Bets Terblanche
My soektog is na die oorsprong van my Oupagrootjie aan moederskant. My oupa se van was aanvanklik Warrenton – vir die kinders Warmtoon! Iewers het daar ‘n storie ontstaan dat Oupa ‘n skipbreukeling was wat deur ‘n Afrikaanse familie aangeneem is – met ‘n sussie en boetie wat deur twee ander gesinne aangeneem is. Oupa het nog kontak met sy sussie, Sannie, gehad.
Toe oupa se oudste seun in die Kaap (?) gaan soek het vir inligting, het hy teruggekom met die bewering dat die van ‘Wartington' moet wees en dat daar familie uit Engeland in ‘n stadium kom soek het na moontlike oorlewendes, maar niemand kon vind nie. Al die betrokke kinders het toe Wartington geword. Dit klink mos interessant en kan selfs dui op moontlike erfporsies!
Al hierdie verkeerde persepsies het my soektog geweldig belemmer. In die 1986-kieserslys was alle Wartingtons my oupa se nageslag! Toe ek my ouma (Du Toit) se huweliksertifikaat by Ladismith vind, kon ek duidelik sien dat haar man se van as WORTINGTON aangedui is en dit het my die idee gegee dat dit moontlik Worthington kon wees. My eerste deurbraak!
By die publikasie van SAG se W-boek het ek gevind dat al die ou oorlewerings verkeerd was. My oupa was beslis nie ‘n skipbreukeling nie, want ek het sy pa se huweliksertifikaat gevind: William John WORTHINGTON x Martha Johanna CORDIER – albei van Gamkaskloof. Wat ‘n deurbraak!!
(Baie interessant: In die huwelik bevestig deur Ds J H Neethling, my strooimeisie se Oupagrootjie en stigter van Stellenbosch se moederkerk!).
Hulle het vier kinders gedoop, drie dogters en ‘n seun: my Oupa. Op die doopsertifikate baie duidelik aangedui as Worthington! Die tweede

{module Bets Terblanche}
dogter was Susanna Johanna Mathilda (Sussie Sannie!) en sy was 14 jaar ouer as my Oupa, Jacobus Cornelius!
Aangesien Oupa blykbaar niks van sy ouers onthou het nie, het my soektog toe verskuif na Tant Sannie. Ek het haar huweliksertifikaat op die Mikrofiche begin soek vanaf ouderdom 14 jaar en wou net moed opgee toe ek sien sy is eers op 36 met ‘n wewenaar getroud, naamlik met Jacobus Christiaan PRETORIUS (s.v. Johannes Matthys) op Ladismith in 1890. Deurbraak, want ek het nog ‘n bron van inligting gevind – het ek gedink!!
Hulle het nog drie kinders gehad, die laaste Willem Johannes, m.a.w. vernoem na William John. Nie een van my oupa se kinders is na sy ouers vernoem nie! Die groot hoekom???
Maar dis waarom ek nou by die Pretoriusse wil hoor of Tant Sannie iets van haar pa aan haar nasate oorgedra het – dis een van my laaste opsies!
Ek kan noem dat ek in Gamkaskloof, Prins Albert, Calitzdorp (waar haar man begrawe is) oral rond verneem het – tot by die Ouetehuise! Ek was op die rekenaar met allerhande adresse, het e-posse en briewe geskryf aan etlike genealogiese verenigings in Engeland. Almal kom met beloftes terug, maar geen inligting!
Dan was ek in Engeland (te kort) waar ek in die ‘Parish Registers' gesoek het na sy doop, maar ongelukkig gee hulle net die eerste naam en daar is letterlik honderde William Worthingtons in sy tyd gedoop, vanaf Skotland tot Cornwall! Ek was by twee Worthington-dorpe, ‘n Worthington-meer, Worthington Hall en ‘n kerk waar die oorspronklike Edvard Worthington begrawe is. Maar twee weke was te min, dalk selfs twee jaar!! Ek is daar weg met ‘n keuse vir my Oupagrootjie, tussen ‘farmer', ‘bigamist', ‘convict', ‘pastor' of Lord!!
O ja. ook met ‘n blikkie Worthington-bier – ellendig sleg!
Tans is daar nog een ander opsie. Daar is begin met Worthington DNS-toetsing in Amerika en ‘n kleinnefie het ingewillig om sy DNS te laat doen, maar kom ook nie sover nie!

Ek doen veral ‘n beroep op die Pretoriusse en Cordiers vir die GROOT deurbraak!!