A.H. Potgieter

Posted in North West Stories

Komdt. A.H. Potgieter en Buffelshoek No. 10 (tans 325JQ), dist. Rustenburg

[A.J. (Dries) Coetsee, GGSA Noordwestak].
Rex (1971:91-94) meld dat dr. Breutz in sy publikasie “The Tribes of Rustenburg and Pilansberg Districts”, beweer dat komdt. A.H. Potgieter die eerste Voortrekker was wat in die Rustenburg-distrik in die omgewing van Phokeng (Magatostat) gaan woon het en so vroeg as 1839 al in Rustenburg woonagtig was.
Volgens Coetzee,1997: 77-85 bevat RAK 2433 (Registrateur van Aktes — ter insae in die Transvaalse Argief, Pretoria) besonderhede van 407 plase wat deur Andries Hendrik Potgieter aan lede van sy trekgeselskap toegeken is. Daarvolgens is die plaas Buffelshoek (No. 364 op die lys) aan A.H. Potgieter toegeken, asook die aangrensende plaas, Magatashoek, met die opmerking “Hoofd Kommandant” daarby.
Buffelshoek is aan die suidelike hang van die Magaliesberg geleë, met ’n uitsig op die hoëveld na Koster en Derby se kant toe. Ons beskik oor “’n Ware Copie” van die oorspronklike “Raport van Inspectie van plaatsen door P.J. Fourie Veldcorne en M. Redelinghuize en J. Breet gelegen aan Magaliesberg geinspeceerd in de maand April 1843. Die eienaar word daarop aangedui as A.H. Potgieter en die plaas as Buffelshoek. Hierdie inspeksie rapport het in 1952 weer in familiebesit gekom nadat ’n Mej. Nix van 71 Crombey Street, Swindon, Wiltshire, Engeland dit geërf het van ’n maternal grandfather … to whom it was given as part payment of a gambling debt. Die dokument bevat besonder interessante gegewens betreffende die ligging van grensbakens.
Dr. H.M. Rex skryf op 10 Oktober 1958 in die Rustenburg Herout:

Buffelshoek no.10 was vir enkele jare die woonplaas van kommandant Andries Hendrik Potgieter. Dit is ’n minder bekende feit dat Potgieter se derde vrou, weduwee Bronkhorst, geb. Van der Merwe, in die Voortrekker-kerkhoffie aldaar begrawe lê (moet wees 2e vrou — skrywer) en dat Potgieter op Buffelshoek, en nie in die omgewing van Potchefstroom nie, woonagtig was toe die trek in 1845 onder sy leiding vanuit Potchefstroom en Magaliesburg na Ohrigstad plaasgevind het.
In ’n later publikasie (Rex,1971:136-137) wysig Rex sy siening en meld hy dat dit E.H. Botha is wat op Bufelshoek no. 10, aan die suidelike hange van die Magaliesberg, begrawe is. Haar volle name is Elizabeth Helena Botha. Sy is op 27 Januarie 1795 gedoop en is op12 Julie 1812 met komdt. A.H. Potgieter getroud. Op 7 Mei 1841, enkele ure ná die geboorte van haar dogter, Dorothea - hulle dertiende kind, is sy oorlede. Dorothea het oorleef en is op 2 September 1857 met Nicolaas Hendrik Johannes Frederik van Heerden getroud (vgl. Rex, 1971:137). Die vraag ontstaan: Wanneer was Rex reg gewees — in 1958, toe hy gesê het dat dit weduwee Bronkhorst was — of in 1971, toe hy gesê het dat dit Elizabeth Helena Botha was wat op Buffelshoek begrawe is? Ek glo dat albei sy stellings korrek is en ek verduidelik dit soos volg:

Volgens die Potgieter-geskiedenis, opgeteken in die Tuisblad van Eric Swardt, 1999 (www.geocities.com) sterf Hendrik se eerste vrou, Elizabeth Botha op 7 Mei 1841 in Potchefstroom, ná die geboorte van Dorothea. Hendrik trou dieselfde jaar met weduwee Bronkhorst. Gebore van der Merwe. Volgens oorlewering sterf sy by geboorte van haar eerste dogter by Hendrik. Die dogter is ook met die geboorte oorlede — aldus Eric Swardt.
C.C. de Villiers, aangehaal deur Coetzee (1977:41), vermeld die geboorte van nóg ’n dogter ná Dorothea met die opmerking dat moeder en kind tydens die geboorte gesterf het. In alle waarskynlikheid is dit weduwee Bronkhorst wat tydens die geboorte van haar dogtertjie gesterf het, aangesien Elizabeth Helena Botha reeds op 7 Mei 1841 oorlede is. Die datum van hierdie gebeure moet dus tussen 1842 of baie vroeg in 1843 gewees het, want in 1843 was Potgieter reeds weer met weduwee Catharina Elizabeth Jacobs (geb. Erasmus) getroud en sy eerste kind by haar, Daniël Elardus Potgieter, is op 5 Januarie 1844 gebore.
Volgens bovermelde feite is beide Elizabeth Helena Botha en weduwee Bronkhorst (geb. Van der Merwe), asook haar babadogtertjie wat tydens die geboorte oorlede is, op Buffelshoek begrawe. In 1958, lank voordat ek in hierdie geskiedenis belang gestel het, het mnr. Jan Harm du Plessis, ’n lewenslange inwoner op Buffelshoek, by geleentheid aan my gesê dat twee van Potgieter se vrouens in die begraafplaas begrawe is. Ek het eers weer aan sy opmerking gedink nadat ek uit al die gegewens tot bovermelde gevolgtrekking gekom het.
Potgieter het waarskynlik nie op Potchefstroom, destyds die enigste dorp, gewoon nie. Rustenburg het eers in 1850 ontstaan en was dus tot en met Potgieter se vertrek na Ohrigstad in 1845 nooit ter sprake nie. Vra vir iemand waar hy vandaan kom en hy sal gewoonlik die naam van sy naaste dorp noem. So sal my antwoord “Rustenburg” wees, al woon ek 25 km van die dorp af en so sou Potgieter se antwoord “Potchefstroom” gewees het.
Ek kan nie nalaat om die volgende te noem nie. In die Huisgenoot van April 1920 skryf A.J. van der Walt dat albei Potgieter se seuns (self reeds gevorderd in jare) van mening was dat hulle vader minstens 70 tot 75 jaar oud moes gewees het toe hy op 16 Desember 1852 oorlede is. In werklikheid was dit 3 dae vóór sy 60e verjaarsdag!

Bronne aangehaal:

REX, H. 1971. Die Voorgeskiedenis en Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Zeerust (Marico) vanaf die predikantskap van ds. Daniël Lindley (1840 - 1844) tot dié van ds. Samuel Young (1947 - 1971). Pretoria : Die N.H.W.- Pers. COETZEE, N.A. 1997. Die Geskiedenis van Rustenburg ongeveer van 1840 tot 1940. Pretoria : V & R Drukkery.