Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika

GGSA vier sy 50ste bestaansjaar

Die afsluiting van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se viering van sy 50ste bestaanjaar het ’n hoogtepunt bereik tydens die laaste program, wat op 8 November 2014 deur die Vrystaatse tak in Bloemfontein aangebied is. Dié geleentheid is deur die NUK en lede van verskeie ander takke bygewoon. Die program het begin met ’n besoek aan die Naval Hill-planetarium, waar lede op ’n asemrowende visuele reis deur die uitgestrekte heelal geneem is. Die onderskeie sonnestelsels is uitgewys en die gehoor het met verwondering na inligting oor die grootte en ouderdom van die sterrestelsel geluister.

image

Die laaste viering, by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) het getuig van die toewyding waarmee genealoë hul belangstelling uitoefen. NALN bewaar en dokumenteer ’n kosbare literêre versameling wat uit die Nederlandse

image

era in die 17de eeu en die voorkoloniale tydperk dateer. Dit bevat ’n linguistiese mengsel wat die Weste, die Ooste en Afrika verteenwoordig en die lewenskragtige en dinamiese literêre produk van veral die afgelope 100 jaar beklemtoon. Terwyl die gaste ’n glasie sjerrie geniet het, het Otto Liebenberg hulle ingelig oor die rol en belangrikheid van NALN as ’n nasionale

image

bate. Dié instansie is die bewaarder van die grootste versameling materiaal oor die Afrikaanse letterkunde en verwante kunste wat by ’n enkele plek te vinde is. Die museumversameling bestaan uit onder andere boeke, manuskripte, media-uitknipsels, tydskrifte en vaktydskrifte. Sommige van die seldsaamste boeke wat nog in Afrikaans geskryf is, word ook by NALN bewaar, dus bied dit wonderlike geleenthede vir navorsing.

Die tema vir die aand was windmeulens en terwyl die gaste ’n heerlike maaltyd geniet het, het Johan Pottas hulle op oorspronklike wyse vermaak met vertellings oor die geskiedenis van die windmeul, wat deurvleg was met verwysings na bekende Vrystaatse skrywers, soos CM van den Heever, Dot Serfontein, Carl Schoeman en Antjie Krog, asook kort beskrywings van hul afkoms. Twee van dié skrywers het in die skadu van ʼn nederige windmeul grootgeword. Johan het oor verduidelik dat elke windmeul ook sy eie stamboek het.

Die nasionale president van die GGSA het die byeenkoms afgesluit met ’n kort opsomming van die jaar se bedrywighede en het die takke bedank vir hul bydrae tot die reël van byeenkomste van hoë gehalte waartydens die meeste lande van herkoms verteenwoordig was.

imageimageimageimageimageimageimageimageimageimage

Klik op die foto's om te vergroot