Weskaap, FRANSCHHOEK, Nederduitse Gereformeerde Kerk
So paar hoogtepunte uit hulle baie netjiese R5 pamflet: Tot 1845 is daar op die plaas Champagne rook gemaak wanneer 'n dominee op besoek in die vallei was. 'n Replika van die rook-altaar is in 1988 in die kerktuin opgerig. Die Franschhoekse gemeente het op 21 Februarie 1845 afgestig -- destyds as die 18ste NG gemeente in die land. Teen 1847 is die eerste van die huidige kerkgebou in die neo-gotiese styl gebou volgens die Episkopaalse kerkgebou in Kaapstad. Die kerkraadsnotules bevat slegs enkele skaaltekeninge deur Martin Türk, maar geen bouplanne nie. Die kerkgebou was oorspronklik 'n eenvoudige langwerpige saal sowat 84 voet lank, 35 voet breed en 17 voet hoog. Die sowat 150 000 baksteneis op die Franschhoekse meentgrond gebrand. Die dak is gedek met rogstrooi afkomstig van Paardeberg. 'n Plafon is eers teen 1860 aangebring. Ds GWA van der Lingen van die Paarl het die inwydingspreek op 18 April 1847 in die nuwe kerkgebou gelewer. Ondanks 'n baie groot opkoms -- die kerkgebou en konsistorie kon nie al die kerkgangers huisves nie -- was die kollekte vir die dag slegs 18 pond. Dit was 'n groot teleurstelling vir die kerkraad aangesien die bouskuld die reuse bedrag van 250 pond beloop het. Vir die sowat 190 Franschhoekse lidmate is hierdie aansienlike las eers 10 jaar later afgelos. ... Die huidige klok is in 1855 aangekoop en na 'n aansienlike twis in die gemeente oor die beste plek om dit te hang, is die kloktoring gebou waar dit nou staan. ... Die huidige kerkbanke is eikehoutbanke wat in 1927 uit Engeland ingevoer is. ... In 1883 is die gebou vergroot deur die aanbring van die twee vleuels om die huidige planvorm van 'n Griekse kruis te vorm. Die nuwe dakbalke was van populierbome en die plankplafon is geverf. Die strooidak -- altyd 'n brandgevaar -- is met sinkplate vervang. Twee gietyster kandelare, waarvan een nou in die voorportaal van die kerksaal hang, is in 1885 deur Gideon Hugo geskenk. Die kiaat-preekstoel is in 1895 deur die egpaar Hugo geskenk. ... In 1948 is die blaasbalk-trapper uiteindelik deur 'n elektriese waaier vervang en in 1958 is die orrel volledig onder die bekwame toesig van Gawie Cillié herbou. Tydens die restourasie van die kerkgebou in 1968 is die konsole verskuif na die gallery bokant die hoofingang tot die kerkgebou. ... In 1968 is die kerkgebou breedvoerig gerestoureer. Op 'n stadium het slegs die oorspronklike mure van 1847 en 1883 nog bly staan! Die bouwerk is uitgevoer deur Jan Roux ('n lidmaat). Die dakwerk bestaan uit gelamineerde dakbalke van bloekomhout afkomstig van Driefontein en die plafonplanke is dennehout afkomstig van die La Motte-plantasies. Die kandelare in Belgiese styl is in Kaapstad gemaak. Die sinkplaatdak is met 'n dekrietdak vervang. Die plaveiklip van die looppaadjies is soortgelyk aan dié by die Hugenote-monument. Die gebou, grond en ringmuur is in 1972 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die dekrietdak is in 1992 danksy milde ondersteuning van die Franschhoek Trust hernu. GPS Koördinate / Co-ordinates: Google Earth Koördinate / Co-ordinates: Bron / Source:
Not yet rated