Vanwaar kom my Familie

Potchefstroom Herald 19.04.2013

Kan jy jou 'n televisie-sepie voorstel wat in opeenvolgende episodes gebeure soos die volgende  beeldsend?
'n Vrou sweer met ander saam om haar man te vermoor en word saam met die medepligtiges skuldig bevind. Almal word ter dood veroordeel.  Die manlike medepligtiges word gevonnis, nakend uitgetrek, aan 'n kruis gehang en met warm tange oor hulle lyf geknyp, waarna hulle bene gebreek word. So hang hulle totdat hulle dood is. Daarna word hul liggame op 'n plek buite die stad oopgespalk en hulle koppe op pale geplaas sodat die voëls dit kan verteer. Die vrou se vonnis is aansienlik ligter.  Sy word bloot net verwurg totdat sy dood is.
Die volgende episode is die verhaal van 'n vrou wat in 'n oorlog vir maande aaneen met haar kinders en karige besittings voor die vyand uitvlug sonder om gevang te word, terwyl 'n ander vir 'n lang tyd in 'n grot in die berge wegkruip - beide weens vrees om in 'n konsentrasiekamp opgesluit te word waar hulle families uitgewis sou word.
In 'n verdere episode is daar die bejaarde man wat, toe hy die vierde keer wou trou, homself eers wou toets of  hy aan die jong bruid van die buurplaas se verwagtinge sou voldoen. Die toets? Die veewagter moes die beste skaapooi in die trop uitsoek. Die wewenaar se selfopgelegde doel was om die ooi binne 100 tree in te hardloop nadat die skaap met die wegspring 10 tree voorsprong gekry het (hy het dit net-net reggekry en die twee was nog 'n hele paar jaar gelukkig getroud).
Die kyker maak ook kennis met ‘n vyfde eggenoot wat haar man as “Mijnheer” moes aanspreek, vanweë die groot ouderdomsverskil tussen hulle.  Dan maak ‘n pa van 31 kinders (sover bekend die meeste in S.A.)  ook sy verskyning.
Wat van 'n episode oor 'n Boer,  wie se naiewe geloof  in die mens, die rede was dat hy uit sy plaas geswendel is deur ‘n fortuinsoeker wat hom oortuig het dat 'n koopkontrak, wat hy onder druk op 'n Sondag onderteken het teen “Die WET” (die 10 gebooie) is.  Hy word gedwing om sy plaas aan die agent te verkoop, anders “sal die predikant van die sonde te hore kom” (Die “gesteelde” plaas het later deel geword van die diamantstad Kimberley).
Die werklikheid is dikwels vreemder as fiksie en die lewensverhaal van ene Liesbeth van Wyk, die dogter van 'n vrygestelde slavin, is net so goed indien nie beter nie as 'n  draaiboek met ‘n 18 jr ouderdomsbeperking. Liesbeth word beskryf as ‘n “vrou met 'n wilde, losbandige verlede en 'n tipiese voorbeeld van talle vroue uit daardie tyd, wat ten spyte van hul leefwyse `n belangrike rol gespeel het in die vestiging van menige eerbare familie in hierdie land. Elizabeth was die moeder van minstens tien buite-egtelike kinders by verskeie mans.”
Indien bostaande u belangstelling prikkel, is daar goeie nuus.
Die Herald beoog om vanaf volgende week, in samewerking met die Noordwestak van die Genealogiese Genootskap van SA (GGSA) te fokus op die herkoms en verspreiding van 'n aantal bekende en minder bekende families in Suid-Afrika. Bydraes word  deur taklede, asook ervare navorsers van spesifieke families saamgestel.  Dit sal maandeliks in die Herald onder die rubrieknaam “Ontmoet die familie .......” verskyn.
Belangstellendes word uitgenooi om die Noordwestak se genealogiese biblioteek in die Potchefstroomse  Museum te besoek. Meer as 300 bronne is beskikbaar waaruit jy jou eie familiestorie kan saamstel. Dit is beter as enige fiktiewe verhaal, want dit is jou mense, jou gene en jou erfenis wat jy ontdek.

[Besoek die Genealogiese Genootskap se webwerf  www.genza.org.za vir meer inligting]