JULLE HET HAAR GEKRY!!!    
-    Bydrae deur Sam J Basch,  Redakteur, NTvl-tak Nuusbrief)
Met drie uitroeptekens het Jodi Cameron, ‘n inwoner van Kanada, haar vreugde “uitgeroep”.  Dit het gevolg op die resultaat van ‘n soektog na die graf van haar groot-tante wat vermoedelik in Pretoria begrawe is. Hierdie roerende verhaal het ontvou in ‘n reeks e-posse, wat so (in Engels) begin smart grafsteenhet:
“Hierdie is ‘n navraag op e-pos via http://www.genza.org.za/ van:?Jodi Cameron. Hallo!? Eerstens, wil ek net sê julle span het ‘n verstommende werk gedoen om die grafte in Suid-Afrika te dokumenteer.  Ek is deur almal van hulle in die gebied waarin ek belangstel, en dit was maklik om te navigeer, ongelooflik goed gefotografeer en deeglik gedek…”
Sy het probeer om van haar familie, van Skotse afkoms en wat vermoedelik in Pretoria in die 1970s oorlede is, op te spoor.
Peter and Beverley Moss wat die eGSSA-begraafplaasprojek bestuur, het haar om meer inligting gevra en ook navraag gedoen of Jodi toegang tot die begraafplaas-DVD het.
Sy het nie, maar sy het genoem dat sy “net op die webwerf afgekom het en dit vandaar af geneem het.” Byna onmiddellik het Peter Moss vir haar inskrywings vanuit die DVD-data gestuur wat min of meer ooreenstem met haar soeke en bygevoeg:
“Ons het ook:  Smart, Janet Bryce ?Born:  1885 ?Died: 14 Aug 1956 ?Buried: Rebecca Street Cemetery, Pretoria, District Pretoria, Gauteng, RSA.  Note:  Janet Bryce Smart Graf 18559.  Died aged 71 years.”
Dis toe dat Jodi besef haar soektog is verby:“Beste Peter en Beverly!!!  Julle het haar gekry!!!  Sy is Janet Bryce Smart;  die middelste inskrywing!!  Baie dankie!!  Rebeccastraat is een van die eerstes waar ek gesoek het, maar vir een of ander rede moes ek haar gemis het...  My tante, Janet se naamsaat, sal so verlig wees om te weet waar haar tante rus. 

Baie, baie dankie vir julle hulp hiermee.  Dit beteken die wêreld vir my, want my tante Janet Bryce (my moeder se suster) is nou 91 en gesondheidsgewys baie verswak.  Ek wens so ek kon julle ‘n drukkie gee!!!”
In opvolg-korrespondensie het Peter en Beverley verduidelik dat die woord “graf” die Afrikaans vir “grave” is, wat in hierdie konteks verwys na die grafnommer.  Hulle het ook verduidelik dat alle inskrywings op eGSSA se DVD onder die nooiensvan geïndekseer is, waar dit bekombaar is.  In die begraafplaasregisters word getroude vanne gebruik.
janet bryce morris nee smart c 1931.jpgOns besef nie altyd die waarde van ons begraafplaasprojek nie.  Hier is Jodi se gewaarwording:  “Dit is baie interessant (en slim) dat julle waar moontlik volgens nooiensvan indekseer, want dit kan andersins verwarrend raak.  Ek is so beïndruk deur julle projek en wens alle lande het ‘n soortgelyke proses in plek.  Ek het maar onlangs die waarde van begraafplase en die opteken daarvan begin besef (en ek glo nie ek kan selfs die geweldige omvang van die projek enigsins begryp nie).  Dit is so lekker om te sien julle s’n is so goed gedokumenteer, mooi gefotografeer waar toepaslik en so weldeurdag bestuur deur mense wat werklik omgee.  Ek was so baie gelukkig om julle te kry aan die antwoordkant van my (taamlik desperate) e-pos en ek glo dis blote geluk wat hier betrokke was.  Julle en jul kollegas het oënskynlik alles deeglik onder beheer!!!  Weer eens, baie, baie dankie!!  Ek kan nie wag om my tante te bel en te laat weet nie.?Met groot waardering,??Jodi :)”
Hierná het eGSSA se versoek aan die Noord Transvaaltak gekom om te help met fotografering van die grafsteen, indien een bestaan, of dan ten minste die graf.
NTvl se Oktober-nuusbrief, waarin die versoek gepubliseer is, het beswaarlik die lede bereik toe sommiges na die Rebeccastraat-begraafplaas gehaas het.  Dirk van Heerden, Ludwig Döhne en die Northalls het onafhanklik van mekaar foto’s van die graf en grafsteen gaan neem.  Dit is per e-pos vir Jodi gestuur, waarop Peter Moss geantwoord het:
“Dis fantasties, ons waardeer regtig julle moeite!  Die hele NTvl-span is net wonderlik!  Ek sien van die onderstaande boodskap dat julle die inligting vir Jodi gestuur het…  Sy sal so bly wees.  Baie goeie wense en baie dankie.”
Om ‘n laaste hoofstuk in hierdie roerende verhaal in te sluit, het ons van die geskiedkundige agtergrond wat Jodi gestuur het, opgesom: Gebore in 1885 in Kinghorn, Skotland, as een van drie kinders, het Janet vermoedelik in Edinburgh gaan studeer om ‘n  "vroue-apteker" te word waarná sy by ‘McLean’ in Kinghorn se hoofstraat gaan werk het.  Dit moes uitsonderlik gewees het vir ‘n vrou om daardie jare ‘n apteker te wees.  In 1908 is sy met Annan Morris getroud, wat in 1919 oorlede is, waarná Janet na Suid-Afrika verhuis het.  Volgens anekdotiese verslae het sy as "superintendent by ‘n seunskool" in Pretoria gewerk. [Dirk van Heerden het vasgestel dit was Pretoria Boys High].
Sy is volgens ‘n brief van Marge McIntyre, ‘n goeie vriendin van Janet, op 14 Augustus 1956 oorlede, skynbaar ná ‘n kort verblyf in ‘n Johannesburgse hospitaal en terwyl sy by die Jim Napier-gesin aan huis aangesterk het.
Jodi is van mening die McIntyres se adres was Reitzstraat 461 in Pretoria, maar sy kon niks meer van van hierdie gesin of die Napiers uitvind nie.  Sy voel Janet Bryce Smart was nogal ‘n besielende mens wat heelwat van die aanvaarde sosiale norme van haar tyd uitgedaag het.  “Ek kan nie help nie as om te dink dat ‘n vrou wat so lewenslustig en vasberade was vir baie mense in Pretoria belangrik moes wees,” skryf sy.  “[Diegene] wat dalk meer kon weet, is lankal nie meer daar nie.  Nou egter, is ek so geseënd om te weet daar is mense daar ver wat gaaf genoeg is om my tog bietjie meer te help uitvind.”
Enkele dae later stuur Jodi nog ‘n e-pos met ‘n foto van Janet Bryce Smart wat vermoedelik rondom 1931 geneem is, waarin sy skryf:  “Dis heerlik om ‘n gesig by die naam te plaas;  dit is regtig tog so ‘n bietjie ontroerend.”  
Wat ‘n gepaste uitdrukking waarmee ons hierdie baie interessante soektog kan afsluit.