Dawid Jacob Gideon Conradie
Klik op die foto's om te vergroot

Ek is Dawid Jacob Gideon Conradie.  Ek is gebore op 11 Mei 1845 op die plaas “Eendracht” in die distrik Montagu in die suid kaap.  Ek is die sesde kind van Johannes Hendrik Conradie en Christina Johanna Jordaan.  Toe ek omtrent tien dae oud was het my ouers na die Klein Roggeveld verhuis.  Toe ek veertien jaar oud was keer my ouers egter weer terug na die Boland en vestig hulle op Robertson. Dit was in 1859.
Op 21 Augustus 1860, toe ek omtrent vyftien jaar oud was het ek eendag saam met my oom, oom Hans Jordaan, met ‘n wa en ses muile ‘n paar sakke koring geneem na die meul van ‘n ene meneer de Kock.  Die plaas waarop die meule geleë was, was sowat twaalf kilometer, een en ‘n half uur met die muilwa, vanaf Robertson in die rigting van Montagu.
Met die terugkeer vanaf die meule sluit ene Jan Minnaar by ons aan en my oom hans gee die sweep aan hom en hyself gaan sit agter op die wa.  Ek het die leisels gehou. By ‘n steilte op die pad klop Jan Minnaar die esels wakker en toe ons teen die ander kant van die heuwel afry, slaan die muile op ‘n stywe draf tot so ‘n mate dat ek van die sitplek af opgelig word.  Daar was geen voetplank nie so ek moes op die disselboom vastrap.  ‘n Bui reën, ‘n rukkie tevore het egter die disselboom nat gemaak en my velskoene was ook nat van die reën en dus kon ek nie stewig op die glibberige disselboom vastrap nie.  Ek gly toe van die disselboom af, tussen die agterste muile in en beland met my kop voor die linker voorwiel van die wa.  Die wiel gaan egter toe nie oor my kop nie, omdat ek in die leisels verstrengel geraak het en word ek ongeveer vyftig treë vêr langs die klipperige steilte afgesleep met my kop wat as remskoen vir die wa se wiel dien.
Jan Minnaar slaag uiteindelik daarin om die leisels, wat nou voor die wa op die grond sleep met sy voet los te woel en in die hande te kry terwyl hy aan die wa se voorstel vashou.  Dit geluk hom om met die leisels die span muile in ‘n gwarriebos te stuur en so tot stilstand te bring.
Toe die wa egter tot stilstand kom staan die wiel op my kop en word ek deur oom hans en oom Jan bewusteloos daaronder uitgehaal.  Ek het egter spoedig weer bygekom en kon met die ondersteuning van die twee ooms op die wa klim en hulle het my op oom Jan se jas agter op die wa laat lê.
{artsexylightbox path="images/stories/Noord_Transvaal/JohanFourie/Oupadawid" previewWidth="100" previewHeight="100"}{/artsexylightbox}

Na omtrent ‘n uur se ry bereik ons toe die plaas van ene oom Vaal Frans Conradie naby Robertson.  Daar het hulle my in die huis gebring en ‘n boodskap aan dokter Hamf van Robertson gestuur.  Dokter Hamf was egter nie tuis nie en dit het nog verskeie ure geneem voor hy opgedaag het om my te kon ondersoek.
Die dokter het nie die minste hoop gehad dat ek kon herstel nie.  My linkerwang was weg, my linker kaak en wangbene was verbrysel, my linkeroog het gehang waar my wang was en my linkeroor het aan ‘n stukkie vel op my skouer gehang.  My kopvel was tot in die helfte van my kop losgeskeur.
Snaaks genoeg het ek nie baie pyn verduur nie.  Seker weens die skok, die wonde en die bloedverlies het ek geen gevoel in my kop gehad nie.  Gedurende die behandeling het ek egter kort-kort aan die slaap geraak, sodat dokter Hamf my gedurig moes roep om te sien of ek nog leef.  Alhoewel die dokter geen hoop gehad het nie het hy tog my wonde van die gruis en sand gereinig; my oog, hoewel verdraaid, weer terug geplaas in my half-verbryselde oogkas en my oor weer vasgewerk.
