgh se gegewens kom blykbaar uit John Cope se “King of the Hottentots”, ʼn boek wat ek nog self graag sou wou lees. Hoe dit ook al sy, gaan Wannenburgh se oorlewering min of meer in die volgende trant: ʼn Britse handelsavonturier, Sir Thomas Smythe, het in Mei 1613 by die Kaap aangedoen, om die siekes aan boord van sy skip kans te gee om te herstel. Ook het hy, soos gewoonlik, met die Hottentot Kora en sy klan of stam handel gedryf. Toe al die Engelse weer terug aan boord was, het Smythe vir Kora en dié se hoofman aan boord genooi om hul handelsooreenkoms met ʼn glasie of wat te beklink. Toe hulle in sy mag is, het hy hulle toegesluit en na Engeland weggeseil. Die hoofman is op pad dood, nadat hulle uit protes op ʼn hongerstaking gegaan het. Kora was egter slim genoeg gewees om te oorleef. In Engeland het hy die kat goed uit die boom bekyk en spoedig met die Engelse taal en manier van doen vertroud geraak. Hy is baie goed behandel, aangesien die Engelse hom graag aan hul kant wou hê vir latere gebruik as tolk en tussenganger in ruiltransaksies met die inboorlinge aan die Kaap.
Ses maande daarna is hy op die skip “Hector” terug Kaap toe geplaas. Op 18 Junie 1614 stap hy kordaat in deftige Europese drag by Tafelbaai aan wal, terwyl hy soos ʼn wafferse ridder ʼn brons wapenrusting en spies saam dra. Hy het daarna die bosse in verdwyn en nooit sy belofte aan die Engelse, om na drie dae terug te kom en met die ruiltransaksies te help, gestand gedoen nie. Sy mense het soos gewoonlik voortgegaan om met verbygaande skeepsvaarders handel te dryf. Die grootste verskil wat Kora se ontvoering bewerk het, was dat die inboorlinge nou meer wys geraak het in hul handeltransaksies. Kora se tog na die verre Engeland was dus eintlik ʼn soort segetog met die oorwinning op handelsgebied, sover as wat dit sy klan betref het. Vanaf die tyd toe Kora met sy eie oë die vleispotte in London aanskou het, moes die matrose sommer baie meer uithaal en wys vir die Hottentotte se vee. Veertig jaar later het die Korachoqua (mense van Kora) van die Kaap weggetrek na oorkant die Oranjerivier,waar hulle nageslag later as die Korannas bekend gestaan het. Hulle kan moontlik as van die vroegste voortrekkers uit die Kaap beskou word, wat hulle vryheid, weg van vreemde oorheersing, gesoek het. Wannenburgh meld nie in sy skrywe of die Engelse vir Kora ʼn wapenskild, wat volgens tradisie ʼn familiewapen op sou gehad het, saam met sy wapenrusting gegee het nie. Indien wel, wonder ek of Kora se nakomelinge vandag wel sou kon aansoek doen om ʼn familieklan- of familiebondwapen.
Nieteenstaande die kwessie rondom familiewapens, kan mens ten slotte nie help om te bespiegel oor hoeveel Suid-Afrikaners vandag met ʼn voorsaat soos Kora, wat sy eie brons wapenrusting gehad het, kan spog nie.