Johan Pottas

JohanPJohan Jacob POTTAS is gebore in die Elizabeth Heim, Windhoek, Namibië op 13 April 1961, een van 5 kinders van wyle Johan Jacob POTTAS (Skerf) en Elizabeth Mathilde POTGIETER (Lilli) van Windhoek. Hy is een van vier oorlewende kinders en die enigste oorlewende seun, ‘n ouer broer is as baba oorlede. Hy gaan skool in die Laerskool Eros, Windhoek en in die Hoërskool Windhoek. Is hoofseun op laerskool en leerlingraadslid op hoërskool, verwerf SWAAIKS kleure in atletiek, gimnastiek. Speel hokkie vir skool se eerste span.
Na skool doen hy diensplig. Hy studeer aan die Universiteit van Vrystaat behaal B Com en B Com(Hons) (Kapitale investering. Artikel vir 2 jaar as ouditeursklerk, werk as professionele fotograaf vir 2 jaar, werk by Pick n Pay as bederfbare voedselbestuurder vir 8 jaar en die laaste 26 jaar vir die Universiteit van die Vrystaat in verskeie hoedanighede, tans (2014) as sekuriteitsbeampte vir die PeopleSoft rekenaarstelsel.
Hy is getroud in die KOVSIE NGK, Bloemfontein op 21 September 1985 met Eureka Dannhauser SMITh gebore in die verplegingskliniek op Edenburg, Vrystaat op 26 Februarie 1961, dogter van wyle Gert Hendrik Dannhauser SMITH en Maria Elizabeth BOTHA (Mary). Sy het groot geword op Trompsburg, Vrystaat, studeer aan die Universiteit van die Vrystaat.
My belangstelling in genealogie kom al ‘n baie lang pad, as kind was ek die een wat gedurig die familie stories oor en oor wou hoor. Dit het na skool ‘n stokperdjie geword om op skoue die stalletjie met familie wapens onderstebo te loop, want hulle kon nooit my vrae antwoord oor die van POTTAS nie! Ek het elke keer gesê ek sal slegs betaal as hulle my iets oor die van kon vertel. Maar ernstige belangstelling het so in 2001 begin, toe ek besef het, die geslag voor my is besig om almal uit te sterf en met hulle saam al die wonderlike stories en inligting. Teen 2003 het ek die POTTAS lyn uitgesorteer gehad en toe het my moeilikheid met my ander voorsate begin. Die een het tot volgende gelei en vandag doen ek aktief navorsing op meer as 80 verskillende vanne in hul geheel.

  • Hits: 6705