Die nuus van my ongeluk het my ouers eers om middernag bereik waar hulle op besoek aan vriende op Montagu was.  Die volgende môre om vieruur het hulle eers opgedaag by my bed waar ek skynbaar sterwend gelê het.
In hierdie toestand het ek verskeie dae gelê sonder veel pyn, maar dodelik swak.  Ek kon slegs met moeite ‘n bietjie melk of vloeibare voedsel geniet.  Dit het egter nie beter gegaan nie en ‘n week na die ongeluk het daar inflammasie in die wonde gekom en ek het onbeskryflike smart verduur.  Ek kon niks op die wonde verdra nie.  Dit was asof ek met my kop in ‘n vuur gelê het.  Deur die nate in my kop kon ‘n mens die harsings sien klop.  Die dokter wou my ook nie langer meer besoek nie, omdat hy niks verder vir my kon doen nie.  Daar was dus vir my geen hoop nie en ek is gelaat om maar te sterf.
Boererate is deur my moeder en van die distrik se vrouens toegepas, maar niks wou verligting bring nie.  Ten spyte van my bittere lyding het ek egter altyd by my verstand gebly en ek herinner my toe hoedat, ongeveer ‘n jaar van tevore, ‘n pap van bokmis ‘n inflammasie in my voet laat opklaar het.  Ek noem dit toe aan my moeder.  Dadelik is daar toe van ‘n buurman wat ‘n melkbok gehad het, bokmis verkry en ‘n pap van dié bokmis en asyn word voorberei en op die wonde gelê.  Ek het onmiddellike verligting ervaar.  Hierdie behandeling is herhaal; die vuur het gewyk en beterskap het gevolg.  Toe dokter Hamf die volgende dag hoor dat ek, teen alle verwagting in, nog in lewe is, het hy sy behandeling hervat.  Hierdie verdere behandeling was nodig, want stukke been en vlees moes verwyder word.
Van toe af het dit darem geleidelik al hoe beter gegaan en kon ek na drie maande met ‘n stok in die tuin loop.  Die ongeluk het egter nog ‘n verdere nadraai gehad in die sin dat ek ‘n keelontsteking gekry het as gevolg van die kneusings en droë bloed wat in my keel agtergebly het.  Dit moes verwyder word en ek moes weer ‘n volle maand in die bed bly.
In daardie tyd het masels en koors ook groot verwoesting onder die inwoners van Robertson aangerig en ons hele gesin was met die masels in die bed en my dierbare moeder is dan ook daaraan oorlede.  Dit was ‘n hartverskeurende tyd vir my, dog die grootste beproewings en swaarste verdriet gaan verby.  My wonde het mettertyd genees maar ek kon daarna nooit weer kos normaal kou nie en ek het my geskende gesig altyd met verbande toegedraai ook om my verbryselde onderkaak in posisie te hou.
Na enige maande het my vader weer in die huwelik getree met ‘n weduwee Cloete en ons het op haar plaas gaan woon.  Daar was ‘n skool op die plaas en daar het ek vir die eerste keer begin Engels leer.  Nederlands kon ek darem op daardie stadium lees en op ‘n manier skryf.  In daardie jare was dit egter nie maklik om ‘n goeie opvoeding te kry nie.  Na ses maande op skool op die plaas is ons onderwyser weg en toe is ek op Robertson in die skool gesit.
Vir die boerdery en plaasarbeid was ek totaal ongeskik weens my swak gestel, en my vader het dus besluit dat ek ‘n onderwyser moes word.  Hy het ongelukkig min begrip gehad van die vereiste kennis wat ‘n toekomstige onderwyser oor moes beskik.  Volgens hom moes ek poog om binne drie jaar “volleerd” te wees en dan my eie bestaan te gaan soek.
