Ek het vir etlike maande lank die Cambridge begraafplaaskantoor onophoudelik gevra vir die begraafplaasregister van die Berlin (Oos-Kaap) begraafplaas.

Die dame by die Cambridge begraafplaaskantoor (ek ken haar persoonlik en sy woon haar lewe lank in Berlin) het my meegedeel dat iemand van die Dorpskantoor (Buffalo City) 'n koerier gestuur het om die register, wat nou soek is, te haal.

Heel toevallig, ongeveer drie weke gelede, het ek dit aan 'n personeellid wat by die Cambridge kantoor werksaam is, genoem. Hy deel my toe mee dat hy seker is hy het die register by die Mdantsane kantoor, net buite Oos-Londen, gesien en gee toe aan my die selfoonnommer van een van die toesighouers wie hy daar ken. Ek het met die persoon kontak gemaak en reëlings getref dat die register aan die Cambridge kantoor terug besorg word.

Berlin, is ongeveer 40 kilometer van Oos-Londen op die pad na King Williamstown. Die dorp het in 1973 deel van Oos-Londen geword, voorheen het die dorp sy eie Dorpsbestuursraad gehad. Die dorp se inwoners was hoofsaaklik afstammelinge van die vroeë Duitse Setlaars (vandaar die naam).

Daar is tans baie min afstammelinge van die oorspronklike Duitse setlaars as permanente inwoners oor, maar ek is meegedeel dat van die oorspronklike inwoners, wat wel daar gewoon het, na hulle afsterwe, hul as by die grafte van hulle ouers laat plaas het tesame met 'n gedenksteen.

Ek het nou die register gefotografeer en getranskribeer. Die transkripsie kan by eGGSA se begrafnisblad besoek word.

Brian Barrett