abrie 57020GEORGE NUUS - Groot belangstelling in familiestories is duidelik, soos blyk uit die gehoor van bykans veertig mense, wat die eerste in 'n reeks familiestorie aanbiedings by die George-museum bygewoon het. Die geleentheid op Woensdag 29 Maart, is gereël deur die Vriende van die George Museum, en die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se Suid-Kaapse tak. 

Fred Hill oor sy vader

Fred Hill (junior), seun van die bekende sakeman en stigter van die firma, Hill en Levett, het die verhaal van sy pa, afkomstig van Engeland, en sy entrepreneursvernuf vertel.Hill het die eerste maatskappy op George gevestig en reeds in die 1970's 120 mense in diens gehad - die tweede grootste werkgewer in George. Hy het oor sy vader se skeppende vermoë, en sy belangstelling in die natuur, en gereelde staptogte in die Outeniquas met toeriste en vriende onderneem.Hill was ook deel van die George en Knysna Herald se Groot-stapbyeenkoms van 6 Desember 1969, georganiseer deur die George-atletiekklub onder leiding van die organiserende sekretaris, Abrie de Swardt. De Swardt het foto's getoon van Fred Hill in aksie in die 13 km lange stapwedloop, en by die eindpunt op Outeniquapark.

Abrie de Swardt oor die mense van Gwayang

De Swardt het in sy storie vertel oor die mense van Gwayang-boeregemeenskap tussen 1900 en 1970. Hy het van sy vader, Fanie, en sy moeder, Martha, vertel en oor die bydrae van sy ouers tot die gemeenskapslewe op Gwayang. Sy pa en oom Krisjan, het vir 60 jaar op Gwayang geboer, en die eerste De Swardt, Abraham Jacobus, het hom reeds in 1826 op Gwayang gevestig. Hy was die derde seun van Gaulliume de Swardt, die stamvader van die De Swardts, wat hom in 1772 in Suid-Afrika kom vestig het. Die Laerskool Gwayang was die middelpunt van die gemeenskapslewe, waar konserte, basaars, kerkdienste, troues, begrafnisdienste asook politieke vergaderings gereeld plaasgevind het. Abrie se ma was daar 'n onderwyseres van 1927-1949, en een van haar leerders, Yvonne Meyer, was Woensdag in die gehoor by die George-museum. Abrie het ook oor die noue verwantskap tussen die De Swardts, Bothas, Lamprechts, Standers en Barnards gepraat. Hy het vertel hulle was die kern van Gwayang en het 'n reusebydrae tot George en Suid-Afrika gemaak.  Die Vriende van die George Museum, in samewerking met die GGSA, Suid-Kaap sal op 17 Mei die volgende familiestories-aanbieding om 14:00 by die George-museum hou.  (Die moderne neiging is om na Gwayang as Gwaiing te verwys, maar volgens De Swardt is die oorspronklike spelling, asook die naam van die skool, Gwayang. Red.)

Artikle en photos met dank aan die George Herald