Gedurende daardie tyd was dominee Mcgregor die leraar op Robertson en aan hom en sy waardige eggenote het ek veel te danke.  Deur privaat onderwys na skool het hy probeer aanvul wat ek op die dorpskool nie kon opdoen nie.  Daar ek smaak en aanleg vir musiek gehad het, het mevrou Mcgregor my met die beginsels van musiek gehelp sodat ek later die harmonium kon bespeel.  Ek het ook leer viool speel sodat ek my leerlinge later met sang kon begelei en op my oudag is hierdie kennis van musiek vir my ‘n bron van groot genot.
Die drie jaar op skool was spoedig verby en ek moes uitgaan om te gaan skoolhou.  Ag, hoe onbekwaam en ongeskik het ek my nie vir hierdie werk gevoel nie, maar gelukkig het dominee Mcgregor weer raad gehad.  Die plaas van my stiefmoeder, waar ek begin skoolhou het was een en ‘n half uur vanaf Robertson en ek het toe twee keer per week met ‘n pak boeke dorp toe gery vir ekstra lesse by dominee Mcgregor.  Op daardie stadium was my salaris een pond en vyftien sjielings per maand en alles vry.
Na agtien maande het ek gaan skoolhou by meneer s. Malherbe, naby Lady Grey, die huidige Mcgregor  (vernoem na dominee Mcgregor) en moes tot my spyt my lesse en gereelde omgang met dominee Mcgregor staak.  Ek is egter vir hom en ons liewe vader steeds dankbaar vir die seën en die vrug op my lewe wat ek ontvang het deur die omgang met die dierbare godsman.  Dominee Mcgregor het van my die man gemaak wat ek is.  Die meeste van die kennis wat ek besit en die aansporing tot self-oefening – as gevolg waarvan ek later aan die hoof van ‘n tweedeklas skool kon staan – en nog veel meer, is te danke aan dié getroue vriend.  Mag die here hom seën daarvoor.
Later het dominee Mcgregor ook dieselfde belang gestel in my oudste seun, Johannes.  Die invloed van die waardige godsman op my en Johannes se lewe sal ons altyd bybly en ek is seker dat ons nie die enigste is wat so kan getuig nie.
Na een jaar op die plaas van meneer Malherbe het ek op aandrang van my vader, wat toe in die klein Swartberg gewoon het, ook soheen gegaan omdat daar ook ‘n groot behoefte aan ‘n skool bestaan het.
Dit was in 1867 toe ek as rondreisende skoolmeester my werk begin het op die plaas buffelsrivier van meneer hans nel.  Die drie ander plase was rietvlei, Baartmansfontein en Floriskraal.  Die skool moes met tafels, banke boeke en meester elke ses maande van standplaas verwissel. Dokter dale, die toenmalige superintendent van onderwys was baie toegewend en daar was geen drukkende bepalings nie.  Aan kinders het dit nie ontbreek nie, klein, groot en selfs getroude kinders wat nog nie lidmate van die kerk was nie, het vir ‘n tyd skool toe gekom.  Daar was nie veel met Engels gesukkel nie; slegs die nodigste moes onderwys word: lees, skryf, rekenkunde, bybelgeskiedenis en kategismus.  So het ek vir drie jaar lank van plaas tot plaas gegaan totdat die skool verander is in een wat op rietvlei gevestig was en daar het ek vir ‘n verdere ses jaar lank skoolgehou.
In die jaar 1870, toe ek vyf-en-twintig jaar oud was het ek in die huwelik getree met een van my skranderste en knapste leerlinge.  Sy was Gertruida Jacoba Koorts, gebore op 18 Februarie 1852 en oorlede in 1904 en sy was die dogter van Johannes Marthinus Koorts en Dorothea Carolina Ruthven.  Ek was vir ses-en-dertig jaar gelukkig met haar getroud en die heer het vir ons saam sewe dogters en vyf seuns gegee, waarvan een seun en een dogter ons vroeg ontval het.
Elkeen sal kan verstaan dat na wat ek in my jeug deurgemaak het, ek nooit ‘n sterk man was nie en dikwels beswaarlik my werk kon doen.  Die heer het my egter wonderlik gesterk sodat ek, bo verwagting, byna dertig jaar met my werk kon volhou.
