Ontmoet die Families Cellier, Celliers, Cillié en Cilliers
Potchefstroom Herald 13 Augustus 2015
Die oudste dokument wat dusver vir die stamouers Josué Cellier en Elisabeth Couvret teëgekom is, is hul huweliksregister – hulle is 31 Maart 1700 in Delft, Nederland getroud. Albei was afkomstig van Orléans, Frankryk, maar min is bekend oor hul Franse herkoms omdat die argiewe van Protestantse gemeentes van Orléans tydens die Tweede Wêreldoorlog vernietig is.
Hulle seil 2 Mei 1700 vanaf Goeree, ‘n Suid-Hollandse eiland, en kom 21 Augustus 1700 in die Kaap aan.
Tot ten minste 1709 woon hulle op Het Kruys Pad (huidige Brackenfell) en verhuis vandaar na Orléans in die Paarl (huidige New Orleans en Charleston Hill). Hier word sowat 8 000 wingerdstokke verbou;, wyn en brandewyn word geproduseer; sowat 100 skape en 20 beeste word aangehou, terwyl koring en rog ook gesaai word.
Die stamouers het 11 kinders gehad, 5 seuns en 6 dogters. Slegs 2 van die seuns, Jan en Abraham, het ‘n nageslag wat die familienaam voortdra as Cellier, Celliers, Cillié en Cilliers.
Na die stamvader se dood in Oktober 1721, hertrou die stammoeder met Paul Roux. Hulle kon nie lank getroud gewees het nie aangesien hy in Februarie 1723 oorlede is.
Sy hertrou nie weer nie en gaan voort met die boerdery op Orléans tot haar dood (ongeveer 1743). Jan besit toe reeds sy eie plaas Druiwevallei (Wellington-omgewing), Abraham trek met sy vee oor die berge na die leningsplaas Hessakwaskloof (Bonnievale-omgewing) en hul jongste broer Pieter neem die boerdery op Orléans oor. Pieter verkoop Orléans in 1788 aan Anna Minnaar, skoondogter van hul suster Magdalena, en daardeur gaan Orléans uit familiebesit.
Jan se seuns (2de geslag):
Jan en Josua Charl, beoefen hoofsaaklik wingerd- en wynbou op Kykuit (Paarl).
Abraham se seuns (2de geslag):
Twee seuns beoefen ‘n gemengde boerdery (windgerd, wyn, vee en gesaaides); Abraham op Roodehoogte (Robertson) en Josua Pieter op Takapsvlei (McGregor). Sy derde seun Gabriel ‘verdwyn' na sy huwelik in 1789.
Jan se kleinseuns (3de geslag):
Uitgesluit een kleinseun wat in 1806 van die Paarl na Graaff-Reinet verhuis, woon sy ander kleinseuns in die omgewing van Paarl en Wellington.
Abraham se kleinseuns (3de geslag):
Hulle woon in die omgewing van Barrydale, Bonnievale, Montagu, Robertson en Worcester. Hier ‘verdwyn' nog ‘n nasaat: Jacobus Stephanus, sy vrou en twee seuns. Sy naam verskyn nog in 1851 in die lidmaatregister van die Ladismith-gemeente, met ‘n latere ongedateerde nota dat hy na Elders vertrek het.
Nou begin van Jan en Abraham se agter-kleinseuns die Kaap Kolonie verlaat.
Jan se agter-kleinseuns (4de geslag):
Hierdie geslag bly meestal nog in die omgewing van Graaff-Reinet, Paarl en Wellington, maar begin versprei: Colesberg, Hanover, Malmesburg, Piketberg, Richmond, Riebeek-Wes en Tulbagh. Twee nasate verlaat die Kaap Kolonie en vestig hulle in die Vrystaat (Lindley en Senekal): Sarel Arnoldus in 1836 as deel van die Groot Trek en sy oudste broer Jan Daniel kort daarna.
Abraham se agter-kleinseuns (4de geslag):
In die Kaap Kolonie vind ons hierdie geslag meestal in die omgewing van Barrydale, Ladismith, Montagu, Prins Albert, Swellendam, Robertson en Worcester. Diegene wat die Kaap Kolonie verlaat, vestig hulle in die Transvaal (Lichtenburg, Potchefstroom en Potgietersrus) en Vrystaat (Bethlehem en Kroonstad).
5de manlike geslag:
Jan se nasate is tussen 1807 en 1862 gebore, Abraham s'n tussen 1831 en1885. Hierdie nasate beleef geskiedkundige gebeure wat hul verspreiding beïnvloed, o.a. die ontdekking van diamante en goud in die laat 1800's en die Anglo-Boereoorlog met die draai van die eeu.
Die 5de geslag is die eerste geslag waar nasate buite ons landsgrense teëgekom is – die meeste in Suid-Wes Afrika (Nambië) en enkeles in Noord-Rhodesië (Zambië).
[Saamgestel deur Mariana Olivier (
- Hits: 6776