Archive Crawl

 Die Gauteng Archive Crawl is nie teenstaande allerlei Korona-beperkings suksesvol en met geesdrif afgehandel.

GSSA library
Om mee te begin, het ons in GGSA en die Noord-Transvaaltak se biblioteek, gehuisves by die Erfenisstigting (ES) op die terrein van die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria gekuier.  Die doel was om eers na sekondêre bronne te kyk.  Dit gee beginners ʼn idee wat reeds i.v.m. familienavorsing gepubliseer is.  Uit dié bronne, SAG/SAF en Kerkregisters is met die nodige verwysings afgeskryf.
The oldest christening register of Potchefstroom
Die twee dae daarna was besige tyd in die Nasionale Argief (TAB).  Deelnemers was goed voorbereid en kon die regte dokumente aanvra. Nou het ons met die ware Jakob, nl. met primêre bronne, gewerk. Dis nodig om te noem dat korona-protokol perfek deur die personeel gehandhaaf was.  Hul diens was absoluut doeltreffend.
Omdat ons te laat gehoor het dat die Nasionale Biblioteek (waar ʼn kopie van alle boeke, koerante en die Staatskoerant bewaar word) op Donderdae gesluit is, het ons die gasvryheid van die ES met hul wonderlike leeskamer, rekenaars en behulpsame helpers weer besoek. Ons was ook genooi om deur hul argief te gaan. Daar word ʼn klomp familienavorsing gebêre, bv. oor die Louws en Erasmusse.
GSSA library
Altyd met maskers
Vrydag was ons gas by die Hervormde Kerkargief (HKA).  Ons het geleer dat in die beginjare in die ZAR (later Transvaal) die Afrikaanse Kerke maklik geboue en registers gedeel het.  Dus is dit ʼn waardevolle bron vir al die nakomelinge van die Groot Trek se mense.
Waar daar nie ʼn eetplek beskikbaar was nie, is verfrissende piekniekhappies en drinkgoed voorsien. Hierby is lekker gekuier.
 
Hier volg enkele opmerkings van jul taklede:
Isabel Groesbeek: “Ek is dankbaar vir die geleentheid wat geskep is waartydens ek oor vyf dae op my persoonlike navorsing kon fokus. Ek kon weer dokumente, wat ek jare gelede geraadpleeg het, herbesoek om fynere detail aan te teken. Ek kon ook mede-navorsers tydens gesellige pieknieketes beter leer ken. Baie dankie!”
Nico Doman: ‘’Die leerervaring met die vooraf huiswerk het my goed voorberei om nuwe data te soek.   Een van die groot verrassings was ‘n nuwe spelling van ons van waarop ek by die Nasionale Argief afgekom het.  Ek het ook terselfdertyd op heelwat dokumente afgekom wat nou verdere opvolgwerk vereis – navorsing genoeg tot in die nuwejaar.’’
Jeanne van der Merwe: Ek het reeds al die skeletons uitgekrap nl. dat my ouma ‘n sewemaande baba was. Al wat ek ook weet is dat ek dit altyd interessant vind en dit geniet om saam met GGSA se toerdeelnemers te wees.
Danie Joubert: “Ek het absolute hoendervleis gehad toe ek die 113 jaar oue oorspronklike dokument in my hande kon hou. Stories vertel is fantasties, maar om hierdie dokument en sy storie voor jou te sien is onbeskryflik.”
Christa de Graaf: Dit is en bly ‘n wonderlike ervaring om te probeer uitsnuffel waar mens vandaan kom. Die nuuskierigheid van ‘wie is ek’ word lekker tevrede gestel. Die bekende reuk van ou dokumente en hoendervleis oomblikke is iets om na uit te sien. Verslawend. Dankie aan die toerleier dat jy jou ervaring en kennis met ons deel sodat ons ook eendag op ons eie kan regkom.

 National Archives (TAB)
social distancing in die Nasionale Argief