In 1876 het ons na Calitzdorp verhuis waar ons omtrent veertien jaar deurgebring het.  Ek was as onderwyser werksaam, eers op die dorp en later op Janfourieskraal.  Dominee Barry, die leraar op Calitzdorp, het veel gedoen vir die opvoeding van sy gemeente en was vriend en raadsman vir die onderwysers.  Hy en sy kerkraad het my ook ‘n pragtige getuigskrif gegee toe ons in 1889 na Christiana in die Transvaal vertrek het.
In Christiana het ek egter slegs twee jaar gebly; ‘n ou boom wil nie verplant word nie en ek het terug verlang na die Swartberg.  In 1892 is ek aangestel in die a iii skool op Laingsburg waar ek tot 1896 gewerk het teen ‘n salaris van negentig pond per jaar waarby die kerkraad agtien pond gevoeg het vir my werk as koster en skriba van die ng kerk op Laingsburg.  Later het ek darem ‘n weinig meer verdien.  Behalwe vir die oudste drie kinders moes die ander sewe nog skoolgaan en ek moes ook die huishuur en die skoolgelde van my kinders betaal.
Dit het maar finansieel swaar gegaan.  My hoogste salaris ooit was die een honderd en vyftig pond per jaar wat ek op Calitzdorp verdien het.  Ek het met my eie hande baie van ons huisraad self gemaak.  My dierbare eggenote wat my in 1906 ontval het was oppassend en spaarsaam.  Op Laingsburg het ek met die hulp van my seun, Johannes, en ‘n paar vriende, ‘n paar erwe gekoop en daarop ‘n melkery begin waaruit ek darem ‘n bietjie geld kon maak.
My kinders, op wie ek baie trots is, het my ook baie gehelp.  Hulle het almal goeie betrekkinge en is oor die land versprei.
Die kinders gebore uit my en my eggenote se huwelik is:
Johannes Hendrik, die oudste, gebore op 5 Desember 1870 maar as suigeling oorlede.
Johannes Hendrik (Johannes), gebore op 10 Februarie 1872 op die plaas rietvlei, distrik Prins Albert. Hy het ook in die onderwys begin en was reeds op vier-en-twintig jarige ouderdom die skoolhoof van Grey-Kollege op Bloemfontein. Gedurende die tweede boere-oorlog is hy deur die Engelse gevange geneem maar na ‘n ruk weer op parool vrygelaat waarna hy hom op Stellenbosch vestig. Na die vrede in 1902 het hy hom laat inskryf as ‘n prokureursklerk en is as sulks in 1905 toegelaat. Van 1905 tot 1912 was hy finansiële sekretaris van die NG kerk en in 1912 word hy die superintendent van die NG kerk se arbeidskolonie op Kakamas. In 1920 en weer in 1924 is hy verkies tot volksraadslid vir die kiesafdeling Prieska en in 1929 is hy aangestel as administrateur van Kaapland in watter pos hy vir tien jaar gedien het. Hy is oorlede op 21 Januarie 1940. Hy is op 19 Junie 1906 getroud met Johanna Elizabeth Brink. Sy het haar sedert 1929 beywer vir die welsyn van kreupeles en tydens ‘n konferensie wat op 25 Februarie 1937 in Kaapstad gehou is het die Kaaplandse kreupelsorg ontstaan waarvan sy die lewenslange presidente geword het. In Junie 1939 is die nasionale raad vir kreupelsorg gestig en in 1948 is sy verkies tot presidente van die nasionale raad. Die universiteit van Stellenbosch het in 1953 ‘n ere-doktersgraad aan haar toegeken en op 1 April 1955 besluit die departement van nasionale opvoeding dat die nou bekende skool in Kimberley na dokter Elizabeth Conradie vernoem moet word.
Dorothea Carolina, gebore op 13 November 1874 en is ook as suigeling oorlede.
Dawid Gideon (Dawie), (Johan en Dawid se oupa) is gebore op 11 Augustus 1876. Hy het ook ‘n loopbaan in die onderwys gevolg en was onder andere onderwyser op Hopefield en Carnavon en later skoolhoof op Laingsburg waar hy afgetree het. Hy is getroud met Margaretha Johanna Viljoen van Caledon wat saam met hom onderwys op Carnavon gegee het. Hy is in 1939 oorlede.
