Vaaldriehoek Stories

Vaaldiehoektak - Ons storiewa

Ons Storiewa verskyn hierdie jaar vir die 11te keer. Dit is die geleentheid wanneer al die tak se lede en nie-taklede ’n bydrae kan lewer om in hierdie publikasie as vertoonkas te wys waarmee hulle as amateur en gesoute navorsers en genealoë besig is.
Indien mens na die publikasies kyk, besef jy baie gou dat dit nie formele, stywe navorsingspublikasies is nie. Dit is sommer net lekker leesstories en staaltjies en dan besef mens die waarde van “Wat is Genealogie?”
      Kliek  vir aflaai
UITGAWE  DATUM  BESKRYWING DOKUMENT
13  2023-13  2023-12 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
12  2022-12  2022-12 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
11  2021-11  2021-11 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
10  2020-10  2020-10 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
9  2020-09  2020-09 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa (special edition)
8  2019-08  2019-08 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
7  2018-07 2018-07 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
6  2017-06 2017-06 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
5  2016-05 2016-05 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
4  2015-04 2015-04 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
3  2014-03 2014-03 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
2  2013-02 2013-02 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
1  2012-01 2012-01 GGSA Vaaldriehoek Ons Storiewa
  • Hits: 1292

'n Ou verhaal en nuwe vriende

Min het ek die dag geweet wat nog alles gaan gebeur toe ek 'n ou, verslete Duitse boekie tussen my oorlede ma se goed gekry het. Sy naam was Tlou! Tlou! Die Elephantensänger von Botshabelo, in 1960 uitgegee deur die Vrye Lutherse Kerk se Sendinggenootskap te Bleckmar naby Hanover in Duitsland. Die skrywer was Friedrich Dierks, die sendeling daardie tyd werkagtig by die Botshabelo sendingstasie op die plaas Putfontein, distrik Lichtenburg.

Die boek is niks minder nie as 'n volledige geskiedenis van 'n Tswana volk, die Batloung. Die verhaal strek vanaf die aaklige, bloedige Matabele oorloë van die 1820s tot by die laat 1950s - maar dit het ek nognie geweet toe ek daardie dag die boekie in my hande gehou het nie. Al wat ek geweet het is dat my Oupa, Johannes Heinrich Gustav Schnell, meer as vyftig jaar lank die sendeling daar was, van 1899 tot in die laat 1940s, en dat my ma op daardie sendingstasie gebore is. Ek het gemeen dat die boek my iets oor my oupa se lewe en werk sou kon vertel, en dat ek dan weer die kennis aan sy kleinkinders en agterkleinkinders sou kon oordra. Om sulke gegewens uit die boek te haal was nie kinderspeletjies nie! My Duits is nie wat wonders nie, en buitendien is die boekie gedruk in daardie ou Gotiese skrif, war 'n s na 'n f lyk, en so aan. Die lettertipe was ook buitengewoon klein. Hierdie sou voorwaar nie 'n maklike stukkie leeswerk wees nie! Ek het 'n bietjie deurgeblaai, en moed opgegee... maar aanhou daaroor dink.

Werk wat ek gedoen het met die transkribering van Grahamstown se doopregisters vanaf foto's het uiteindelik vir my 'n plan gegee: ek het die hele boek inskandeer, sodat ek die bladsye op my rekenaar kon vergroot. Stadig en moeisaam het ek dit toe begin vertaal, woord vir woord en sin vir sin. Aan die begin was ek angstig om by die deel uit te kom wat oor my oupa handel, en het daaraan gedink om al die ander hoofstukke oor te slaan, maar die verhaal wat ontvou het het my vasgevang. Teen die einde van die werk was my Duits so goed dat ek skaars die woordeboek nodig gehad het.

Op 'n dag sit ek toe met 'n volledige boek: Tlou! Tlou! The Elephant-Singers of Botshabelo. Wat om darmee te maak? Ek het afskrifte aan my dogters, my suster, en 'n paar van my neefs en niggies gestuur. Hulle entoesiasme het gewissel van geen (niggies en neefs) tot louwarm (my dogters) tot "Publiseer!" (my suster). Ek het die manuskrip aan elke moontlike uitgewer gestuur, maar nie eers 'n kennis van ontvangs van enigeen gekry nie. Toe besluit ek om die boek self uit te gee, as 'n eBoek op smashwords.com - en dit was 'n goeie idee!

Toe die eBoek eers bestaan, het ek mense daarvan begin vertel. Ek het begin by die missiologie departemente van al die Suid-Afrikaanse universiteite, en hulle het die boek almal met dank aanvaar. Daarna het ek op facebook begin soek na mense wat dalk sou belangstel, en 'n Ramatlabana-groep ontdek. Ramatlabana is 'n stad op die Botswana grens, waar baie van die Batloung vandag woon. Die stam is in 1977 soontoe verskuif, toe die destydse regering besluit het om die "swart kol", Putfontein, tussen Lichtenburg en Ventersdorp, skoon te maak.

Ek het baie van die mense in die Ramatlabana-groep se vanne herken, want daardie selfde vanne het in die Tlou-boek ook voorgekom. Nadat ek 'n skakel na die boek op die groep se webblab geplaas het, het een baie opgewonde leser met my in aanraking gekom.Hophney Makokwe het voorgestel dat ek 'n afskrif van Tlou! aan die Batloung koning, Kgosi Gustav Gobusamang Shole, moes skenk. Dit het vir my na 'n goeie idee geklink, en ek het toe 'n luukse hardeband-uitgawe van die boek laat druk. Voorin is daar 'n persoonlike boodskap aan die babinaTlou van die tans bejaarde skrywer, Friedrich Dierks. Hy het nog altyd gewens dat die mense oor wie sy boek gaan dit self kon lees.

Dit was nie 'n maklike taak om die koning in die hande te kry nie. Ek het ge-Google, die telefoon warmgebel, en eposse gestuur aan elke persoon in elke regeringdepartement wat moontlik vir my 'n leidraad kon gee. Een van daardie eposse het "toevallig" op die skootrekenaar van 'n dame geland wat juis daardie oomblik 'n werkswinkel bygewoon het waar die koning ook teenwoordig was. Sy kon by hom toe dadelik toestemming vra om sy telefoonommer aan my te verskaf. As dit nie so gebeur het nie, sou ek seker nou nog gesoek het!

Kgosi Shole wou graag die boek ontvang, en al woon hy nie te Putfontein nie, het hy daarop aangedring dat die seremonie daar plaasvind, reg waar die sendingstasie voorheen was. Die Batloung nasie het die plaas in 2004 teruggekry. Die plek is afgetakel en verwaarloos, maar daar is planne om dit weer te laat bloei.

Die Batloung is baie gretig om oor hulle geskiedenis en erfenis te leer. Diegene van hulle wat die boek gelees het is almal bly dat hulle daaraan gekom het. Ek is bly dat ek hierdie diens aan hule kon lewer. Dit was vir my 'n eer, en het my diep ontroer, om die trots op hulle gesigte te sien toe die koning van die Batloung - wie se naam Gustav aan my oupa herinner - die boek in sy hande hou.

  • Hits: 979