Oppermans in Suid-Afrka

DIE FAMILIE OPPERMAN

VAN KROSSEN TOT DIE KAAP                                                                                                                  Potchefstroom Herald 29 Augustus 2014  

'n Karaktertrek wat moontlik die meerderheid Oppermans van die verlede gekenmerk het, is dié van onrustigheid, wat uitdrukking gevind het in 'n moontlike oordrewe trekgees. Stamvader Gotlieb Christiaan Opperman geb. 1696 Krossen (Silisie, Duitsland) oorl. 1737 aan die Kaap, kan as die eerste trekker beskou word met sy  nasate wat van die Kaap deur die Kaapse Middellande, die Oosgrens en verder na die Vrystaat, Natal, Z.A.R. en  later met die Dorslandtrek na Angola en  Suid-Wes-Afrika beweeg het.
Die stamvader moet as 'n enigmatiese figuur beskou word, omdat dit vreemd voorkom waarom hy uit buitengewoon gunstige omstandighede in Duitsland, hom op die skip Geertruid na die vreemde begeef het waar hy in diens van die HOIK 'n beskeie pos in 1725 aanvaar het. In die Kaap tree hy op op 6.2.1729 in die huwelik met die weduwee Maria Feyt ged. 18.3.1703 d.v. Heinrich Koster en Dirkje Everts. Hy was o.a. wadrywer, bestuurder van die Schuur en 'n verskaffer van moutbier. Hy vermoor egter sy slaaf genaamd Dam, word met 200 riksdalers beboet, en draai kort van 'n egskeiding. Later het hy grond bekom waar Mostert se Meul vandag is.
Vir die egpaar is een seun Gotlieb Rudolph (1729-1781) en een dogter, Anna Maria ged 1734 (getroud met Christiaan Liebenberg) gebore.
Gotlieb Rudolf se seun, Christiaan Rudolph (1755-1810) is deur die burgers van Graaff-Reinet as woordvoerder aangewys om hulle saak tydens die Graaff-Reinet/Swellendam opstand aan die Kaapse bewindhebbers te stel.
Laasgenoemde se een seun, Godlieb Rudolph (1775-1858) het in die distrik Tarka geboer en het vanaf 1789 – 1798  ‘n hewige stryd gehad met voortdurende strooptogte. 
As Gottlieb Christiaanas enigmaties en sy seun as die kryger beskou word, dan kwalifiseer sy ander kleinseun, Phillipus Albertus geb. 1777 oorl. Angola, as die omstredene na aanleiding van sy teenstrydige vertolking van die gebeure wat aanleiding gegee het tot die Slagternek-Rebellie waar hy veldkornet was. Vanaf Oktober 1837 was hy en sy familie deel van die Trekkergroep van 166 waens,  wat die Roetshoekpas oor die Bamboesberg, noord van die huidige Tarkastad, oorgesteek het op pad na die vreemde.
Phillipus Albertus se oudste seun, Daniel Jacobus (1804-1846) se lewe is nou saamgevleg met die Voortrekkerleier A.H. Potgieter en hy word beskou as een van Potgieter se staatmakers.
Een van die Oppermans wat die Dorslandtrek meegemaak het was Willem Marthinus ( Meester Willie) geb. 1866, wat die tog met die Hamman-trek in 1892 aangepak het. Hy het as onderwyser op Humpata in Angola opgetree maar was 'n grootwildjagter. Sy jonger broer, Jacobus Cornelius geb.1871 (14) ook 'n grootwildjagter is in 1909 in Angola deur 'n olifant doodgetrap.
Oppermans wat die hoogste tol betaal het vir die strewe na vryheid en afhanklikheid,  was Jacobus J. (1805-1838) en sy elfjarige seun Kootjie (1827-1838) wat saam met Piet Retief by Dingaanstat vermoor is.
Oppermans wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het was generaal Jacobus Daniel Opperman geb. 1861 (sneuwel Ermelo), Daniel Jacobus (1856-1900) (sneuwel Modderrivier) en Daniel Jacobus Elardus (1861-1928),  bekend as Rooi Daniel wat ook ‘n generaal was.
Die Oppermans het op vele terreine naam gemaak. Die bekende Diederick Johannes (DJ of Dirk) was een van die bekendste literêre figure van ons tyd en het vier Hertzog-pryse en ook vier eredoktorsgrade ontvang.
Rudolf Willem Jacobus (Duimpie) (1922-1998) was o.a. president van die Nasionale pers-unie, voorsitter van die S.A. Sportfederasie asook president van die Nasionale en Olimpiese Spele Vereniging. Op bewaringsgebied is Gen-Maj. Gerrit Nicolaas (Gert) Opperman 'n bekende. Hy was ten nouste betrokke met restourasie van die Voortrekker Monument en doen onskatbare werk as besturende direkteur van die erfenisstigting.

[Verskaf deur Dora Opperman (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)]