DNS (oftewel DNA in Engels) is sekerlik die vinnig groeiendste area verwant aan Genealogie en tog is daar verskeie genealoë wat nog nie lekker weet hoe dit werk en wat dit alles behels nie. Nou die dag het Rassie bv interessante inligting rondom die Coetzer (Kutzer) stamvader gedeel en ook genoem dat DNS heel moontlik van die vrae rondom sy herkoms sou kon aanspreek, maar hoe gaan mens te werk met so iets?
Ek het daarom gedink dit sou dalk van hulp kon wees indien ek my persoonlike ervaring van DNS met julle te deel en dit doen ek nou hier. Wat die tydsberekening natuurlik nou nog beter maak is die feit dat FTDNA op die oomblik afslagte op baie van hul toetse beskikbaar het tot 31 Desember.
Die eerste stap vir enige belangstellende sou egter eers wees om te besluit wat presies jy graag te wete sou wou kom oor jou gene. Die toets self is 'n eenmalige wang "swab" soos wat mens in die CSI tipe programme sien. FTDNA pos die toetsstelletjie met twee toetsbuise na jou toe, jy vee hulle oor die binnekant van jou se wang twee oggende in 'n ry en pos dit eenvoudig terug. Enige verdere toetse word uit dieselfde monster geneem so 'n fisiese "swab" hoef nie weer gedoen te word later nie..

Hier is dan nou 'n uiteensetting van hoe ek persoonlik al van hierdie interessante nuwe veld gebruik gemaak het. 

Mens kry basies 3 tipes DNA toetse:

  • Y-DNS  - wat slegs van vader na seun oorgedra word en dus lekker saam met vanne loop (Dus slegs op mans van toepassing)  
  • Mithochondriese mtDNS - wat van moeders na al hul kinders oorgedra word (albei geslagte kan hierdeur hulle direkte moederlyn se herkoms bepaal)
  • Autosomale atDNS - Hierdie "Family Finder" toetse toets letterlik honderde duisende SNP's vir DNS ooreenkomste met ander mense oor al 'n mens se genetiese lyne (ook beskikbaar vir beide geslagte).

Y-DNS

My Y-DNS is in die I2 Haplogroep (I-M223, Z78+) Haplotipe wat sy episentrum in Noordwes-Europa het. Ongeveer in die area van die moderne Friesland, Denemarke en Nedersakse. Die Haplogroep word met Vikings geassosieer en is dus ook volop in die Britse Eilande, Normandië, Rusland en alle ander plekke waarheen die Vikings gevaar het. (Sien http://www.eupedia.com/europe/Haplogroup_I2_Y-DNA.shtml vir meer inligting oor hierdie oer-wortels)

Aangesien daar net een STRAUSS uitgekom het Kaap toe, sou mens veronderstel dat alle voerders van hierdie van in SA dan ook almal in die I2b1 groep sou val. Helaas, van die ses toetse wat reeds gedoen is, is drie wel I2b1, maar die ander drie is R1b1a2, by verre die mees algemene Wes-Europese Haplogroep. (Sien http://www.eupedia.com/europe/Haplogroup_R1b_Y-DNA.shtml vir meer inligting oor hierdie groep se oer-herkoms)

Sover stam al drie I2 persone van die stamvader se jonger seun af en die R1 mans op hul beurt van die ouer seun. Nog toetse word dus benodig om met meer sekerheid te kan probeer vasstel wat Georg Friedrich STRAUSS (1697 - 1749) s'n uiteindelik was. My Y-DNA Strauss projek kan besigtig word by: tinyurl.com/strauss-project.  

Verder het ek ook 'n Y-DNS Projek begin vir ons Stamvaders en die deelnemers wie se uitslae al uit is, kan hier gesien word:

tinyurl.com/Kaaps-Hollands-stamvaders. Vrouens wat hul Vaderslyne wil ontleed moet natuurlik iemand in die direkte manlike lyn kry om te toets soos pa, broer of neef aangesien hulle nie self oor Y-DNS beskik nie.  

'n Basiese 12-merker Y-DNA toetse kan vanaf $59 gedoen word, maar FTDNA bied tans soesiale aanbiedings aan en sommige van hul meer omvattende toetse soos die 37 en 67 merker Y-DNS toetse kan tot ende Des teen ongeveer 25% minder laat doen word....(See https://www.familytreedna.com/group-join.aspx?&group=CapeDutch&vGroup=CapeDutch).* 

mtDNS

My direkte vroulike lyn (moeder se moeder se moeder, ens) eindig by Geertruij WILLEMSZ, gebore in 1651 in Zaandam, NL wat my Oumagrootjie se Oumagrootjie se Oumagrootjie se Ouma was. My mtDNS Haplogroep (H) ondersteun hierdie gedokumenteerde geskiedenis aangesien dit dan ook die algemeenste Europese mtDNS Haplogroep is met 'n episentrum in Wes-Europa.

