Galgkoppie en die Rothmann-moord

Posted in North West Stories

Hoe ’n vrééslike gebeurtenis van meer as 200 jaar gelede, wat ’n onnoembare berugtheid vir die betrokke familiereputasie tot gevolg moes gehad het, gereduseer is tot ’n móét-storie en -inskrywing in ’n Familieregister...

Die koppie, skuins agter die Drostdymuseum se Ambagswerf en Zanddrift-restaurant, was in die vroeë dae onder Swellendammers bekend as: ‘Galgkoppie’. Ou inwoners het vertel dat hulle gehoor het dat daar ’n galg gestaan het en dat misdadigers daar tereggestel is. Volgens oorlewering is ’n vrou glo destyds op die koppie opgehang weens haar verbintenis met ’n moord in die distrik. Volgens die rekords wat in die argiewe nageslaan is, blyk dit dat oorlewering en feite so ietwat van mekaar verskil.
Gedurende die nag van 21 – 22 Oktober 1786 het ses gedroste slawe die familie en werknemers van Sebastiaan Rothmann op sy plaas, Heuningklip, naby Swellendam, oorval en tot so ’n mate aangerand dat sy vrou, Maria Elizabeth, gebore Rog, en een van sy kinders, Anna Maria, gedood is en van sy bediendes ernstig gewond is. Die boosdoeners is op 22 Oktober in hegtenis geneem en op Swellendam in die tronk aangehou, totdat hulle onder geleide na die Kaap geneem is vir verhoor deur die Raad van Justisie. Hulle is op 23 November 1786 verhoor en skuldig bevind aan moord. Die vonnisoplegging was in daardie dae uiters streng en die moordenaars is ’n aaklike doodstraf opgelê. Hulle vonnis het in die oud-Nederlands soos volg gelui:
“… gebracht te worden ter plaatze alwaar men alhier gewoon is, criminele sententien te Ezecuteeren aldaar den Scherpregter overgelewerd ieder nakend uijtgekleed, en op een kruis gebonden sijnde, met gloeiende nijptangen, op agt differente plaatzen uijt de vleeschagtigste gedeeltens van hunne lichaamen stucken vleesch uitgeneepen, voorts van onderen levendig geleedebraakt te worden, zonder slag van gratie, en zoodanig te blijven liggen, totdat den geest zullen gegeven hebben, wijders de doode lichaamen naar het bujten gerecht gesleept aldaar op raderen en de Hoofden op pennen gesteld zijnde, dus te verblijven tot dt door de Lucht en vogelen des Hemels zullen verteerd …”
Dit beteken dat die misdadigers nakend uitgetrek aan ’n kruis sou hang en met warm tange oor hulle lyf geknyp is, waarna hulle bene gebreek is. So moes hulle hang totdat hulle dood was, waarna die liggame op ’n plek buite die stad oopgespalk, en die koppe op pale geplaas is sodat die voëls en die elemente dit kon verteer… Hierdie vonnis is op 2 Desember 1786 voltrek.

Medepligtig

In die maande na die moord het verdere getuienis aan die lig gekom en op 2 Augustus 1787 het die weduwee Du Plooy (Regina van Bengalen) en tien andere voor die Raad van Justisie verskyn. Uit die getuienis en verklarings wat afgeneem is, blyk dit dat ‘Juffer du Plooy’, soos sy deur almal aangespreek is, die aanhitser was en dat sy en die ander beskuldigdes vooraf van die moord geweet het en daarna in die buit gedeel het. Op 11 Augustus is vonnis gevel en Weduwee du Plooy met vyf ander is ter dood veroordeel. Die weduwee sou verwurg word, vyf ander moes opgehang word, een is na Robbeneiland verban en nog een is vrygelaat. Die vonnis is op 18 Augustus 1787 voltrek. (By nadere ondersoek kon ook vasgestel word dat daar meer inligting oor hierdie moord op Sebastiaan Rothman te vind is in Reg en Ongereg deur H.F. Heese.
Ongelukkig word daar nie meer inligting gegee oor die weduwee du Plooy (Regina van Bengalen) nie.
Enkele besonderhede van die boosdoenerslawe - wat toe onthoof en nie gehang is nie - word in hierdie bron gegee.)
Uit die voorafgaande verslag oor die Rothmann-moord blyk dit dat doodsvonnisse slegs in die Kaap voltrek is. Die galg op ‘Galgkoppie’ te Swellendam is dus waarskynlik as afskrikmiddel opgerig. Volgens oorlewering is Juffer du Plooy se kappie destyds aan die galg opgehang as teken dat sy in die Kaap tereggestel is.
(Die artikel het verskyn in die boekie Galgkoppie en ander verhale oor Swellendam, opgeteken deur M. Van Hemert - en uitgegee deur die Drostdy Museum, Swellendam. Korrespondent Tokkie Erasmus het dit aan Simon du Plooy gestuur vir plasing in FAMNEA  JG 1 No 1 - Aug 2004)