Christina Johanna (Tinie), gebore op 25 Desember 1878. Sy was ook in die onderwys en was later skoolhoof van die oranje meisieskool in Bloemfontein. Sy was getroud met eers Johann Orlando Walter en daarna met Francois Pieter Stephanus le Roux. Sy is in 1946 oorlede.
Wilhelmus Ruthven (Willie), gebore op 18 Augustus 1882. Hy het na die Transvaal verhuis en was winkelklerk op Bethal. Hy is getroud met Maria Bedeker.
Margaretha Elizabeth (Mollie), gebore op 16 Januarie 1885. Sy was ‘n assistente aan die meisieskool te Riverdale en is ongetroud in 1933 oorlede.
Dorothea Carolina (Dollie), gebore op 19 Februarie 1887. Sy was ‘n onderwyser in die strand en is getroud met Lyn Lycett.
Gertruida Elizabeth (Lily), gebore op 24 Julie 1889. Sy was ‘n onderwyseres op Stellenbosch en is getroud met Abraham Julius van Velden, die eienaar van die bekende wynlandgoed, Overgaauw waar die van Veldens steeds wyn maak.
Anna Susanna (Anna), gebore op 15 Junie 1892. Sy was ‘n onderwyseres in die Transkei en is getroud met Pieter Melt van der Spuy. Hy was later prinsipaal van die verbeteringskool in Tokai.
Louis Harmans (Louis), gebore op 15 Junie 1892. Hy het op die spoorweë gewerk te Beaufort-Wes en is getroud met Frances Smith.
Martha Jacomina Catharina (Mattie), gebore op 5 Oktober 1893. Sy was ‘n onderwyseres op Boshof en is getroud met Jacobus Ignatius Heyns.
My laaste jare het ek in die Paarl deurgebring, ses maande om die beurt by my dogter Tinie le Roux wat getroud was met Francois le Roux van die plaas Sorgvliet, Paarl en my dogter Lily van Velden wat met Abraham van Velden van die plaas Overgaauw, Vlottenberg getroud was. Ek het dus die voorreg gehad om my van Velden en le Roux klein en agterkleinkinders van harte te leer ken en was bevoorreg om my laaste jare by hulle te kon deurbring.
Ek is dan ook in 1929 in die Paarl oorlede en is te ruste gelê langs my eggenote in die begraafplaas op Laingsburg, gelukkig in die gedeelte wat nie deur die vloed van 1981 vernietig is nie en ons grafstene is nog ongeskonde.
Indien u meer van my te wete wil kom – my lewensverhaal is op Woensdag, 8 September 1915 onder die opskrif “’n boere skoolmeester van die ou dae” in die koerant, “die burger”, gepubliseer en is ook later in die boekie “sketse uit die boerelewe” deur dominee W.J. Conradie, opgeneem.
Mag u as lede van die genealogiese genootskap ‘n baie geseënde Kersfees, saam met u families beleef en mag 2014, die feesjaar van die genootskap, vir u vol vreugde en nuwe ontdekkings aangaande u voorgeslagte wees.
Dankie dat ek my verhaal met u kon deel en ek wil u graag uitnooi om ook vir lede van u voorgeslag te nooi om hulle lewensverhale met ons te kom deel.  Ek kan u verseker dat ons ou klomp sit in afwagting om genooi te word om ons lewensverhale en geskiedenis met u te kom deel – praat net.


Goeie middag, lede van die noord transvaal tak van die genealogiese genootskap van suid-afrika

Ek is dawid gideon fourie, die seun van barend le roux fourie en gertruida christina, gebore conradie en is die broer van u tesourier, johan fourie.

Johan het my gevra om my en sy oupagrootjie, dawid jacob gideon conradie, ook alom bekend as oupa met die doek, wie se naam ek met trots dra, by hierdie geleentheid aan u voor te stel.  Johan het oupa dawid uitgenooi om sy interessante maar ook bewoë lewensverhaal vandag met u te deel.

Ek stel dan met graagte oupa dawid aan die woord.