In die Seven Daughters of Eve word hierdie groep Helena genoem. . (Sien http://en.wikipedia.org/wiki/Haplogroup_H_%28mtDNA%29 en http://www.eupedia.com/europe/Haplogroup_H_mtDNA.shtml). Die Kaaps-Hollandse DNS Projek sluit nou ook die mtDNS uirslae van deelnemers in en die Stammoeders van ons wat reeds deel van die Projek is, kan hier gesien word: tinyurl.com/Kaaps-Hollands-stammoeders

'n mtDNS toets kan vir $69 bestel word, tans bied FTDNA ook die mtFull Sequence toets aan teen 'n $30 afslag, oftewel $169. (See https://www.familytreedna.com/group-join.aspx?&group=CapeDutch&vGroup=CapeDutch).. (https://www.familytreedna.com/group-join.aspx?&group=CapeDutch&vGroup=CapeDutch).

Autosomale DNS

Aangesien die Autosomale DNS van beide ouers geërf word, verskaf dit skakels na al mens se voorouers. Hoe groot of klein enige spesifieke verwantskap is, hang maar net af van die "luck of the draw". FTDNA se FF analiseer ongeveer 700,000 SNPs oor 22 chromosome en verskaf dus 'n baie handige manier om mens se papier genealogie te bevestig (of te verbeter :). Ek het onlangs byvoorbeeld 'n RADEMEYER agter-agter-kleinneef (een maal verwyderd) in die VSA opgespoor. Beide ons takke kom oorspronklik uit die Langkloof uit, maar waar myne van daar na die Molteno omgewing uitgewyk het is syne eers Rhodesië toe en van daar via Engeland na die VSA..

Ek en hierdie nuutgevonde "neef" stam beide van Cornelis RADEMEYER (1766-1843) af en dit is werklik ongelooflik dat ek en hy 'n redelike stewige deel van ons 17de Chromosoom deur middel van hierdie man, wat so lank terug geleef het, deel. Cornelis was toevallig die vader van Kommandant Jacobus Ignatius RADEMEYER, die held van Trompetterspoort. Daardie DNS in my are het dus ook deur syne gevloei toe hy op 9 Maart 1835 sy manskappe in 'n heldhaftige stryd om oorlewing gelei het teen 'n groot Xhosa oormag...

Mediese Inligting

Alhoewel FTDNA nie self mediese ontledings maak nie, stel hulle wel die rou data aan jou vry wat mens dan in staat stel om deur middel van gratis derde party programme - soos Promethease  - die ontleding self te doen

Uit letterlik honderde interessanthede het ek bv onder andere uitgevind dat ek gene het wat geassosieer word met: 

  • 'n uitsonderlike lang lewensverwagting
  • kleiner kans vir borskanker
  • kleiner kans vir Alzheimers
  • groter kans vir nikotienverslawing
  • kleiner kans vir kokaien verslawing
  • slegter 'hangovers'
  • 'n blas Europese vel
  • die sogenaamde "warrior" geen (wat mens help om gevaar situasies beter te antisipeer en analiseer) 
  • 'n goeie klomp neanderthal SNPs!
  • ens, ens

Herkoms ontleding

Verskillende ontledings kan gedoen word, maar die een wat ek hier weergee is nogal goed vir ons Afrikaners met ons wye herkoms. Volgens hierdie een sien my genetiese herkoms so daaruit:

Noord-Europees                  64.31
Suid-Europees                    16.99
Oos-Europees, Gedrosia       12.90
Afrika                               2.28
Suid-Asië                          1.61
Oos-Asië                           0.76
Siberië                              0.74
Australasië                         0.40

Interessant dat wanneer ek my Afrika komponent verder opbreek, ek Sentraal Afrika Pygmy, Suider-Afrikaanse Khoisan en Oos-Afrikaanse Bantu kry...

Die atDNS toetse, oftewel die sg Familiy Finder toets van FTDNA se koste is reeds verlaag tot $99, maar as deel van die vakansie aanbieding kan dit teen $89 bekom word. (https://www.familytreedna.com/group-join.aspx?&group=CapeDutch&vGroup=CapeDutch)

Vir diegene wat in al drie tipes toetse belang sou stel geld groter afslagkoerse soms, afhangende van die betrokke kombinasies wat geneem word. Enige toets is beter as niks, maar ek sou aanbeveel dat voornemende toetsers tog oorweeg om iets soos die 37 merker Y-toets, gekombineer met ten minste 'n mtDNAPlus te oorweeg indien finansies daarvoor toe laat ;-) 

Toetse moet deur 'n Projek bestel word* ten einde vir die Projek afslagpryse te kwalifiseer en daarvoor kan hierdie skakel gebruik word: 

https://www.familytreedna.com/group-join.aspx?&group=CapeDutch&vGroup=CapeDutch

Vra gerus as jy meer oor enige aspek hiervan te wete sou wou kom.
Jaco Strauss:
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.