VAN DEN BERG, VAN DER BERG, VAN DEN BERGH, VAN DER BERGH of VAN DEN BERGE?

                                                                                                                                                   Potchefstroom Herald dd 12.12.2014

Hoewel daar sover bekend 50 stamvaders met die VAN na Suid-Afrika geemigreer het, stam ongeveer 90% van hulle af van Jacobus VAN DEN BERG van Breskens, Zeeland, Nederland. Die artikel gaan dus hoofsaaklik oor Jacobus. Jacobus is getroud 08/10/1700 in Kaapstad met Jacomina CARTENIERS, waarskynlik van Oudenaarde, Vlaandere, België. Daar het heelwat geskrifte in die Kaapse Argief behou gebly oor Jacobus en sy vrou. Jacobus is ‘n skoenmaker van beroep en sy datum van aankoms is onseker. In 1704 gaan vestig hy in Stellenbosch en koop ‘n erf aldaar van die kerkraad. Hy en die kerkraad sit vas oor die terugbetaling van die lening wat uiteindelik uitloop op ‘n hofsaak in 1708 waar Jacobus deur Adam TAS verdedig word voor landdros Samuel DE MEURS. Die huis word in die brand van 16/10/1710 wat feitlik die hele Stellenbosch vernietig, vandag ‘n nasionale monument.Jacobus was duidelik nie baie geneë om sy skulde te delg nie soos uit dagvaardings blyk nie: slegs in 1705 deur Coenraad Jansz VISSER, Gerrit HANSERET, Pieter VAN DER BYL en Abraham EVERLESS.Jacobus was soos meeste van sy tydgenote bietjie geneig om maklik na sy degen (mes) te gryp, hy word aangerand in Julie 1703 deur Jacob HENDRIKSZ van Westkerken. In Junie 1704 skryf Adam TAS in sy dagboek onder andere: “Onder die rook van 'n pyp tabak is my vertel dat daar gister voor die huis van Jacobus die Skoenmaker oorlog uitgebreek het, waarin genoemde skobbejak van 'n skoenlapper, bygestaan deur sy boosaardige wyf, die wyf van Christiaen Martensz (in die wandeling bekend as Mosterts Marij) te lyf gegaan het. Die skoenmaker se wyf het Mosterts Marij met 'n pik teen die kop geslaan dat daar bloed vloei en sy op die grond neergeval het, waarop die skoenmaker aangekom het en die vrou met sy voete teen die bors, buik, ens. geskop het waar sy lê. Intussen het die skoenlapper se vrou ook nie stilgesit nie, maar so ywerig met haar vuiste losgetrek soos wat sy kon, en hulle sou die skepsel ongetwyfeld om die lewe gebring het as die heer Bek nie verskyn het nie en gesê het dat hy hiervan kennis neem; toe het hulle haar met rus gelaat.

Jacobus word uiteindelik vermoor op 28/05/1714 by die huis van Catharina BOMBAM en Robbert JANSZ VAN HOORN deur Jan Adam PEUGEL. Hy was werksaam by Robbert, besig om skoene te maak. Op die dag was Metje VAN HOORN tuis, toe Peugel daar opdaag, homself aan haar opgedring en haar probeer oorreed om hom te soen. Die “bijsit” van Jacobus van den Berg, Aale (Jacomina Carteniers was reeds oorlede) sê toe aan Peugel: “Laat die nonnie met vrede haar werk doen.” Peugel reageer op haar antwoord deur Aale teen die grond te gooi en te skop. Jacobus probeer tussenbeide tree en Peugel druk hom agteroor teen 'n stoel. Jacobus ruk homself los, gryp twee messe van sy werkbank en sê aan Peugel dat hy na buite moes kom. Tydens die geveg verloor Jacobus sy balans en word dodelik verwond. Terwyl Jacobus op die grond lê rig Peugel toe sy woede weereens op Aale deur haar te gryp en bo-op Jacobus te gooi. Hy skreeu toe vir haar: “Lê daar jou verdomde Hoer”.

Ten slotte moet daar melding gemaak word van Mayken Hendriks VAN DEN BERG, ‘n stammoeder afkomstig van Diest, Brabant, België. Vrou van Jacob THEUNISSE, Tielman HENDRICX en moontlik Pieter VAN WESTHUIJSEN, sy self was ‘n kleuryke dame en het self ‘n paar keer met die VOC koppe gestamp.

[Bron: Potchefstroom Herald dd 12.12.2014 (Saamgestel deur Johan Pottas. (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)]